Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Rooi Bul hou Churchill formeel aan.



DIE interessante Anglo-Boere Oorlog verhaal van die treinkaping op 15 November 1899 by Chieveley spoorwegstasie in Natal waarin die Boere onder andere die Engelse edelman Winston Churchill gevange geneem het, word in besonderhede vertel in Die Rooi Bul van Krugersdorp, veggeneraal S.F. Oosthuizen deur Isak Heath, Centurion, 1999.

Dié publikasie is saamgestel nadat dokumente van Oosthuizen deur sy jongste dogter, Agatha, aan die skrywer geskenk is.

Oosthuizen, afkomstig van Krugersdorp, het glansende rooi hare en 'n bloesende gelaatskleur gehad en gevolglik was die bynaam ``Rooi Bul'' toepaslik. Hy het in die ABO gesneuwel.

Onder die hofie Churchill word Gevang word vertel dat genl. Louis Botha, wat by genl. Lucas Meyer as bevelvoerder van die suid-oostelike Transvaalse magte oorgeneem het, op 13 en 14 November 'n Boere taakmag van 3 000 burgers saamgestel het om die oprukkende Britse magte suid van Colenso tegemoet te gaan.

Die nag van 13 November het die Boere by Hermansspruit langs die treinspoor en die opgeblaasde treinbrug onder 'n swaar wolkekombers geslaap. Op 14 Novemebr het hulle ten noorde van Colenso opgeruk, waar hulle aan die oewer van die Tugela ontbyt geeët het. Hulle het oor die Bulwerbrug getrek en by Chiveley stasie oornag.

Die Britse bevelvoerder op Estcourt, kol. C.J. Long, het die oggend van 14 November om 6 vm. 'n gepantserde trein (``Hairy Mary'', omdat die lokomotief met dik toue bekleë was wat soos hare daarvan afgehang het) met 160 Kakies onder bevel van kapt. J.A.L. Haldane op verkenning uitgestuur.

Toe die trein deur die Boere gewaar is, het Botha 'n plan beraam om dit in 'n hinderlaag te lei. Burgers van Krugersdorp en Wakkerstroom is langs die spoor op 'n draai naby Frere ontplooi om dit te beskadig ná die trein verby is.

Nadat die trein by Chieveley omgedraai het sonder dat die Kakies die Boere gewaar het, het die burgers dit by Frere aangeval. Die trein het teen klippe wat hulle op die spoor gepak het, vasgejaag.

Churchill het ywerig gehelp om die lokomotief en enkele trokke van die ontspoorde waens te bevry sodat na Estcourt ontsnap kon word. Die Boere het die trein met 'n ligte veldkanon, 'n VickersMaxim (PomPom), bestook, maar die masjinis en enkele Kakies het daarin geslaag om weg te kom.

Haldane en 53 manskappe is deur die Boere gevange geneem. Churchill is deur veldt. Sarel Oosthuizen as sy gevangene in hegtenis geneem, skryf Heath.

Kapt. Danie Theron, bevelvoerder van die Theron Verkenningskorps (TVK), skryf in 'n verslag op 28 November: ``Churchill . . . geef nu voor dat hij geen deel nam in gevecht. Dat is alles leugens. Hij wilde ook niet stilstaan toen veldcornet Oosthuizen hem waarschuwde zich over te geven. Eerst toen deze zijn geweer op hem aanlegde, gaf hij zich over. Mijns inziens is Churchill een der gevaarlijkste gevangenen die in onze handen is. De Natalse couranten maken van hem een groote held''.

Oor sy gevangeneming en latere ontsnapping, het Churchill later self verklaar: ``I should not have been caught. But if I had not been caugt, I could not have escaped and my imprisonment and escape provided me with materials for lectures and a book which brought me in enough money to get into Parliament in 1900.''

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte