Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Sarie Marais se graf ontdek.

 

'n VERGETE graf sonder 'n steen in 'n ou begraafplaas van Bloemfontein is die laaste rusplek van die vrou, wat in haar jong dae die Afrikaanse woorde van die bekende liedjie Sarie Marais geinspireer het. Die opsporing van dié graf is die resultaat van 'n soektog deur mej. Joan Abrahams van Bloemfontein, beter bekend as Tant Mossie, nadat sy 'n hoteleienaar in Spean Bridge, Skotland, by 'n monument daar naby ontmoet het. Hy bedryf 'n huismuseum. Sy het daar ontdek Sarie Marais is die amptelike regimentsmars van die Royal Marines Commandos. Dié band met die bekende liedjie spruit uit die Tweede Vryheidsoorlog waarin lord Shimi Lovat in Suid-Afrika boereplase afgebrand het. Hy het uiteindelik die guerilla-gevegstyl van die boerekommando's huis toe geneem, en die Britse Commandos op die been gebring. Ná haar terugkeer na Suid-Afrika het mej. Abrahams na die bekende Sarie se graf begin soek. Nadat sy naslaanwerk in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum en ander navorsing gedoen het, het sy tot haar skok en ontnugtering 'n ongemerkte graf met 'n paar molshope daarop in Bloemfontein gekry. Haar bevinding berus hoofsaaklik op navorsing van mnr. J.K. Strijdom van Potchefstroom, wat bevind het die Sarie na wie die liedjie genoem is, is heel waarskynlik mev. Susara Margaretha (Sarie) Toerien, gebore Maré nie Marais nie. Sy is op 19 Desember 1884 in Pretoria met mnr. Jacobus Petrus (Jepete) Toerien getroud, en die egpaar het 16 kinders gehad. Mnr. Toerien het sover vasgestel kan word die eerste twee verse van die liedjie, wat op die wysie van die Amerikaanse liedjie Ellie Rhee gesing word, aan die Natalse front in die Tweede Vryheidsoorlog geskryf. Ná mnr. Toerien se dood op 3 Mei 1920 aan malaria het sy vrou haar in Bloemfontein by een van haar dogters gevestig. Wou nie 'selfverheerliking' toelaat Oor die jare het

Die Burger se susterkoerant in Bloemfontein, Die Volksblad, verskeie kere oor dié bekende liedjie en Sarie geskryf, maar sy wou nie 'n persoonlike onderhoud toelaat nie. Die hoofrede was glo omdat sy baie gelowig was en nie ``selfverheerliking'' wou toelaat nie. Op 5 Maart 1942 het 'n brief in Die Volksblad verskyn waarin beweer is die skrywer van die woorde van Sarie Marais kom van ``papbroekland''. 'n Kleinneef en naamgenoot van mnr. Toerien, wat in Bloemfontein gewerk en dikwels met sy dogters kontak gehad het, het op die brief gereageer. Die ontstelde niggies het hom gevra om dit te doen. Een van hulle het hom twee dae ná die verskyn van die brief op kantoor besoek en gevra om daarop te reageer, want haar pa hét die woorde geskryf en die briefskrywer het hom dus beswadder. Op 11 Maart 1942 het dié mnr. Toerien se brief toe onder sy naam in Die Volksblad verskyn. Daarin het hy gesê wyle mnr. Toerien het nie van papbroekland gekom nie, maar van die Paarl en dat hy inderdaad die skrywer van Sarie Marais was. Ná dié brief is hy deur verskillende mense, onder wie historici en selfs uit die buiteland, om meer inligting genader. Hy het toe dieper op die saak ingegaan. Al vier mev. Toerien se dogters, wat toe in Bloemfontein gewoon het, het hom verseker hul ma was die Sarie wat in die lied genoem word. Mev. Toerien het dié feit glo erken, maar dit later ontken om te voorkom dat 'n ophef van haar gemaak word. Presies wanneer Sarie Marais die Marines se regimentsmars geword het is nie seker nie. In 'n artikel in die Daily Telegraph word hulde gebring aan luitenant-kolonel sir Vivian Dunn wat onlangs oorlede is. Die berig sê: ``His arrangement of the Boer song Sarie Marais is the regimental march of the Royal Marines Commandos.'' Maar Dunn is eers in 1931 aangestel as ``director of music'' van die Portsmouth afdeling van die orkes. Miskien was sy weergawe van Sarie Marais net 'n nuwe verwerking van die liedjie. Dunn moet 'n besonder imposante figuur gewees het. Sy orkes was aan boord van die slagskip Vanguard wat Koning George VI en sy gesin ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika gebring het. Tydens dié besoek het Dunn glo verskeie wysies wat die koninklikes hier gehoor het, op hul versoek verwerk vir die orkes.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte