Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Briewe in gebroke Nederlands vertel van belewenis op slagveld.

HIER is 'n storie, saamgestel uit 'n briefwisseling tussen my oupa Hendrik Weideman en ouma Sannie van die plaas Knapdaar, Lindley, skryf Susie Terblanche.
Sy skryf: Briewe wat ouma Sannie stuur per adres kmdt. Naud se lager en syne wat kom van die slagveld, geskryf in gebroke Nederlands, soos die gebruik was. Geskryf met . . . sou dit wees . . .Stephen's se blue black ink. En 'n soms onwillige nib of anders met 'n kort potloodjie, skerp gemaak met sy sakmes.


Briewe van 100 jaar oud. Dun van baie hanteer en bros van baie keer se lees. Die oorlog breek uit en die Boere word opgekommandeer. Ouma Sannie moet vinnig proviand gereed kry vir oupa Hendrik se vertrek na die slagveld. Boerbeskuit wat 'n paar vinger hoog bokant die panne uitrys, word uitgedroog. Lang rugbiltonge word in 'n slopie gepak. Ander vars eetware word saam ingepak vir die rit 'n uur of twee te perd ver na Kroonstad waar die Boere saamtrek om in kommando's ingedeel te word. Beaufort, Oupa Hendrik se vosbruin spogperd, word netjies geroskam en kry 'n paar hande vol ekstra mielies in die krip. Ou Vark sal die handperd wees wat die proviand en ander goedere moet dra. Hy is spierwit, maar lief om in die modder te rol - vandaar sy rare naam. 

 Die laaste opdragte word gegee wat op die plaas gesaai en geplant moet word. Vir die versorging van die beeste en die groot trop skape. Tyd om afskeid te neem breek aan. Oupa op Beaufort se rug met die teuels van Vark wat langsaan draf in die een hand, raak vinnig weg tussen die bome op die pad na die slagveld. Vir oulaas waai hy met sy hoed vir die handjievol mense wat hartseer agterbly. Die eerste brief, gedateer 1 November 1899 met 'n stempel van Kroonstad daarop, kom op Knapdaar aan. "Lieve Sannie, ik was de avond op Kroonstad met alle voorspoed en heef vernomen dat ons menschen nog te Norvalsburg is. Als ik leef ga ik morgen naar hun toe. Hier is een verskrikelijke gewoel van menschen, ik het nog nooit gezien zooals het hier is. Ik is van mijm kost ontroof toen ik op de dorp kwam. Net mijn rug gedraai toe was het gesteel.'' Geen ontsteltenis, geen ander kommentaar nie net die woorde . . . ``die een had zeker honger''. Die volgende brief kom van Natal op 11 November 1899. ``Wij zijn nog hier na aan het dorp. Onze kanonnen en die van die Engelse schieten mekaar. De Engelsen graven nu gaten en sloten in de walle van de rivier en onder de rantjies en koppen.'' 

 Nog 'n brief kom van Natal, sonder 'n datum daarop. "Het is regenrig en mis. De lucht deinzig. Een bestieren des Heeren. De vyand was op de rand en die generaals zeg het is onmogelik voor ons te ontkommen. Ons was vol onder schoot. Toen vuur de Engelse met bommen en meksims dat de kogelen regen. God beschik dat er net een man van ons zwaar gekwest zijn. Maar hy leef en daar is hoop voor hem''. 'n Derde ongedateerde brief kom van Natal. "Er is nu vierduizend gevangenen in Pretoria en vele dood geschiet. De kaffers vertel dat hulle niet kan voorbly te begraven. De reuk is al vreeslijk in die dorp. Het is vreeslijk om op de slagveld te komen. Het gekerm van de gekwesten. En zoveel doden.'' En dan kom daar daar 'n meer ontspanne huislike briefie van Oupa op Knapdaar aan. "Hoe gaan dit met klein Ryna,'' vra hy, "het sy al baja kuikentjies en eendjies. Is Roelfie en Dewald al groot en zoet. Kan Dewald al loop, ik hoop toch zoo. Mijn broeders is hier naby, Roelof, Frans en Willem. Jakob is by Lemoenboord aan de rivier.''


Die volgende paragraaf uit 'n daaropvolgende brief lees . . . ``Het is vreeslijk om de geveg by te wees. De kanonnen schieten ver en de bommen barsten in de lucht. Sommige vooruit en ander achteruit. Maar de Heer beschik. Hy strij voor ons. Laten wij ons maar elkander gedenken voor de Troon der Genade want al zijt wij ver van elkander de Heer zien ons allen aan. Alleen Hij kan helpen.'' Maande later is die oorlog oor, maar die vryheid verlore. Ouma Sannie met haar vyf seuntjies en een dogtertjie kom ongeskonde op Knapdaar aan n maande van angsvolle vlug voor die vyand in 'n gehawende ossewa. Verslae aanskou hulle die verwoesting wat die Engelse op die plaas aangerig het. Oupa kom een wolkelose middag onverwags terug. Hy lei Beaufort en ou Vark. Ruiter en perde is oorlogsmoeg en afgetakel, maar hulle leef. Met groot dankbaarheid val vader, moeder en kinders mekaar om die hals. Hul Hemelse Vader was vir hulle goed. Op Knapdaar is daar weer lewe. Skuiling word gemaak in die murasie met sinkplate wat oorgebly het toe die Engelse die statige ou Boerewoning afgebrand het. Roet en as l oral waar meubels van stinkhout, erfstukke uit die ou Kaapkolonie, gestaan het, verwronge metaal waar katels met blinkgevryfde kopknoppe gepronk het. Tot die woning herbou is, sal die mankolieke ou ossewa en die swartgebrande sinkplate 'n woonplek moet wees. Uit die wakis kom 'n stukkie hekelwerk, 'n vierkantjie wat pas oor 'n babakussing - elke keer gebruik as 'n nuwe baba in die familie gebore word, die woorde ``welkom in 't leven'' 1886 daarin gehekel; 'n bruin vlek in die boonste hoek seker afkomstig van Lennons se hoesmedisyne. 

 Daar is ook my pa se dooprokkie van 1892 - wit linne met eweredige opnaaiseltjies en borduursel. En daarlangs l 'n fyn gegraveerde horlosietjie aan sy ketting wat om die nek van die Hugenote-stammoeder gehang het toe sy vir haar geloof uit Frankryk gevlug het. Daardie eerste aand is daar 'n groot verrassing toe Ouma se broer op die plaas aangery kom met 'n halwe blesbok voor op sy perd. Ook hy het die oorlog oorleef. Die kinders is uitbundig vrolik toe hulle ryp turksvye in die turksvybos ontdek. 'n Vreemde kombinasie, 'n karige maal maar toe die vuurtjie brand en almal saam eet, word dit 'n feesmaal. Alles vreemd maar, tog so bekend. Die blink sterre in die swart naghemel is nog dieselfde. Die Suiderkruis is op sy gewone plek. Maar onder die sterrehemel die swart tapyt van lord Kitchener se verskroeide aarde. En dan, die eerste dagbreek weer saam op die plaas. Doodse stilte. Stilte uit die verlate le veekrale. Nie 'n hoenderhaantjie wat die nuwe dag aankondig nie. Maar Oupa, die diepgelowige ou patriarg, verseker hulle dat 'n nuwe toekoms wag, dat die son weer sal skyn, dat ren die swart aarde weer in 'n groen lushof sal omskep. Die bome sal weer op Knapdaar bot, vols sal weer nes maak in hul takke en eendag sal daar weer jubelsang wees as die rooidag breek.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte