Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Die Nasionale Party transformeer Afrikaners in Suid-Afrikaners.

Daar was selfs ook Engelse en Engelsgesindes wat van ‘n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag gedroom het, maar vir hulle sou dit eerstens deel van die Ryk wees. Die oorlog het die droom van ‘n verenigde, Britse Suid-Afrika moontlik gemaak, ‘n staat waarin Afrikanerskap vanself in die groter eenheid van die glorieryke Britse ryk sou opgaan. Generaals Botha en Smuts het dit as hoogs voordelig vir Afrikaners aangegryp.

Nasionalistiese Afrikaners het nie ‘n duidelike ideaal voor oë gehad nie. Die rebellie van 1914 het nie op ‘n uitgesproke doel afgestuur nie, terwyl die “Vryheidsdeputasie” nog in 1919 gepoog het om die Boererepublieke te herstel.

Generaal Hertzog het nuwe rigting met sy oproep om “Suid-Afrika Eerste” gegee. Tog het dit nie vanselfsprekend inslag gevind nie, want Suid-Afrika was ‘n nuwe staat wat nog nie in mense se harte gevestig was nie; nasiebou het nog nie plaasgevind nie. Dit het teen die veel aantrekliker oproep om deel van die Britse ryk, die grootste ryk in die wêreldgeskiedenis, te staan gekom. Om Suid-Afrika voor die Ryk te stel het sektaries en kleingeestig voorgekom. Op simboliese vlak was daar geen vlag, volkslied of geskiedenis om die hartsnare te roer nie.

‘n Suid-Afrikaanse gees het stadig opgebou. Historici het die Afrikaner se geskiedenis as die geskiedenis van Suid-Afrika aangebied. Afrikaans is as inheemse taal van Suid-Afrika ook tot amptelike taal verhef. ‘n Nasionale vlag is te midde van groot stryd en onenigheid aanvaar. Die Stem van Suid-Afrika is deur CJ Langenhoven geskryf en ML de Villiers gekomponeer as teenvoeter teen God save the King wat toenemend deur Afrikaners as hulle volkslied aanvaar is. De Villiers het regdeur die land gereis en by skole, debatsverenigings en elke moontlike geleentheid die lied vir mense aangeleer. Dit het stadig inslag gevind en het eers vir baie mense kunsmatig gevoel.

Mettertyd het Afrikaners Suid-Afrika aangeleer. Toe die NP in 1924 aan bewind gekom en Suid-Afrika sistematies op ekonomiese, politieke en simboliese gebied eerste gestel is, het Afrikaners in hulle toewyding aan Suid-Afrika gegroei. ‘n Halfeeu na die staat gevestig is, het dit ‘n onafhanklike republiek geword. Suid-Afrikanerskap het ‘n ruimer sinoniem vir Afrikanerskap geword en Suid-Afrikaners het ‘n toenemend vyandige wêreld eensgesind teengestaan. Dat swart burgers nie deel van die patroon of sentiment was nie, is op twee maniere gerasionaliseer: Deur onsself wys te maak dat “vredeliewende” swartmense blanke regering verkies het, en dat die ander onder kommunistiese invloed was.

Die Suid-Afrikaanse staat waaraan Afrikaners so verknog geraak het, is intussen deur die getalle-oormag van swartmense oorgeneem. Die staat verteenwoordig nou die twee kragte wat voortbestaan van die Afrikaner se identiteit oor die jare bedreig het: Die getalle-oormag van Afrika en die kulturele oormag van die Engelssprekende wêreld. Vir vandag se Afrikaner is Suid-Afrika wat die Britse ryk vir ‘n vorige geslag was. Die verskil is dat verbintenis aan Suid-Afrika veel meer diep gewortel is as wat dit ooit aan Brittanje was.

Die stryd wat eens gevoer is om Suid-Afrika eerste te stel, moet nou gevolg word om die Afrikaner eerste te stel. Ons sal Suid-Afrika moet afleer soos ons dit aangeleer het.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte