Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Teregstelling 'wreed en weersinwekkend'

Oomblikke voordat die luik van die galg oopgegaan het, het 'n 16-jarige penkop in die Anglo-Boereoorlog geprewel: "My Jesus is nou aan my sy".

Louis Leipoldt het as oorlogskorrespondent vir die Manchester Guardian en etlike ander oorsese koerante die eerste openbare teregstelling as wreed en weersinwekkend beskryf.

Coetzee, Cornelius Claassen en Frederick Marais is op 6 Junie 1901 op Wildefontein in die klowe van die Karnmelkspruit gevang toe generaal Pieter Kritzinger se kommando in die nag deur die Engelse oorrompel is. In die wilde nagtelike gevegte wat gevolg het, is manskap Gibbons gewond terwyl die Engelse 'n koppie bestorm het van waar daar op hulle gevuur is.

Drie van die rebelle in Kritzinger se kommando wat gevang is, is van hoogverraad en poging tot moord aangekla. Hulle is deur 'n militêre hof in Dordrecht verhoor en ter dood veroordeel.

Ná 'n maand se aanhouding in die tronk in Dordrecht is die drie op hul tuisdorpe in die openbaar tereggestel. In al drie gevalle is ongewenstes wat daarvan verdink is dat hulle die rebelle simpatiek gesind was, gedwing om die teregstellings by te woon.

Die selektiewe teregstelling van dié drie en die ophang in die openbaar was duidelik om as die grootste moontlike afskrikmiddel vir die gemeenskap te dien.

Coetzee was 'n 16-jarige penkop van Cradock. Hy het ontken dat hy ooit iemand probeer vermoor het. Hy het erken dat hy hom by die republikeinse mag aangesluit het om sy verdrukte volk te help en as hy daarvoor moes sterf, was hy bereid om dit te doen, maar moord het hy nie gepleeg nie. Op 13 Julie is hy in Cradock in die openbaar opgehang.

Oomblikke voordat die luik oopgegaan het, het hy geprewel: "My Jesus is nou aan my sy".

Claassen was 'n vertraagde jong man wat 'n perdeoppasser in die laer was. Hy het skuld beken op 'n klag van hoogverraad, maar het gesweer dat hy nooit 'n enkele skoot geskiet het nie, want hy het net perde opgepas. Hy is op 24 Julie in Somerset-Oos in die openbaar opgehang terwyl dit gelyk het of hy nie eers mooi geweet het wat om hom aangaan nie.

Marais was 'n boer van Middelburg met 'n vrou en kinders. Hy het in die hof verklaar dat hy hom weens die verdrukkende krygswet by die Boere aangesluit het en dat hy niks verder gehad het om te sê nie. Hy is op 10 Julie 1901 in Middelburg in die openbaar opgehang.

Op die skavot het hy uitgeroep: "Mijn God! Mijn God! Zie en aanschouw deze daden die aan mij en mijn volk gedaan worden!"

Die teregstellings het 'n storm van protes tot ver buite die landsgrense ontketen.

Die Morning Leader het in Brittanje die teregstellings as skandalig beskryf. Die blad het verder berig dat Coetzee skuldig bevind is deur 'n hof wat nie die mees elementêre kennis van getuienis gehad het nie en dat daar geen besliste getuienis was waarop Coetzee veroordeel kon word nie.

Hy was 'n jong man, geen skurk of moordenaar nie en beslis geen leier onder die rebelle nie. Sy teregstelling was totaal onverdedigbaar tensy Engeland bereid was om alle rebelle as sodanig op te hang, besluit die blad.

In 'n hoofartikel in die South African News het Leipoldt die teregstellings as wreed en weersinwekkend vir elke beskaafde mens beskryf. Hy het verder daarop gewys dat die openbare teregstellings bowendien strydig was met 'n Britse wet wat in 1868 aangeneem is waarvolgens teregstellings in die openbaar verbied is.

In die Manchester Guardian het Leipoldt te velde getrek teen die militêre tribunaal en juriste wat geen benul gehad het van die wette oor verraad of van die opweeg van getuienis nie.

Die teregstelling van die Dordrecht-rebelle het waarskynlik ook Leipoldt se bekende monoloog, Oom Gert vertel, geïnspireer.

Dat Leipoldt hom die lot van die rebelle diep aangetrek het, blyk ook uit artikels wat van tyd tot tyd in plaaslike en oorsese koerante verskyn het.

Hy skryf oor die onregverdighede wat gepaard gegaan het met die instelling van krygswet in Kaapland en hy trek veral te velde teen die verpligte opkommandering van kolonialers deur die Vrystaters onder die voorwendsel dat hulle dan burgers van die Vrystaat sou wees, wel wetende dat hulle niks sou kon doen aan die lot van rebelle wat gevang word nie.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte