Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


 Vlootbrigade neem nie deel aan besetting parade in Bloemfontein oor misverstand.


Naval Hill in Bloemfontein se wit perd. Volgens navorsing van die Vrystaatse Toerismeraad bestaan twee weergawes oor wie die perd daar uitgepak het. Die een i
s dat die Wiltshire-regiment die wit perd in die Anglo-Boereoorlog daar gepak en geverf het om aan te dui dat die Tommies daar vars perde kon kry. Die soldate, wat van Ladybrand se kant gekom het, moes dit van ver af kon sien.

'n Misverstand in seremoniële protokol het meegebring dat die Britse Vlootbrigade nie soos belowe, aan veldmaarskalk lord Roberts van Kandahar, se seremoniële besettingsparade van Bloemfontein op 13 Maart 1900 deelgeneem het nie. Dit het egter nie dié seemag uitgesluit van die veroweraar se ongeskrewe reg om mee te doen aan naam veranderinge nie: Benewens al die nuwe Victoria-plekname, is die ``Berg benoorde Bloemfontein'', verander na ``Naval-Kop''. In ooreenstemming is ook ``Schutkraal-heuwel'', verander na ``Seinheuwel'' en die heuwel direk daaragter, ``Grant-heuwel'' genoem. Die oorsprong van die naam Grant is egter nie duidelik nie.

Dit is egter nie uitgesluit nie dat die oorsprong van die naam ook in die Britse vloot geleë is. Met die aankoms van lord Roberts in Kaapstad het hy ná 'n vinnige evaluering die vloot gelas om nog twee 4,7 duim-skeepskanonne vir sy veldtog in gereedheid te kry. Die kanonne en hul bemanning het gestaan onder die bevel van kommandeur W.L. Grant, van die vlagskip H.M.S. Doris, en is onderskeidelik Little Bobs en Sloper genoem. Gesamentlik was hulle bekend as Grant's Guns. Die skeepskanonne het Roberts (Bobs) tot in Bloemfontein vergesel.
Die ongewoonheid - vlootbakens in 'n gebied meer bekend vir sy sandstorms - is toe nie so ongewoon nie.
Onbewustelik het ons hier 'n voortsetting van 'n bestaande militêre tradisie. Dit is nie die eerste keer wat die beskerming van Bloemfontein aan seegeskut oorgelaat is nie. Die eerste vesting in Bloemfontein, Fort Drury, is gebou om die watervoorraad van die gebied te beskerm. Die fort is egter in 1848 deur 'n groter vestingwerk, wat Queen's Fort genoem is, vervang. Op die bastions van dié fort, is vier 9 ponder-skeepskanonne geplaas, wat Bloemfontein moes beskerm. Op 13 Maart 1900 is Bloemfontein deur die Britse leër beset.
Op 'n krygsraad vergadering in Kroonstad op 17 Maart 1900 is besluit om die Boere se krygstaktiek te verander.

Pleks van om die vyand deur middel van defensiewe stellings te probeer stuit is besluit om met kleiner geveg groepe op onder meer voorraad linies te konsentreer. Die fase, wat ook as die guerrillafase van die oorlog bekend staan, is ingelui deur die geveg by Sannaspos (31 Maart 1900) waar genl C.R. de Wet die Britse mag onder brig.genl. R.C. Broadwood, verslaan.

Die skokgolf van 'n verpletterende neerlaag was só groot dat Roberts onmiddellik die Vlootbrigade en die geskut van kommandeur Grant op die heuwel noord van Bloemfontein ontplooi het om die stad te beskerm. Binne enkele dae ná hul vestiging het die Vlooties aan die heuwel 'n kuswagkarakter gegee. Alle roetes na, van en deur die basis is tipies vloot, met wit gekalkte klippe uitgemerk en afgerond. Kort voor lank is die heuwel ook Navalkop genoem.
Van 18 April 1900 het lede van die Artillerie by die Vlootbrigade begin oorneem. Die Bloubaadjies moes saam met Roberts noordwaarts beweeg. Artilleriste van die Royal Regiment of Artillery was bewapen met vier 5 duim-skeepskanonne wat as die Weary Willies van Colesberg bekend gestaan het. En weer was Bloemfontein vir beskerming aangewese op skeepskanonne: twee 12-ponders, wat die Vlootbrigade op Naval Hill gelaat het en die Weary Willies (Jeans 1902: 99).

Die naam Naval Hill is egter nie die enigste nalatenskap wat die toets van 100 jaar deurstaan het nie.
Aan die oostekant van Naval Hill is die bekende klipgepakte witgekalkte perd van Bloemfontein. Wie vir die wit perd verantwoordelik is, kan nie met sekerheid gesê word nie

In die algemeen word aanvaar dat die Duke of Edinburgh's (Wiltshire Regiment) vir dié landskapskuns verantwoordelik was.
Die aanspraak is gegrond op 'n byna identiese klipperd in Wiltshire, Engeland. Behalwe dié ooreenkoms bestaan ongelukkig geen verdere heenwysing na dié infanterie-regiment nie. In die kenteken, vaandel, leuse of lied is daar geen assosiasie met 'n perd as onderskeidingsteken nie.
Meer algemeen word vandag aanvaar dat die klipperd teen die hang van Naval Hill 'n heenwysing na die remontedepot in Bloemfontein was. Ooreenkomstig die Times History of the War het die remontedepartement van die Britse Leër 520 000 perde en 150 000 muile aan vegtendes in Suid-Afrika beskikbaar gestel.

Hiervan het 350 000 perde en 50 000 muile te velde gevrek. In die werk The Boer War and Military Reforms beweer Stone dat die gemiddelde lewensduur van 'n perd nadat aan wal gegaan het net ses weke was.
Baie van die perde het nadat dit gelaai is, nooit die voorreg gehad om weer hoef aan wal te sit nie. Volgens Amery het 13 000 perde 2 000 muile op pad na die gevegsgebied in transito gevrek.

Kenners is dit eens dat tot en met die inname van Bloemfontein die versorging van ryperde en trekdiere, skandelik verontagsaam is. In die opmars na Bloemfontein het Roberts byvoorbeeld meer as die helfte van sy krygsdiere verloor. Die prentjie onderweg na Bloemfontein word treffend beskrywe deur T.T. Jeans, die mediese dokter van die Vlootbrigade wat die agterhoede van Roberts se opmars gevorm het: "All along the march lay hundreds of dead and dying horses and mules. The latter would rise their heads with a piteous look at us as we passed, and to weak even to do this for many seconds their heads would fall back on the grass, and a shudder pass along their flanks, for they knew their fate as well as we did'').

Roberts moes sy fout besef het, want kort ná sy aankoms in Bloemfontein het hy regulasies uitgevaardig wat die lot van veral perde bevoordeel het. Tot die remontedepot in Bloemfontein is ook drie plase, naamlik dié van Fischer, Lynch en Tempe toegevoeg om die situasie te beredder. Op die plase is perde die geleentheid gebied om te herstel en aan te sterk. Ook is alle vars perde van die Kaapse hawens na Bloemfontein gestuur om hier gekondisioneer te word. Om die omvang van Bloemfontein as remontedepot te begryp kan maar net gekyk word na 'n aanhaling uit 'n brief van Caroline Fichardt aan haar kinders: "Mounted men, transport waggons muleteers, are continually backward and forward . . . and the iron railing opposite is used for tethering horses, the whole pavement is taken up with horses and people must walk in the middle or side of the street.''

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte