Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Die Kakies moes toe sommer skottelgoed ook was.


Tussen die Caledon- en Oranjerivier het die Du Plooys en Van Tonders gebly. My oupa was 'n Du Plooy en my ouma 'n Van Tonder. Vandat ek my verstand gekry het, het my oupa en ouma by ons gewoon. Dit was 'n voorreg. Só het ek hul broers en susters van wie byna almal nog geleef het, baie goed leer ken, skryf mnr. Peet Albertse.
Hy vertel:
Vanselfsprekend het die geselskap oor die ``ou dae'' gegaan meestal oor die vorige trefwoord"Boereoorlog" (soos hulle dit genoem het). Ek kon my daaraan verluister, selfs toe ek al 'n groot man was. Die Van Tonder - susters en -broers was baie geheg aan mekaar en ek het hulle dus gereeld gesien wanneer hulle (of ons) gaan kuier het.
Een van hulle, tant Catharina van Zyl, moes in die oorlog binne 'n week drie kinders aan die dood afstaan. Al drie is bo-op mekaar begrawe in die konsentrasiekamp in Aliwal-Noord.
Voordat die vroue, kinders en ou mense na die konsentrasiekampe weggeneem is, het die Van Tonder - susters saam met hul ma fluks aangegaan met die boerdery. Die gesin het bestaan uit agt dogters en twee seuns. Die seuns was op kommando en een van hulle, Adriaan, was 'n penkop.

Soos ek die susters leer ken het, was daar nie juis onder hulle 'n dapper een nie, behalwe tant Fienie (skoonma van wyle oom Jannie du Plooy van Voortrekker-faam). Hoewel liefdevol en vriendelik, moes 'n mens haar selfs op haar ou dag nie verkeerd opvryf nie, dan het jy gebars.
Tant Fienie was ook die een wat die melkkoeie en beeste op die plaas versorg het, die een wat liewer buite gewerk het. Daar was geen werkers nie en die meisies moes alles doen. So kom daar op 'n dag ses Tommies op die plaas aan, loop die huis binne en ``demand'' kos. Die susters vlug in alle rigtings en die Tommies help hulle toe self.
Daar was 'n melkkan in die kombuis met 'n kraan aan. Die melkkan het op 'n tafeltjie gestaan. Die kraan is oopgedraai, die bekers met melk gevul en die kraan nie weer toegedraai nie sodat die 10 gelling kan se melk die vloer oorstroom het.
Dit is toe dat tant Fienie van die veld af kom en die perde met die stompsterte gewaar, ook die ses gewere wat buite teen die kombuis muur gelos is. Sy gryp een van die gewere, stoot 'n patroon in die loop, storm die kombuis binne en trek 'n skoot in die grasdak af.

Sy laai onmiddellik weer en rig die geweer op die Tommies wat verwilderd die huis uitvlug en op hul perde spring. Sy storm agterna, die geweer steeds op hulle gerig en vra: ``En die roers, is hulle nou myne?''
Die leier van die groep het vreeslik gesoebat dat sy die gewere aan hulle moet gee. Sy het dit uiteindelik aan hulle gegee maar eers nadat hulle die kombuisvloer voor die loop van die geweer skoongemaak en hul skottelgoed self gewas het.
Die Van Tonder - broers en -susters was besonder sterk en gesond en die meeste was diep in die 80 voordat hulle oorlede is. Wonderbaarlik as jy die geestelike en liggaamlike lyding wat hulle moes deurmaak, in ag neem.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte