Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Olof Bergh was 'n baie gehate man onder die Boere; het talle vermoor.

SOU 'n mens vandag die naam Olof Bergh noem, sou kwalik 'n wenkbrou gelig word. Dalk kan aan die brandewyn gedink word, maar in die Anglo-Boereoorlog was kapt. Olof Bergh 'n baie gehate man onder die Boere, skryf mnr. Jan van Wyk.

Hy skryf: Bergh was so gehaat omdat hy bevelvoerder was van 'n korps blanke wapenneerlêers en swartes wat verskeie Boere vermoor, plaashuise afgebrand en vroue en kinders gemolesteer het.
hy het veral uit Winburg opgetree, maar het ook kere in die Doornberg naby Ventersburg geskuil. Sy korps het onder bevel van 'n Britse offisier, kol. J.S. Barker, gestaan.

Die korps was op 28 Mei 1901 verantwoordelik vir die dood van Jan Scott, 'n Winburgse burger. Hy is koelbloedig vermoor. Op sy grafsteen staan: ``Gestorben deur verraad.''
Genl. C.R. de Wet maak ook melding van vier burgers wat ``gruwelijk'' deur Bergh se korps ``vermoord'' is. Hulle was van kmdt. Sarel Haasbroek se kommando. Die getuienis van burger G.J.S. van den Heever, wat drie van die lyke gesien het, is 'n bevestiging van hul afgryslike einde.
Hy meld dat ``die hendsopper en onder bevel van Bergh'' die kommando van Haasbroek by Doornberg, ongeveer 48 km noordoos van Winburg en 32 km wes van Senekal, in September 1901 omsingel het. Altesame 24 Boere is gevang en 4 gedood.

Ene Potgieter se ``hele kop was oopgeslaan en sy harsings het op die grond gelê. Ampie Botha is doodgeslaan en sy arms was fyngeslaan - natuurlik soos hy gekeer het. Toe is verder met een Martini-koeël by sy linkeroog ingeskiet en sy agterkop is weggeblaas, want jy kan sien dat hulle die geweer teen hom vasgedruk het soos die kruit hom gebrand het en dat hy nog een skoot deur sy maag gehad het.
`Ampie van Schalkwyk, die twee Ampies was neefs, het een skoot deur sy kop gehad - en dan het hy vyf skote op sy hart en een ronde kring gehad, dit het duidelik gewys dat die geweers teen hom vasgedruk was, want ons het nog die pluise uitgehaal.''

De Wet wou begin Desember 1901 dié moorde wreek. Hy het 'n aanval op Barker-hulle in die omgewing van Kafferskop, 30 km noordwes van Bethlehem, beplan. Hy het egter voor drie verenigde kolonne te staan gekom en was verplig om die aanval af te las.
Later in Desember het burgers van Haasbroek 18 van Bergh se swartes gevang en sonder meer gefusileer.
Volgens vertellings is Bergh in die Kaapkolonie gebore. Hy kon hom nie met die ideaal van die Vrystaters en Transvalers vereenselwig nie.
Interessant is dat hy met 'n nooi Wessels van Winburg getroud was. Hy het op die plaas Spuitfontein op die Doornberg gebly - op die grense van Ventersburg, Winburg en Senekal. Dit is ook hier waar hy vir hom 'n ``fort'' met skietgate gebou het.

Ná die oorlog het hy na sy plaas teruggekeer. Sy medeboere was hom baie vyandig-gesind. Op jakkalsjagte het hy glo altyd eenkant gery uit vrees dat hy geskiet sou word. Om een of ander rede het hy altyd 'n wit ``helmet'' gedra. Hy het glo in 'n rondawel gebly - uit vrees vir sy lewe was sy gelaaide rewolwer altyd byderhand.
Hy het op 'n dag ná die oorlog te perd op die plaas van wyle dr. M.T.S. Vogel se ma aangekom. Sy het hom met ``hoe durf jy op my plaas kom'' van die perd afgeruk en goed met die tong geroskam.
Bergh is later aan keelkanker dood en in Ventersburg begrawe.
Vogel was lank 'n beminde geneesheer in dié dorp.
Bergh se Sweedse stamvader met dieselfde naam het hom in 1665 by die Hollands-Oos-Indiese Kompanie aangesluit. Hy het in 1676 na Suid-Afrika gekom. Goewerneur Simon van der Stel het hom op verskeie binnelandse ontdekkingsreise gestuur. Hy is later aan stranddiefstal skuldig bevind uit 'n skeepswrak naby Kaap Agulhas en het tronkstraf op Robbeneiland en in die Kasteel uitgedien. Daarna is hy die keuse gestel om as burger in die Kaap te bly of as luitenant na Ceylon te gaan. Hy het laasgenoemde gekies. Ná vyf jaar is hy terug en het Groot Constantia uit Van der Stel se boedel gekoop.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte