Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Stemme uit die konsentrasie kamp.

Ek het gesien dat drie of vier lyfies in een kis gegooi word en van twee tot drie kiste in een graf. Ek het self na die apteek gegaan om medisyne te kry vir ‘n kind, toe ek by die tent kom en die kind die medisyne gee, was sy asem weg, toe het ek die medisyne gevat en dit op die groen gras uitgegooi en die gras was dadelik verbrand asof daar ‘n vuur oor gegaan het. 

Eendag het ek en ‘n paar vrouens in die veld geloop en lateraan by die slagpale uitgekom, daar het ons ‘n klompie kinders, seuntjies en dogtertjies gesien wat besig was om die derms van die geslagte skape uit te ryg, op ‘n vraag van ons wat hulle daarmee gaan doen, het hulle droewig geantwoord:”Ons wil dit gaan kook, ons het tog so honger.” Ek sal nooit vergeet nie, die suiker was vol blousteen en daar was hakies in die soutvleis. Die sterwende vee het hulle geslag en vir ons gegee om te eet . Ek het meer as een dag honger gely want die kos was eenvoudig te sleg om te eet. 

Toe een van die verpleegsters geroep is en aan haar vertel is dat ons voedsel uit een teelepel meel bestaan, het sy geantwoord:” Maar die mense is mos siek, hulle het nie kos nodig nie.” Eers het die seuntjie van my vermoorde skoonseun gesterf op 24 Oktober, twee dae later het my 17-jarige dogter heengegaan, die dag daarna het die weduwee van my skoonseun gesterf, twee dae na haar 30 Oktober is weer een van my dogters Rykie (8 Jaar oud) dood. Die enigste oorgeblewe kleindogter het 20 Desember gesterf en op 2 Januarie 1902 het ook my 15-jarige dogter Aletta gesterf. My jongste dogter Hester (6 jaar) was teen die tyd so uitgeteer, haar beentjies was so dik soos my duim, maar haar lewe is gespaar, die ander dogtertjie my oorgelaat, het ‘n oog siekte opgedoen waaraan sy vandag nog ly.

13 Desember 1901

Daar was hakies in die vleis, en “Coopers” poeier in die meel, van vitrioel in die suiker het ek persoonlik ondervinding gehad, ek glo dat niemand wat daar was dit kan betwis nie. Deur: J.A Mollett

Die sterfte syfer was 12 per dag, meestal onder die kinders. Die kinders was so te se geraamtes, ons skryf dit toe aan die slegte en onvoldoende voedsel. ‘n Volwasse persoon het een pond meel en twee pond vleis per week en ‘n weinige koffie en suiker gekry. Die meel het krioel van wurms en die vleis was meestal oneetbaar. Daar was geen groente nie terwyl die koffie en suiker slegter was as die slegste wat ek nog ooit gesien het.

Die beste naam vir die Irene vrouekamp sou, volgens my mening, wees: ‘n Moordkamp. 

Net buite Utrecht het een wa waarin ‘n moeder en 5 kinders was in ‘n diep sloot geval. Die kinders is uitgehaal, maar die moeder wat onder in die sloot gelê het met ‘n groot kas bo-op haar bors, is netso daar gelaat en aan die kinders is daar gesê dat die moeder dood is. Die volgende dag het daar waens verby getrek en die vrouens hoor die gekerm van die moeder wat nog gelewe het. Die moeder is daarop uitgehaal en het drie dae later weer by haar kinders uitgekom.  Poppie my dogtertjie van 10 jaar was bietjie siekerig die lynmeisie het soos gewoonlik rondgekom om na die gesondheid van die mense te verneem, sy het gesê my kind is siek en moet hospitaal toe. My kind gaan toe aan die huil, want so jonk soos sy was het sy al begryp dat die wat na die hospitaal gebring word nie weer terug kom nie. Ek het saam met haar na die hospitaal geloop maar ek het gevoel dat dit die laaste wandeling sal wees wat ek met haar op die aarde sou he. Dadelik is alle kos haar belet en net kondensmelk aan haar gegee. Dit was vir my hartverskeurend om my gesonde kind in die gevreesde hospitaal te sien. Elke dag om vier uur was ek gegun om haar te sien en sy het tog so honger gehad en wou net weet of die dokter al gesê het dat sy mag eet en gesmeek vir ‘n bietjie sop al was dit net ‘n lepel vol. So het twee bittere lange maande omgegaan dat ek my arme kind moes sien vergaan, doodsbleek, uitgeteer, verhonger, geen kos, slegs kondensmelk en water en ek kon daar niks aan doen nie. Watter moeder hart kon dit verdra? Op die laaste dag was ek verskrik want toe ek nog ‘n hele end van die hospitaal was, het ek al my kind hoor kerm en toe ek daar inkom sien ek tot my verbasing dat hulle besig was om haar ‘n naghemp aan te trek wat vir haar geheel en al te klein was. Dit was bedoel vir ‘n twee jarige. Daar sit my kind toe met haar kale liggaam in die ope lug, waar die wind die eenkant in en die anderkant uitgewaai het. Met die lank kaal sit, en met die geweld wat hulle gebruik het om haar nagklere aan te trek, het sy kouekoors gekry. Ek sien toe die dood in haar gesig en vra om by haar te bly. Haar laaste woorde was: “Se baie groetnis aan Pa in Ceylon as Ma weer vir Pa skryf.” Terwyl my kind so gesterf het, het die suster net sterk drank aangedra en dit vir haar gegee sodat sy nie meer kon sluk nie. Oplaas het die dokter met ‘n glas geel vloeistof gekom, dit was ‘n soort maagpoeier, Ek het hom gevra om dit aan my te gee, maar hy het geweier. Hy het dit aan my kind gegee, waarop sy net een snik gegee en doodgegaan het. 

‘n Hospitaal is opgerig waar die siekes kon heen gaan maar toe sterf die mense eers, want die kakies kon hulle toe gif ingee net soos hulle wou. Die naarste was dat sodra die mense beter geword het, het hulle om kos gevra en dan kry hulle “Beef Tea” en kondensmelk. Sommige wat in hul sterwensnood om kos gevra het, is toegevoeg: “Vrek maar, dan is dit een minder om voor te sorg.” Nadat Dr K… gekom het, het daar byna geen een uit die hospitaal teruggekom nie. Die mense oor wie hy gegaan het, se mae het so baie bewerk dat hulle daarvan dood is. ‘n “Joiner” het saam die geneesheer rondgeloop om die siekes na die hospitaal te neem. Hulle het die kinders uit die arme moeders se arms geruk, hoewel hulle gebid en gesmeek het om die kinders terug te kry.

20 April 1901.

As daar sprake was dat die kakies buite pakgekry het, dan het ons die dag minder kos as die waarop ons geregtig was, gekry. Deur: Z.W. Joubert

Was nie lank na ons in die kamp aangekom het of drie van ons familielede is na hul graf gedra. My niggie van 17 jaar het verkoue gekry en hulle het haar na die hospitaal toe gevat, die aand voordat sy gesterf het is ek en my suster toegelaat om by haar te waak. O! Hoe vreeslik was dit om haar te sien teen die dood stry. ‘n Dik skuim het voor haar mond gestaan en in haar hande en onder haar voete was waterblase, of ‘n mens van verkoue so kan word, sal die geneeshere seker weet – vir my was dit ongelooflik. Deur: H. Oosthuizen

Genl. Hertzog se vrou Mynie is aangebied om vry gelaat te word indien sy met haar man praat en hom oor te haal om die stryd te beeindig, Mynie het geweier: “How can you expect such a thing of me? I would never again be able to look my husband in the face. And he would despice me for the rest of my life.” Daarna is Mynie per skip na Durban se Merebankkamp gestuur, ‘n konsentrasiekamp…speciaaly set apart for woman whose husbands failed to surrender on Sept. 15, 1901. Daar het sy sewe maande lank in uiters onmenswaardige toestande aangehou.

Vergewe en vergeet! Hierdie valse stelling word in ons dae dikwels verkondig en verdedig. Vergewe! Ja, dit wil ons deur God se genade. Maar Vergeet! Nooit! Vergeet mag alleen die wat geen geskiedenis het nie of wat skaam is vir hul geskiedenis. Die aandeel van die vroue en kinders in die stryd is uiters belangrik. Die liggaamlike, maar veral geestelike lyding is byna ongelooflik. Die moed, die vasberadenheid en vertroue wat deur hulle, onder sulke lyding aan die dag gele is,is maar selde geëwenaar in enige geskiedenis.

 Irene.

 

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte