Ons Boere se Trotse Geskiedenis.

 

 

Boere Stories en Staaltjies.

 

Breaker Morant: Held of skurk.

 



Breaker Morant.

Harry Harbord Morant is een van die berugste figure uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog. Hy is in 1864 in Engeland gebore en het hom in 1883 in Queensland, Australië, gaan vestig. Daar word steeds bespiegel oor sy agtergrond. Sommige historici beweer dat hy nie die kind van gewone werkersklasouers was nie, maar wel die buite-egtelike seun van ’n Britse admiraal.

Morant het bekend gestaan as ’n gekultiveerde man en ’n dapper soldaat. Hy het egter ook ’n reputasie gehad as ’n roekelose leuenaar, dief, geharde drinker en aarts-chauvinis. Morant het daarvan gehou om toertjies voor gehore uit te voer en het ’n reputasie gehad dat hy perde vinnig kon inbreek, vandaar die naam “Breaker.” Kort ná sy aankoms in Australië het die jong Engelsman by ’n sirkus aangesluit en met ’n jong vrou genaamd Daisy Bates getrou. Sy het hom egter gou gelos, toe sy besef het dat hy nie vir die troue betaal het nie en boonop ’n klompie varke en ’n saal vasgelê het.
Vir die volgende vyftien jaar het Morant ’n raap-en-skraapbestaan in Queensland en New South Wales gevoer. Hy was gewild onder plattelandse inwoners danksy sy drinkgewoontes en toertjies wat hy met perde kon uitvoer. Gedurende hierdie periode het hy ook gedigte onder die skuilnaam The Breaker geskryf, waarvan sommige selfs gepubliseer is.

Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die deure geopen vir ’n nuwe avontuur en het hom in staat gestel om Australië en almal vir wie hy geld geskuld het, te verlaat. Hy het by die South Australian Mounted Rifles aangesluit. Meer as 2000 Suid-Australiërs het hulle by die Britse magte aangesluit. Morant en sy kontingent het op 26 Januarie 1900 na Suid-Afrika vertrek.

In Suid-Afrika het Morant gou aandag getrek danksy sy ervaring met perde. Hy was in sy element, in hierdie land waar die landskappe en klimaat soveel met Australië ooreengestem het. Aanvanklik het hy as koerier opgetree vir die oorlogskorrespondent van die London Daily Telegraph. Nadat hy ’n klompie verpleegsters by die plaaslike hospitaal se harte gebreek het en ’n aantal onbetaalde rekeninge agtergelaat het, het hy teruggekeer na Engeland en daar aan die suster van een van sy vriende, kaptein Hunt, verloof geraak.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in April 1901 het hy by die gevreesde Bushveldt Carbineers aangesluit, wat in die Noord-Transvaal teen die Boere geveg het. Die regiment het uit 320 man bestaan en was in Pietersburg gebaseer. Amper die helfte van hulle was Australiërs, maar daar was ook ’n veertigtal Boere wat vroeër aan die Engelse oorgegee het. Die twee groepe het nie goed oor die weg gekom nie. Die regiment was moeilik om te beheer en daar was vele gevalle van ongedissiplineerde optrede, soos om buit toe te eien en alkohol te misbruik.

Op 5 Augustus 1901 het kaptein Hunt en 17 lede van die Carbineers ’n plaashuis bestorm en heelwat meer Boere daar aangetref as wat hulle verwag het. Onder die Britse manskappe het ’n aantal gewapende swartes getel. Volgens luitenant Witton se latere getuienis was dit praktyk vir die Engelse om swartes te gebruik en het hulle van ”die mees afgryslike dade“ tydens die oorlog gepleeg.

Gedurende die aanval is beide kaptein Hunt en ene sersant Eland gedood. Hunt is wreed vermoor en al sy klere verwyder. Die verminking wat die liggaam ondergaan het (Hunt se hakskeensenings is byvoorbeeld afgesny) dui dalk op swart betrokkenheid. ’n Woedende Morant het egter wraak geneem deur Visser, ’n Boer wat met Hunt se klere rondgeloop het, ’n paar dae later te skiet, asook nog agt Boeregevangenes en later weer ’n groepie van drie. Hy het verder ’n Duitse sendeling genaamd Hesse laat doodskiet, aangesien hy hom verdink het van simpatie met die Boeregevangenes.

Sewe Carbineers, waaronder luitenant Morant, is in Januarie 1902 van ’n oorlogsmisdaad aangekla. Morant het absolute minagting vir die regter getoon, sy dade ruiterlik erken en dit geregverdig deur te sê dat Lord Kitchener self beveel het dat geen gevangenes geneem moet word nie. Uiteindelik is Morant, Witton en Handcock skuldig bevind op aanklag van moord op die Boeregevangenes, maar onskuldig van die moord op Hesse. Morant en Handcock is ter dood veroordeel, maar Witton se doodstraf is in lewenslange gevangenisstraf verander.

Toe Morant kort voor sy teregstelling gevra is of hy ’n priester wou sien, was sy verontwaardigde antwoord: ”Nee, ek is ’n heiden!” Handcock wou toe weet: ”Wat is ’n heiden?“ Nadat dit aan hom verduidelik is, het hy trots verklaar: ”Ek is ook ’n heiden!”

Op 27 Februarie 1902 is Handcock en Morant in Pretoria tereggestel. Morant se laaste woorde was: ”Shoot straight you bastards! Don’t make a mess of it.” Hulle het geweier om voor die vuurpeloton geblinddoek te word.

Ná 28 maande in ’n Britse tronk is Witton vrygelaat. Lord Kitchener (wat self die doodsvonnisse geteken het) het later erken dat hy wel instruksies gegee het dat Boere wat in Britse uniforms betrap word, doodgeskiet moes word. Teen die einde van die oorlog was die Boere-soldate se klere meesal vodde en het hulle dikwels Britse klere gebuit - soms ook in ’n poging om Britse troepe te mislei.

In 1907 het Witton se boek, Scapegoats of the Empire, verskyn. Later het dit onmoontlik geword om ’n eksemplaar van hierdie boek in die hande te kry. Verhale het die rondte gedoen dat die Australiese regering ongemaklik gevoel het omdat Lord Kitchener se reputasie in die boek skade gely het en beslag gelê het op al die eksemplare wat hulle in die hande kon kry.

Tydens ’n besoek aan Australië in 1910 het Lord Kitchener geweier om ’n monument in Bathurst te onthul vir diegene wat tydens die ABO gesterf het, indien Handcock se naam nie verwyder word nie. Dit is toe gedoen, maar in 1964 is sy naam weer teruggevoeg op die monument. Die grafte van Morant en Handcock het ná die 1980-vrystelling van die film Breaker Morant gewild geword by besoekers. In Australië het Morant legendariese status verkry en vele anekdotes word steeds oor hom vertel.

Getuienis dui daarop dat Handcock, Witton en Morant deur hulle eie manskappe aangekla is, wat van hulle nie juis martelaars maak nie. Baie Australiërs wonder egter steeds hoekom die twee Britse offisiere, wat aanvanklik saam met die Australiese Carbineers aangekla is, bloot oneervol ontslaan is, terwyl daar baie strenger teen Morant, Handcock en Witton opgetree is.

Die Morant-geval het die Australiese regering laat besluit om nooit weer Australiese soldate aan Britse justisie uit te lewer nie.

 

Boereoorlog Stories en Staaltjies.

 

 

Boereoorlog Stories, Staaltjies en Gedigte