Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Swaarste om alles te verloor wat vir jou heilig was.

Marie Scott

`DIT was seker van die swaarste in die hele oorlog om alles prys te gee wat vir jou heilig was,'' het 'n Boer, die pa van Marie Scott later geskryf oor die vredeskonferensie en die vredesluiting in die Anglo-Boereoorlog .. 

Scott skryf: Hans Oberholzer (my pa) is in 1880 gebore. Herinneringe van sy kinderjare, die ABO en die tyd daarna tot en met 1944 het hy neergeskryf. Ek gee enkele opsommings en grepe daaruit, soos hy dit geskryf het. 
Sy moeder is oorlede toe hy vyf jaar oud was. Op 15-jarige ouderdom trek hy saam met sy pa na Rhodesië waar hulle hulle in Salisbury vestig. Die volgende jaar, 1896, sterf sy pa aan malaria en hy kom ná 'n moeisame tog te voet, per skip en per trein terug na Suid Afrika. 
Hy bly eers by 'n broer, toe by 'n oom en vroeg in 1899 sluit hy hom by die Staatsartillerie in Pretoria aan. Daarvan skryf hy: ``Daar die agtermiddag was ik klaar ingesweer in die Staatsartillerie. Toe was ik 'n soldaat van oom Paul. Toe het dit biekie beter gegaan tot Oktober, toe moes ons na die Groot Oorlog wat drie jaar aangehou het, gaan.

``Ik is toe gestuur na Mafeking en van daar na Derdepoort daar waar die vrouwens en kinders so wreed deur . . . vermoor is.'' 
Vervolgens word hy in Maart 1900 siek aan die ``koors'' - dalk nog 'n malaria-aanmaning ``en'' skryf hy, ``ek is toe biekie later gevang deur die Engelse en toe ik weer gesond geword het, het hulle my weggestuur na Groenpunt in die Kaap. Op weg daarheen het ik weggeloop op Vredefortweg.'' 
Sy ouer broer het in daardie omgewing gewoon, en die meisie wat sy vrou sou word, ook. 
``Toe het ik weer by 'n Boerekommando aangesluit by Kommandant J(A)P vd Merwe van Parys, wat baie goed was vir my. Hy het my adjudant van hom gemaak. 
``Toe het die Groot Oorlog eers begin. Die 12de Julie 1901 is ik gewond naby Wolwehoek. Ik was ook saam met die groot trek na die kolonie tot by Brakrivier.

``Ik was ook saam na die konferensie op Vereeniging. Nouja, nou is die oorlog verby. Ons is die aand terug van Vereeniging af na Vredefortstasie, daar afgeklim die nag, die anderdagmôre vroeg is ik en kommandant van der Merwe na die vrouwens kamp.
``Dit was 'n groot lawaai om twee wildeboere te sien, wat van die oorlog af kom. Ons het omtrent 'n uur daar versuim toe is ons na die kommando wat na aan Parys was. Daar aangekom met die tyding dat ons, ons land en alles verloor het en dat ons moet wapen neerlê.  ``Dit was toe 'n groot rumoer tussen die burgers. Die gewere is party daar stukkend geslaan. Ons moes net maar praat om alles duidelik te maak en hulle tot bedaring te kry. 
``Ik het toe in Parys gebly. Ik het vier perde oorgehou. Twee blou perde het ek dadelik aan boere wat by die Engelse was, verkoop vir 50,00 pond die paar. Ik was ook die eerste man wat werk gekry het. Die magistraat was op Vredefort en moes twee keer per week na Parys gaan en die pad was baie sleg. Toe kry hy my om die pad tussen Parys en Vredefort reg te maak Ik het my toe maar tuisgemaak onder die Engelse. Ik was toe voorman van September 1902 tot November 1903. My loon was 10/- per dag. Toe was ek sommer 'n ryk man.'' 
Tot sover sy dagboek.  My moeder met wie hy in 1903 getroud is, was in die konsentrasiekamp by Vredefortweg, waar haar enigste suster in die kamphospitaal dood is. Sy kon nooit oor die oorlog praat nie en het altyd in hartseer gestol.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte