Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Kinders in kamp hospitaal moes dikwels op die vloer verpleeg word.

Met die instroming van mense was soms net ses beddens in 'n hospitaal tent beskikbaar en moes veral kinders op die vloer verpleeg word, wat jong vrywilliger-verpleegsters soos Bettie Venter erg ontstel het. Soms was 30 of meer ernstige siek kinders op die vloer, sonder matrasse en met te min beddegoed vir die ysige winterweer.

St
erftes was daar baie en die naderende winter het niks gedoen om die toestand te verbeter nie. Mev. Johanna le Roux se ma en haar agt kinders is met net die klere aan hul lywe na die kamp gebring en het op 20 Junie 1901 daar aangekom. Eers het die ma siek geword, daarna Johanna se twee broertjies, van wie een ná vyf dae in die hospitaal dood is. Op dieselfde dag is 28 kinderlykies begrawe, van 2 tot 6 in een graf. In 'n stadium was ses van die sewe kinders siek in die hospitaal.
"Van Oktober 1901 af het ek in die hospitaal gewerk en die gruwel van naby ervaar. Twintig tot dertig mense is in 24 uur dood,'' vertel sy.

Elke gesin het gewoonlik 'n ronde Bell-tent gekry om in te woon. Rantsoene kon een keer per week gehaal word. Water was streng gerantsoeneer. Elke gesin het net die daaglikse paar pinte gekry. Kookwater is van 'n sentrale punt verkry en die kinders is gestuur om in 'n tou te staan vir 'n keteltjie kookwater per dag, wat ``hot ressins'' (hot rations) genoem is.
Met die gestoot van die ouer kinders om eerste by die water te kom, is die jonger kinders dikwels erg verbrand. Soms het ook ongelukke met kookwater in die tente voorgekom. Hospitaal rekords wys dat babas van so jonk as 7 en 11 maande weke in die hospitaal met brandwonde was.

Iets skrikwekkends was dat seuns van 14 jaar en ouer gebruik is om twee maal per dag dooies uit die hospitaal tente te verwyder en veral ook oor die vreemde manier waarop die swartgeverfde plankkiste begrawe is. In elke graf kon daar van 1 tot 6 lyke wees. Pleks van 'n gewone graf is 'n groot vierkantige gat gegrawe. Een of twee kiste is op die gewone manier langs mekaar in die vierkantige graf gesit en daarna nog twee kiste, horisontaal dwars gebalanseer op die ander kiste aan die bo- en onderkant.

Mev. Davina Jacoba Bezuidenhout onthou die Van der Merwe-begrafnis wat só plaasgevind het: ``Niemand weet hoekom nie.''
Oktober 1901 was 'n swart maand in die mediese geskiedenis van die konsentrasiekampe. Die dodetal in albei republieke het 'n hoogtepunt bereik. In die Vrystaat was Brandfort bo-aan die lys, met die getal sterftes aangegee as 1 256 per duisend per jaar. In Oktober het Brandfort 'n kindersterftetal van 1 951 per duisend per jaar gehad.

Die Britse owerheid het homself groot skade in die oë van die oorsese media aangedoen deur die sterftesyfer op dié eienaardige manier te beskryf. Die getal sterftes is met 12 vermenigvuldig om uit te vind hoeveel mense sou daardie jaar sterf as die sterftesyfer in dieselfde tempo vir die res van die jaar sou voortduur. 'n Doodspersentasie van byvoorbeeld 2,3% vir Januarie klink baie erger, maar is veel akkurater.

Die mediese personeel in Brandfort was onvoldoende vir die massa mense en het aanvanklik net bestaan uit drr. Martinius in die hospitaal en ene Arnold as tentdokter, bygestaan deur verpleegsters Moore, Young en Donovan met die hulp van agt hulpverpleegsters.
Martinius is later ondersteun deur nog vier dokters, Gunn, Hoole, Smith en Cameron. Hulle het hul bes geprobeer om mediese toestande te verbeter. Smith het steeds sy siviele praktyk in die dorp gehad.
Hoewel die Britse owerheid die gebruik van Lennon's se Hollandse huismedisyne ten strengste in die kamp verbied het, het Smith groot hoeveelhede uit Bloemfontein vir sy private praktyk bestel en met groot sukses gebruik.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte