Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Strafmaatreël het vernietiging proses geword.


Die Britte se verskroeide-aarde-beleid in die Anglo-Boereoorlog (ABO) het meegebring dat duisende burgerlikes na konsentrasiekampe gebring is waarin uiteindelik tienduisende mense gesterf het.
Die beleid het 'n ontsettende verwoesting tot gevolg gehad waarin, na beraming, meer as 30 000 plase afgebrand is. Die verlies aan kosbare erfgoed, soos antieke meubels, porselein, familie foto's en veel meer, is tot vandag nog 'n leemte in menige familie, skryf Sannette Greyvenstein, navorser van die Oorlog museum, in die laaste artikel oor dié beleid.

IN 'n verdere proklamasie wat lord Roberts uitgereik het, regverdig hy sy optrede deur te sê: ``I should be failing in my duty to Her Majesty's Government and to Her Majesty's Army in South Africa if I neglected to use every means in my power to bring such irregular warfare to an early conclusion . . . the longer this guerrilla warfare continues, the more vigorously must they be enforced.''

Op 29 November 1900 het Roberts na Brittanje teruggekeer en die bevel aan lord Kitchener oorhandig. Roberts was daarvan oortuig dat die oorlog spoedig verby sou wees. Kitchener het besluit om alles in die stryd te werp om die Boere tot oorgawe te dwing.
In Desember het hy 'n algemene memorandum uitgevaardig wat bepaal het dat enigiets wat vir die kommando's van waarde kon wees, vernietig of verwyder moes word. Dit het gelei tot grootskeepse verwoesting voor die voet.

Soldate het van plaas tot plaas getrek en huise afgebrand, gesaaides en oeste vernietig en vee afgemaai. Ook die hutte van die plaaswerkers is afgebrand. Uiteindelik is ook enige ander hut of kraal van swart mense waar Boere moontlik hulp kon kry, vernietig en is die inwoners na konsentrasiekampe weggevoer.
Wat dus oorspronklik as 'n strafmaatreël beoog is, het geleidelik oorgegaan tot 'n algehele vernietiging proses.
Die gevolg was dat huis verbranding nie meer 'n straf was nie, maar 'n doel op sigself.

'n Britse offisier het ná die afbranding van 'n plaas die volgende in sy dagboek geskryf: ``The women, in a little group, cling together, comforting each other or hiding their faces in each other's laps. Mrs B. Breytenbach declared: `There I stood, surrounded by my small children, while the cruel soldiers plundered my property. Furniture, clothing, everything was thrown in a heap and set alight . . . Despite my pleas that I might be allowed to retain a few antiques and heirlooms, they refused to listen.' ''

Nie net plaashuise is afgebrand nie, maar 'n hele paar dorpe soos Lindley, Ermelo en Hartebeestfontein, is byna heeltemal verwoes.
In talle dorpe is die kerke ook afgebrand, byvoorbeeld in Frankfort waar 'n nuwe kerk ná die oorlog gebou moes word.
Die skade aan kerklike eiendom het 'n groot verlies vir gemeentes meegebring en in baie gevalle is selfs die kerkraad notules vernietig.
Plundery is ten sterkste verbied en ingevolge 'n proklamasie wat deur Roberts uitgevaardig is, kon 'n soldaat wat daaraan skuldig bevind is, selfs tot gevangenisstraf gevonnis word.

Offisiere het egter lustig meegedoen en hulself gewoonlik gehelp aan wat hulle graag wou hê. 'n Blinde oog is meestal vir sulke oortredings gedraai.
By geleentheid het een van die lede van Roberts se staf vooruit gery en op 'n Kanadese soldaat afgekom wat met twee vet hoenders wat van sy saal af gehang het, op pad was. Hy is skerp deur die offisier aangespreek en aangesê om die hoenders weg te steek sodat Roberts dit nie sou sien nie. Dit was egter te laat en Roberts het aan die offisier gevra wat die doel van die hoenders was.
Die offisier het die situasie gered deur te sê dat die soldaat gehoor het dat Roberts se voorrade min was en dat hy bereid was om dit vir hom vir aandete te gee. Hy het bygevoeg dat hy die hoenders van 'n nabygeleë plaas van 'n Boer gekry het. Roberts het opgemerk dat dit besonder bedagsaam van hom was en gesê: ``What is your name? I am very much obliged to you.''

Nie alle Britse soldate het die verskroeide-aarde-beleid ewe gretig toegepas nie. Vir sommige was dit 'n straf en ander het selfs geweier.
Verder het sommige Boere hulle ook aan plundery en vernietiging van eiendom skuldig gemaak. In dié geval was dit veral die eiendom van burgers wat oorgegee het, wat onder skoot gekom het.
Die verskroeide-aarde-beleid het meegebring dat duisende burgerlikes na konsentrasiekampe gebring is waarin uiteindelik tienduisende mense gesterf het.
Die beleid het 'n ontsettende verwoesting tot gevolg gehad waarin, na beraming, meer as 30 000 plase afgebrand is.
Die verlies aan kosbare erfgoed, soos antieke meubels, porselein, familie foto's en veel meer, is tot vandag nog 'n leemte in menige familie.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte