Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Vrou hou dagboek van gebeure.


DIE distrik Wodehouse, wat Dordrecht, Swempoort, Rossouw, Clanville, Jamestown en die grootste deel van die Stormberge ingesluit het, was die siel van die opstand in Noordoos-Kaapland in die Boereoorlog.
Die burgers van Dordrecht het in die veld gebly lank nadat die burgers van ander distrikte, wat hul magistrate verdryf het nog voordat kmdt. Jan Hendrik Olivier se kommando op die toneel verskyn het, reeds huis toe gekeer het.
Dordrecht was van besondere strategiese belang omdat dit toegang oor die Stormberge verleen tot die vlaktes wat van Jamestown en Aliwal-Noord lei. In Februarie 1900 het die hoo faanslag op die Suidfront dus verskuif van Stormberg aansluiting na die rebelle vesting in Dordrecht, omdat dit die swak skakel in die Boere se verdedigingslinie was. 'n Deurbraak by Dordrecht sou Gatacre in staat stel om die ganse Boeremag op Stormberg te isoleer en hul terugtog oor die Oranje af te sny.

Die beslissende slae by Dordrecht en Labuschagnesnek het egter byna vergete geraak in die skadu van die Slag van Stormberg. Tog het dié slae die belangrikste bydrae gelewer tot die suksesvolle onttrekking van die Boere aan Noordoos-Kaapland ná die val van Bloemfontein op 13 Maart 1900.
Gelukkig is baie waardevolle dagboeke, oorlog herinneringe en oorlewerings uit Wodehouse vir die nageslag bewaar. Die insiggewende dagboek oor die politieke strominge in die Stormberge in die oorlog is dié van Moetie de Wet, vrou van die parlementslid vir Dordrecht, Ponie de Wet. Sy was 'n nooi Cloete met 'n Engelse agtergrond en van 1820-Setlaar-afkoms, dog sy het heeltemal verafrikaans en haar vereenselwig met die Boere saak.

Dit blyk egter duidelik uit haar dagboek dat sy baie gekant was teen die inval van die Vrystaters in Noordoos-Kaap. Sy het haarself en haar man glad nie as ``rebelle'' beskou nie, dog haar beskrywing van die onreg wat die rebelle aangedoen is, gryp 'n mens aan die hart. Moetie se oorspronklike, vergeelde dagboek in potlood op oefen boek papier geskryf het via die eertydse De Wet-museum 'n veilige bewaarplek in die Aliwal - museum gekry.Ewe waardevol is haar man se herinneringe aan sy aanhouding in die tronke van Aliwal-Noord en Queenstown en uiteindelik in die interneringskamp in Beaufort-Wes. Sy geskrifte oor sy verhoor op aanklag van hoogverraad, sy vryspraak en geldelike ruïnering weens die verhoor lewer insiggewende leesstof oor die rebelle verhore en -straf.

Die volledigste en roerendste beskrywing van rebelle - bedrywighede in die Stormberge is opgeteken in die oorlog herinneringe van Pieter Roux, 'n vurige rebel van die plaas Toomnek, Dordrecht. Hy is kort voor die einde van die oorlog gevang.
Ontnugter, uit sy plaas, brandarm en boonop ontkieser het hy ná die oorlog Johannesburg toe getrek om 'n lewe in die Goudstad te begin. Daar het hy sy herinneringe opgeteken en 'n leidende rol in die Afrikaanse taalbeweging gespeel. Van sy gedigte is selfs in Di Patriot saam met dié van S.J. du Toit en C.P. Hoogenhout opgeneem. As ouderling in die gemeente Johannesburg-Wes en as onderwyser in een van die eerste C.N.O.-skooltjies het hy 'n belangrike rol in godsdiens- en kultuurkringe aan die Rand gespeel.

Sy doodsberig en 'n huldeblyk deur dr. W. Jonker het op 18 Januarie 1956 in Die Kerk bode verskyn. In dié rubriek word ruim van sy herinneringe gebruik gemaak.
En dan is daar die politieke toesprake van die nimlike oom Kappie (G.H.F) Strydom, parlementslid van Aliwal-Noord, in die jare van die herontwaking van die Afrikaner. Strydom en Witkop van Caues was immers die twee penkoppe wat uit die skool weggeloop het en hulle by kmdt. Fouchee se kommando gaan aansluit het.
Oom Kappie het op menige verhoog die letsels van die 25 kats houe gewys wat hy in Dordrecht ná sy gevangeneming gekry het omdat hy te jonk was om die doodstraf opgelê te word. Die houe was te veel vir een dag en moes paaiementsgewys toegedien word. Sout is daarna in die wonde ingevryf.

Witkop van Caues het weer as bandiet in Dordrecht se strate gewerk totdat hy later na die tronk in Grahamstad gestuur is waar 211 rebelle aangehou is. Onder hulle was 90 rebelle van Dordrecht alleen. Witkop se oorlog wedervarings is later deur sy seun Leon von Caues van Hertzogville te boek gestel.
Daar is ook die toesprake wat veldkornet D.W. Schoeman van Moordenaars poort in Dordrecht in die jare ná die oorlog gemaak het wat behoue gebly het, asook die geskrifte oor genl. Jan Smuts se rampspoedige ondervinding by Moordenaars poort.
Dan is daar die boek Tussen die Berge van dr. Eben Greyling oor die mense van Clanville en Dordrecht in die ou dae en veral oor hul wedervarings in die oorlog.
Uit die rykdom van dagboeke, oorlog herinneringe en mondelinge oorlewerings uit die Dordrecht-kontrei is ruim geput by die skryf van dié oorlog joernaal.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte