Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Hansie-Veldkornet skiet eerste.


Oor wie Churchill regtig gevang het, sal daar altyd maar verskil van mening wees, maar oor die feit dat veldkornet J.C. Coetzee die eerste skoot van die ABO geskiet het op Kraaipan bestaan daar geen twyfel nie.

Hansie Coetzee was die veldkornet van Wyk 3 van die Lichtenburg-kommando onder kmdt. H.C.W. Vermaas. Hierdie Wyk 3 het hoofsaaklik bestaan uit Koranna fonteiners en 'n deel van Hartebeesfontein. Vermaas en Coetzee was swaers en albei was Koranna fonteiners, vandag Ottosdallers. Welbekende en gerespekteerde manne wie se nageslagte nog steeds hier woon.

J.H. Breytenbach, Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog, Deel 1, p. 386390, beskryf hierdie gebeure volledig. My eie navorsing voor die publikasie van my geskrifte het dié feit bevestig.

Ek het ook die voorreg gehad om met verskillende oudstryders wat daardie nag nog teenwoordig was, te gesels. De la Rey het Coetzee opdrag gegee om die spoor te gaan opbreek. Hy het sowel sy eie mense en ander burgers geneem en dit gedoen.

Al die oudstryders met wie ek gepraat het, het bevestig dat Coetzee hulle toegespreek en beveel het dat geen skoot gevuur sal word voordat hy die teken gee nie. Coetzee was 'n ou militaris van vele inboorling oorloë en baie hooggeag onder sy mede-burgers.

Die burgers het stelling ingeneem langs die spoor. Die gepantserde gids-lokomotief, wat voor die troepetrein uitbeweeg het, het kort na 22:00 op 12 Oktober van die spoor geloop en terwyl die troepe besig was om die spoor te probeer herstel, het Coetzee die eerste skoot geskiet! Daarna het die geveg in alle erns losgebars.

Daar bestaan 'n baie mooi foto wat geneem is die oggend ná die geveg waar die burgers langs die lokomotief paradeer met Coetzee amper voor net agter 'n knielende persoon. Coetzee hou sy wapen so skuins voor hom. 'n Hele paar bekende Koranna fonteiners staan rondom en voor hom.

Veldkornet Coetzee was bekend as Hansie-Velkornet en het op die plaas Rietvlei geboer. Hy was 'n seun van oom Groot-Hans Coetzee wat op sy tyd seker een van die grootste grondbesitters in die ou Transvaal was en grootwildjagter van naam.

Vk. Coetzee het in die Slag van Magersfontein gesneuwel.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte