Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


8 November 1914: Boer skiet Boer.

Generaal Christiaan de Wet was met sy “protesterende burgers” uit die noorde op pad.

Kommandant Frikkie Cronjé, die prokureur in Winburg en ’n seun van ou generaal Andries Cronjé van Welgelegen, naby Doringberg, het uit die suide met ’n afdeling regeringsoldate opgetrek. Die oggend van 8 November het hulle by die brug oor die Sandrivier, wat vandag toe onder die water van die Allemanskraaldam is, met mekaar gebots. Dit was ’n Sondagmôre en De Wet en Cronjé, albei bittereinders uit die Anglo-Boereoorlog, wou nie vir mekaar padgee nie.

Die Britte het die moeilikheid begin, toe hulle op 4 Augustus 1914 oorlog teen die Duitsers verklaar het en die Unie van Suid-Afrika daarby ingesleep het. Generaals Louis Botha en Jan Smuts was dadelik gereed om Brittanje se wens uit te voer en die Union Jack in Duits-Suidwes-Afrika (Namibië) te gaan plant; iets wat totaal buite die verwysingsraamwerk van generaals Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Christiaan Beyers, Manie Maritz en vele ander was. Hulle wou die Vierkleur in Pretoria gaan hys en hul republikeinse vryheid herstel.

Generaal Christiaan de Wet was met sy “protesterende burgers” uit die noorde op pad. Kommandant Frikkie Cronjé, die prokureur in Winburg en ’n seun van ou generaal Andries Cronjé van Welgelegen, naby Doringberg, het uit die suide met ’n afdeling regeringsoldate opgetrek. Die oggend van 8 November het hulle by die brug oor die Sandrivier, wat vandag toe onder die water van die Allemanskraaldam is, met mekaar gebots. Dit was ’n Sondagmôre en De Wet en Cronjé, albei bittereinders uit die Anglo-Boereoorlog, wou nie vir mekaar padgee nie.

Die Britte het die moeilikheid begin, toe hulle op 4 Augustus 1914 oorlog teen die Duitsers verklaar het en die Unie van Suid-Afrika daarby ingesleep het. Generaals Louis Botha en Jan Smuts was dadelik gereed om Brittanje se wens uit te voer en die Union Jack in Duits-Suidwes-Afrika (Namibië) te gaan plant; iets wat totaal buite die verwysingsraamwerk van generaals Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Christiaan Beyers, Manie Maritz en vele ander was. Hulle wou die Vierkleur in Pretoria gaan hys en hul republikeinse vryheid herstel.
Die twee groepe was skaars 30?meter van mekaar af, toe die skote klap. B.W. van Dyk Tromp, ’n onderwyser in Memel, het ’n skoot deur die hart gekry. Hy het nog ’n ruk op sy perd gesit en toe soos ’n blok hout neergeslaan. Veldkornet Danie de Wet, een van die generaal se seuns, het ’n kopskoot gekry en uit die saal teen Jan Stoffberg se perd geval.

Generaal De Wet self moes agter ’n klip skuiling soek toe sy perd ’n skoot in die boud kry. ’n Koeël het teen die klip vasgeslaan en ’n splinter het die ou generaal in die linkerwang getref. Sy buurman Charlie Meintjes, van die plaas Galaxy naby Memel, was een van die gewondes.

Allemanskraal

Toe die res van De Wet se kommando op die toneel aankom, moes Frikkie Cronjé en sy manne wat agter klipmure verskans was, haastig die aftog blaas. Die rebelle het hulle oor die rivier gedryf, hul laer op die plaas Allemanskraal verower, 27 gevange geneem en die res in die rigting van Theunissen gejaag.

Tien burgers het dood gelê. Onder hulle was De Wet se seun Danie en ’n burger van Ventersburg, P.W. van Zyl, wat op die nabygeleë plaas Lindesdeel geboer het. Hy het sy vrou en twee dogtertjies agtergelaat.

Aan regeringskant was drie dooies. Die slagter in Winburg, Solomon Charles Ward, was een van die ongelukkiges.

Wie het eerste geskiet? Die twee kante het mekaar oor en weer beskuldig oor die misbruik van die wit vlag, maar die skade was gedoen. Charlie Fichardt en president Steyn se seun Colin, wat kort ná die geveg per motor opgedaag het as deel van ’n bemiddelingspoging, het generaal De Wet by die brug aangetref en opgelaai.

Doodstyding

Op daardie oomblik het De Wet se sekretaris, Harm Oost, langs die motor stilgehou en gevra: “Het generaal die nuus omtrent Danie gehoor?”

“Hy is gewond, nè?.?.?.??” het De Wet huiwerig gesê-vra.

“Dood,” is al wat Oost kon uitkry.

De Wet het sy lippe ferm op mekaar geklem. En toe sê hy: “Dit is die eerste offer. Ons moet nou deurgaan – enduit!”

Laat die middag toe Danie se lyk, toegedraai in ’n kombers, in die graf sak, het De Wet sy seun vir oulaas gesoen en gekerm: “Danie, my liefste, my enigste .?.?.”

Op hul plaas Allanvale naby Memel, moes mev. Nelie de Wet die nuus verwerk. Dit was ’n bitter tyding, want Danie was verloof aan Charlie Meintjes se dogter, Mary Allen, van die buurplaas. Die troue sou twee weke later plaasvind. Die huis was klaar gebou en ten volle gemeubileer. Die paartjie moes net intrek.

Die dag nadat Danie doodgeskiet is, het De Wet Winburg ingeneem. Sy kommando’s het Frikkie Cronjé se kantoor verwoes, winkels geplunder en die magistraat, Raymond Harley, gevange geneem. De Wet self was haaks met die burgemeester, W. Wright, wat ’n winkel in die dorp gehad het. In ’n stadium het die generaal glo gedreig om die dorp af te brand.

Op 12 November het De Wet se kommando’s suidoos van Winburg oor die plase Mushroom Valley, Hoenderkop en Bantry versprei gelê. Hier is hulle in die vroeë oggendure deur genl. Louis Botha met ‘n sterk regeringsmag verras. De Wet se laer het in die slag gebly, 255 rebelle is gevang en aan albei kante was tien of meer dooies. Die aanval het egter skeefgeloop en De Wet het met die meeste van sy burgers weggekom.

Ná die slag het Izak Buys in sy dagboekie geskribbel: Ek word gelas om die dooies te help inbring. Waar bloed teen bloed die ander dood, wat is tog die doel . . .? Watter dag kan dit my lot wees en wat word van haar en my liewe klyne (kinders)? Buys is ’n week later naby Senekal doodgeskiet.

Christiaan de Wet het enduit gegaan – soos hy ná Danie se dood gesê het. ’n Paar dae ná Mushroom Valley het hy sy kommando’s huis toe gestuur en met ’n handjievol burgers probeer om na Duits-Suidwes-Afrika te vlug.

By Beesdam in die omgewing van die huidige Stella, het hy, ironies genoeg, vars perde by sy joiner-broer Piet de Wet, gebuit. Die Uniemagte was met ’n motorkontingent op sy spoor. De Wet het die motors afgeskud, maar op 1 Desember is hy in ’n uitgeputte toestand naby die grens van Betsjoeanaland deur ’n perdekommando ingehaal en gevang.

Die beroemde Boeregeneraal is aan hoogverraad skuldig bevind en tot ses jaar tronkstraf en ’n boete van £2 000 gevonnis. Toe hy op 20 Desember 1915 onder streng voorwaardes vrygelaat is, was Mary Allen Meintjies een van ’n groot groep perderuiters wat hom by Bothas-* pas ingewag en verwelkom het.

Danie de Wet se stoflike oorskot is opgegrawe en op 8 November 1917 saam met dié van sy makkers voor die NG kerk in Memel ter ruste gelê.

Op ’n koppie by die Allemanskraaldam staan ’n granietsteen ter herinnering aan Danie en die “protesterende burgers”, wat op 8 November 1914 daar gesneuwel het.

Op ’n koppie by die Allemanskraaldam staan ’n granietsteen ter herinnering aan Danie en die “protesterende burgers”, wat op 8 November 1914 daar gesneuwel het.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte