Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Mens én dier was slagoffers tydens die oorlog.

'n Bobbejaan se verdriet omdat hy ná die Slag van Paardeberg van sy baas moes afskeid neem, het hom ook een van die slagoffers van Boereoorlog gemaak.
Mev. J.G. Steyn skryf:
Volgens my oupa Petrus Jacobus Roux (1884-1956) was daar in genl. Piet Cronjé se laer by Paardeberg ook 'n mak bobbejaan.

Hy het hom as 'n reël nie buite die loopgrawe of die ri
vierwal gewaag nie en hom ook nie aan die skietery blootgestel nie. Sy baas het hom 'n sak gegee. Dit was sy kosbaarste kleinood op aarde. Hy het die sak altyd saam met hom gedra. Sy baas het hom tydens die slag in 'n sloot vasgemaak. As die bobbejaan wou kyk of alles veilig is, het hy eers die sak bo die sloot se wal uitgesteek. As niks gebeur nie, spring hy bo-op die wal. Sodra hy die gefluit van die bomme hoor, maak hy homself met die sak toe!

Wanneer dinge vir hom te warm word, spring hy terug in die sloot. Dikwels vergeet hy dan die sak bo-op die wal en moet hy dit eers weer gaan haal. Die arme kees het op dié manier heen en weer beweeg en oorgenoeg oefening gekry. Ondanks die omstandighede waarin hulle hul bevind het, het die bobbejaan aan my oupa-hulle heelwat vermaak met sy manewales verskaf.
Ná die oorgawe was sy eienaar genoodsaak om hom vir 'n Tommie te gee. My oupa het gesê dat hy dit nooit sal vergeet nie.

Daar was 'n uitdrukking van verwarring en verbystering in die dier se oë toe die Engelsman hom wegneem en hy sy baas moes agterlaat. Sy baas het openlik gehuil en die bobbejaan het bly omkyk na hom toe en geluide gemaak . . . Só was ook hierdie wilde dierekind van Afrika by Paardeberg die onbekende en onbesonge slagoffer van die oorlog.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte