Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


"Wildehond" wou Tommie-trein gaan vang Pakperde met proviand draf as ware reg in hulle vas.


Die verhaal van kommandant "Wildehond'' Willie Lourens van die Riemland.
Mev. Mathilda de Kok skryf. My oupa was kmdt. Willie Lourens van die plaas Vinknes, Reitz, in die Oos-Vrystaatse Riemland.
'Die Wildehond' het sy bure hom genoem toe hy op byna 80 (weens skrapnel in die Slag van Groenkop) op sy vurige
hingsperd oor smal damwalle gejaag en wilde blesbokke in vangkrale op Vinknes vasgekeer en gevang het.

Op sy 30ste verjaardag 11 Oktober 1899 het die oorlog uitgebreek. Hy was pas wewenaar, agtergelaat met drie kleuter dogtertjies ná die afsterwe van sy jong vrou en dagoud seuntjie. Toe die oproep kom, moes hy die meisietjies onder die sorg van sy skoonsuster Bellie op Vinknes agterlaat.

Die huis daar was van die eerstes wat deur die Engelse afgebrand is. Op dié nog smeulende verwoesting het Willie en sy broer Hendrik, asof gestuur, afgekom en Bellie en die kinders verwese aangetref. Dit was winter snerpend koud en soggens spierwit geryp. 'n Laaste wolkombers wat Bellie nog wou red, is uit haar hande geruk en in die vlamme teruggegooi. Desperaat is die twee mans daar weg in die rigting van die spoorlyn tussen Harrismith en Bethlehem om die Tommie-trein te gaan vang met die hoop om minstens komberse en klere te bekom.

Wat hulle toe raakloop, was g'n trein nie, maar 'n vars Engelse konvooi van Durban-hawe af op pad die Vrystaat in, met proviand waens en -perde hoog gepak met vrag. So deur sy verkyker gesien, kon die eenvoudig geklede Boere kommandant tot sy dood toe onthou hoe die Engelse offisiere se nuwe knope in die sonlig geskitter het. Van agter 'n kraalmuur in 'n natuurlike grondwal skiet hy en Hendrik 'n paar sarsies. In die relatiewe chaos ruk twee pakperde los en draf as't ware reg in hulle vas. En die blinkknoop-kolonne besluit: ``Nee, dis nie die moeite werd nie,'' en swenk weg! Ná twee nagte se slaap onder die graansakke in die skuur ontvang Bellie met vreugde die buit, onder meer wolkombers en rolle en rolle flennie. Alles net eers in twee groot seep potte vol kookwater dompel, want `die Tommies se goed was partykeers vol luise, jong.'

Ná die oorlog het oupa Wille homself en ook sy bure van broodnodige saadkoring voorsien. Verreweg nie genoeg nie, maar 'n noodsaaklike begin. Vroegtydig had hy sakke vol koring langs 'n binnemuur in die skuur gepak en toe die muur daarop omgestoot veilig buite sig van enige vyand. Goed weggesak onder die watervlak in die diep fonteinekuil bokant die populierbos was ook sy perdekar twee jaar lank weggesteek.
Hy is later weer getroud met Helena Jacobs. Die twee jongstes van hul vyf kinders woon nou in Huis Sorgvry in Reitz mevv. Lina Bekker en Chrissie Snyman. Hulle onthou nog in besonderhede van die `Engelse' flenniekleertjies (goed behoue gebly) wat Bellie vir hul drie halfsustertjies gemaak het nog lank voor hulle twee se geboorte.

Oupa Wille is in 1969 op 99-jarige leeftyd in Reitz oorlede.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte