Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


KRYGSGEVANGENES OP ST. HELENA.

Ruijssenaers skryf:

``Dit is vandag die 1ste Januarie 1901 en ons is nou presies 8 maande hier in Deadwoodkamp. Oor die algemeen gaan dit goed met die manne, want geen groot katastrofe soos 'n dodelike siekte-epidemie het ons getref nie. Dit beteken nie dat ons hier in 'n paradys woon waar alles maanskyn en rose is nie. Allermins. Ons is gevangenes en het maar weinig regte of voorregte.

``In een stadium was die waterpype na ons kamp verstop en het ons dae aaneen sonder water moes klaarkom. Ons het net genoeg gehad vir een ketel koffie per dag. Almal van ons het soos bobbejane gelyk en geruik, want ons kon nie was of skeer nie. Gelukkig is hier nie salonspieŽls waarin ons ons self kon sien nie. Dit was 'n redding toe die pype uiteindelik herstel is.

``Ons kry nou en dan kans om uit die kamp te gaan. Daar is nie veel besienswaardighede op St Helena nie en 'n mens maak maar die beste van die bietjie wat daar is. Ons besoek byvoorbeeld die groot keiser Napoleon se graf. Dit is op een van die mooiste plekke op die eiland, diep onder in die Geranium-vallei, waar die pragtigste veldblomme groei. Daar is 'n kristalhelder waterstroompie waar Napoleon by voorkeur water gedrink het. Hy het glo self gesÍ hy wil graag daar begrawe word. Hy rus nie meer hier nie, want sy oorskot is intussen in Parys herbegrawe.

``Verder besoek ons graag Longwood, die huis waarin Napoleon hier op die eiland gewoon het. 'n Mens mag selfs die keiser se sterfkamer besoek. Daar is geen meubels in die kamer nie, maar bloot 'n bronsborsbeeld van hom met 'n lourierkrans op sy hoof in die hoek waar hy sy laaste asem uitgeblaas het. As 'n mens jou naam in die groot besoekersboek geteken het, het jy die twee vernaamste merkwaardighede op die eiland gesien.

``Elke 14 dae of 3 weke moet ons vir sanitÍre doeleindes in die kamp 'n diep sloot grawe. Elke krygsgevangene kry 'n beurt om te help. Sommige stywe koppe of bloot luiaards weier die werk en kry dan vyf dae tronkstraf. Hulle word vir daardie tydperk in 'n tent opgesluit en deur 'n skildwag bewaak. Hulle ontvang hul gewone kos, maar mag nie lees of rook nie en is eintlik gedoem tot vyf dae van niks doen nie.

``Elke Sondag hou die Engelse priester van die Engelse kerk kerkparade en preek dan vir die Engelse soldate. Sowat 50 Boerekrygsgevangenes wat beweer dat hulle tot die Engelse kerk behoort, woon Sondae die seremonie by. Hulle is verraaiers, hierdie Boere, ellendige verkopers van hul land, wat die strop nie werd is waaraan hulle gehang behoort te word nie. Want na afloop van die preek speel die orkes die Engelse volkslied. Al die soldate sing God save the Queen en daardie 50 skurke skaam hulle nie om plegtig daaraan mee te doen nie. As elkeen die straf ontvang wat hy verdien, sal hierdie boewe nie oorgesien word nie.

``In Julie verlede jaar het sowat 30 Boere 'n versoek onderteken om die eed van trou aan die Britse koningin te mag aflÍ. Die ander Boere was ontstoke hieroor en het 'n groot vergadering gehou om die verraaiers se optrede te bespreek. Kmdt. M.J. Wolmarans van Potchefstroom het die woord gevoer en verklaar dat dit 'n skande is om wankelmoedig te wees terwyl ons broeders se bloed nog vir ons vryheid in ons vaderland vloei. Ons moet die verraaiers broederlik vermaan, maar as hulle volhard in hul skema kan ons hul lewe en veiligheid nie verder waarborg nie, want niemand wil met verraaiers saamleef nie. Hierna het ons, tot ergernis van die Engelse offisiere wat soos kwaaijongens van agter die tente vir ons geloer het, ons volkslied gesing. Net die volgende dag is die hou van vergaderings in die kamp verbied.

``Een van die Afrikaners in Deadwoodkamp wat verlof gekry het om buite die kamp te gaan werk, die hoefsmid Charles Smith, het in Julie 1900 met 'n plaaslike skoonheid die huweliksboot betree. Vir die meeste Boere is dit 'n skande dat een van hul mense met 'n gekleurde vrou trou en die hele kamp was in opskudding daaroor. Smith en sy eggonote is blykbaar steeds gelukkig saam.

``Langsamerhand het daar in ons kamp etlike honderde huisies of hutte, gemaak van blik, ou sakke en beskuitkiste, verrys. Hierdie klein stad staan as Blikkiesdorp bekend. Dit is veel gemakliker om in so 'n hut te bly as saam met 12 man in 'n tent. Terselfdertyd het daar 'n menigte industrie in ons kamp te voorskyn gekom. So is daar pannekoekbakkerye waar mens vir 2 pennies 'n pannekoek met suiker en 'n koppie tee of koffie met suiker kan koop. Verder is daar koffermakers wat uit ou beskuitkiste die aardigste koffertjies aanmekaartimmer. Ander krygsgevangenes weer maak miniatuurossewaens en ander rytuigies en verkoop dit aan Engelse offisier as aandenkings. Dan is daar pypsnyers, fotograwe, tekenaars en selfs kroeghouers. Nieteenstaande die strengste verbod op sterk drank in die kamp vind daar deurgaans verskeie flesse hulle weg na die kroeghouers en hulle vind altyd kopers vir die drank want die Boere hou nou maar eenmaal van hulle sopies. In Oktober verlede jaar het die Kampkommandant gehoor dat daar sterk drank in ons kamp inkom. Die nuusdraer het selfs die blikhuis uitgewys waar die kroeghouer, Kootjie Doeleman, sy besigheid bedryf. 'n Hele peloton soldate het op die huisie toegeslaan, op al die voorraad beslag gelÍ en die huis tot op die grond afgebreek. Doeleman is tot 14 dae tronkstraf gevonnis ten einde sy sondes te gaan oordink.

``In November verlede jaar het die krygsgevangene lede van die eertydse Hollanderkorps 'n groot saal met die naam Tot nut en vermaak in die kamp opgerig. Die mure is van pale, ou sakke en blik gemaak en binne-in is daar banke asook lang tafels waarop boeke en allerhande tydskrifte uitgestal is. Vir 'n pennie kan 'n mens daar 'n koppie koffie of tee koop. Op die openingsaand het die Hollanders 'n toneelstuk met die naam Die skone Helena of die maagd van Blikkiesdorp opgevoer. Die saal is spesiaal vir die geleentheid met blomme versier. Die akteurs was almal krygsgevanges en hulle het die Boere heerlik laat lag. Die dag voor Kersfees het die Hollanders toestemming ontvang om 'n groot boom uit die goewermentsbos te kap en as kersboom in die saal op te rig. Hulle het dit mooi versier en op Kersaand 'n groot fees gevier met allerhande geskenke uit Holland.

Machadodorp, 3 Julie. Ons het pas via 'n tussenganger, wie se identiteit ons beslis nie sal openbaar nie, 'n uitvoerige berig ontvang oor die aankoms en vestiging van die eerste Boere wat as krygsgevangenes na die eiland St. Helena gestuur is. Die verslag is gedatteer 31 Mei en is opgestel deur L.C. Ruijssenaers, 'n Hollander wat by die Boeremagte aangesluit en reeds verlede Oktober tydens die slag van Elandslaagte krygsgevange geneem is. Die eiland St. Helena is natuurlik veral bekend omdat die beroemde keiser Napoleon Bonaparte van Frankryk sowat 80 jaar gelede daar gevange gehou en inderdaad daar oorlede is.

Volgens inligting tot ons beskikking beslaan St. Helena bykans 12 000 ha. Dit is erg bergagtig en beskik nie oor 'n hawe nie. Hoewel dit sowat 2 700 km noordwes van Kaapstad en nie ver suid van die ewenaar geleŽ is nie, is die temperatuur matig. Die sowat 3 000 permanente inwoners voer 'n armoedige bestaan. Dit is 'n Britse kolonie.

Die eerste Boerekrygsgevangenes, onder wie genl. Piet Cronjť, het op 14 April op die eiland aangekom. Ruijssenaers en sy mede-gevangenes het 2 weke later gevolg. Hier volg sy beskrywing van hul ervarings:

``Op Maandag, 23 April, is ons meegedeel dat ons nog dieselfde dag sou vertrek. Ons moes self al ons bagasie na die stasie in Simonstad dra. Dit is 'n driekwartier se stap en was weens die erge hitte so uitputtend dat 'n ouerige man aan ooreising beswyk het. Ons is op beestrokke gelaai en onder die bewaking van gewapende Tommies na die Kaapstadse hawe vervoer. Daar is ons op die stoomskip Bavaria gelaai. Die skip was propvol ek het gehoor ons was 1 500 krygsgevangenes aan boord. Ons het weinig kos gekry en ons beddens was hangmatte. Gevolglike het ons verkies om teen die mure te sit en slaap.

``Op 25 April om sesuur die aand het die Bavaria vertrek. Hoewel die see redelik kalm was, het die meeste Boere seesiek geword. Menige Boere het gedink hulle is besig om aan een of ander aaklike ongesteldheid te sterf. Een ouerige kÍrel het beteuterd gekerm: `Help my tog, ou swaer, vra tog asseblief die Engelsman of hy nie die skip kan stop nie, ek sal hom helfte van my plaas en boerdery gee.' Ietwat later het dieselfde man saggies geprewel: `Ouboet Hans, sÍ tog vir die vrou en kinders hoe naar my dood was.' Hy is natuurlik nie dood nie. Almal van ons het St. Helena springlewendig bereik.

``Dit was op 1 Mei dat ons vroegoggend die eiland op die horison bespeur het. Twee uur later kon ons die kaal, steil rotse van St. Helena voor ons uit die see sien oprys. Maar ons teleurstelling was erg toe ons nie onmiddellik van die ellendige skip afgelaai is nie. Ons moes byna drie weke lank op die beknopte dek wag omdat die watertoevoer na ons kampplek nog nie in orde was nie.

``Uiteindelik, op 18 Mei, het daar 'n paar klein bootjies na ons skip gevaar en is ons met hulle na die land oorgeplaas. Dit was wonderlik om weer vaste grond onder ons voete te voel. Ons is onder die bewaking van gewapende soldate deur die hoofstad, Jamestown, na ons kamp begelei. Die dorp lyk oud, vervalle en vuil.

``Die straat wat na die kamp lei, heet Napoleonstraat. Dit is 'n stil bergpad en talle van die burgers wat nie hul bagasie op die waens, wat daarvoor bestem was, wou plaas nie, moes dit noodgedwonge langs die pad neersit omdat hulle dit eenvoudig nie verder kon dra nie.

``Hoe verder ons teen die berg op gevorder het, hoe meer het ons ons lot begin aanvaar, want met elke voetstap en om elke draai van die pad het St. Helena mooier geword. Van die see af het die eiland vir ons onherbergsaam en verlate gelyk, maar hoe hoŽr mens stap, hoe groener word dit, met die vee wat teen die hange wei, palmbome, tuine en hier en daar 'n boerdery.

``Ons kamp staan bekend as Deadwood Camp. Dit word sů genoem omdat die sterk passaatwind altyd uit dieselfde rigting waai, met die gevolg dat die bome en struike almal na een kant oorhel. Die stamme van al die bome is krom en die takke hang af grond toe asof die bietjie lewe in hulle jaarliks meer uitgedoof word. Vandaar die naam Deadwood. Nie ver van ons kamp af nie is die woonhuis Longwood, waar Napoleon aangehou is en gesterf het.

``Ons was tot die dood toe uitgeput na ons lang mars. Vir talle van ons was dit die 12de bewaarplek waar ons opgesluit is. Die Britte behandel ons voorwaar sleg in ons krygsgevangenskap. 'n Hond is telkens beter af as ons. Maar vir afwisseling het hulle beslis gesorg. Ons vermoede is egter dat ons lewe voortaan bra eentonig gaan word.

``Dit was omstreeks 3-uur die middag toe ons Deadwood-kamp bereik het. Ou bekendes wat verlede maand al as krygsgevangenes hier aangekom het, waaronder kapt. Versťlewel de Wit Hamer, het ons kom opsoek. Hulle wou graag oorlognuus verneem, maar ons weet niks van die verloop van die oorlog af nie.

``Daar is een tent vir elke 12 man en in elke tent het die Engelse een ketel, 12 komme, 12 lepels en 12 vurke neergesit alles nuut en netjies maar geen kos nie, en dit was waarna ons gesmag het. Gelukkig het ons vriende wat al 'n paar weke hier is ons met die bietjie voorraad wat hulle opgegaar het, te hulp gesnel.

``Kort na donker het ek en my tentmaats gereed gemaak vir ons nagrus. Almal het met hul voete na binne in 'n kring gelÍ en rustig geslaap tot omstreeks middernag toe ons wakker geskrik het toe ons huisie van seil deur 'n woeste reŽn- en windbui grotendeels omgewaai is. Dit was alles behalwe prettig, maar deur verenigde kraginspanning het ons die tent weer maak staan en na sowat 'n halfuur was ons weer heerlik aan die slaap, op die nat grond asof niks gebeur het nie.

``Toe ons die volgende oggend opstaan, was die hele kamp in 'n modderpoel omgeskep. Ons vriende het vertel dat die reŽnbuie volstrek niks buitengewoon was nie, maar 'n normale verskynsel. Ons reaksie is dat ons die Britte om waterskoene sal moet vra, want ons huidige skoene sal beslis nie lank in hierdie nattigheid hou nie.

``Kort na ons aankoms by Deadwood-kamp het ons verneem dat 'n jong burger van Schweizer-Reneke in Wes-Transvaal, Johannes Viljoen, verlede maand dou-voor-dag een oggend deur 'n Britse skildwag doodgeskiet is. Die skildwag het agterna beweer dat Viljoen onder die draad wou deurkruip, maar sy lyk is oomblikke nadat hy geskiet is veilig binne die omheining gevind. Ons glo dit was 'n lafhartige moord en dat die verskoning belaglik is, maar die krygsraad van Britse hoofoffisiere het die skildwag onskuldig bevind. Viljoen is met volle krygsmanseer begrawe.

``Op 22 Mei het daar groot jolyt geheers in die kamp van die Britte, wat skaars 200 meter van ons af geleŽ is. Hul musiek het die hele middag gespeel en hulle was oorstelp van vreugde. Ons het by 'n skildwag navraag gedoen oor die rede vir hul uitgelatenheid. O, was sy antwoord, daar het 'n berig gekom dat Mafeking ontset is en nou vier ons fees. Vir ons het dit soos 'n nederlaag gevoel en die nuus het ons geensins vreugdevol gestem nie. 'n Groot aantal Boere glo dat dit 'n leuen is dat Mafeking ontset is en dat die Britte dit verkondig om ons mismoedig te stem. 'n Ander groep Boere staan onverskillig teenoor die nuus. Net 'n klein gedeelte glo die nuus en luister met droewige harte hoe die vyand fees vier.

``Twee dae later was daar weer feesvierings in die Engelse kamp. Hierdie keer het dit ons nie geskeel nie, want dit was hul koningin se verjaardag. Hierdie gebeurtenisse het gelukkig vir bietjie afleiding gesorg.

``Hier by Deadwood-kamp is ons sowat 600 meter bo seevlak en soms 'n hele dag lank deur wolke omhul. Dan is dit donker en kil en telkens reŽnerig, wat beteken dat alles nat of minstens klam is. Dit neem alle plesier uit ons bestaan, wat verder versuur word deur Jobstydings van oorlogsterugslae. Gister het ons juis verneem dat die Britte besig is om die Vaalrivier oor te steek en nou ons hoofstad bedreig. Party Boere sing die hele dag lank Psalms, wat my nog meer bedruk stem. Ek verkies om vroeg te gaan slaap, sodat ek vir soveel ure moontlik van die droewigheid van ons bestaan verlos kan wees.''

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte