Ons Boere se Trotse Geskiedenis.

 

 

Boere Stories en Staaltjies.

 

Poskoetshalte aan die Karoo se Bloedrivier herleef.

Die treinbrug oor die Bloedrivier tussen Laingsburg en Prins Albert. Die blokhuis is een van twee wat die treinbrug oor die Dwyka naby Prins Albert bewaak het.

In die uitgestrekte Groot Karoo by Prins Albert en Laingsburg loop 'n rivier met rooi water vanweë groot neerslae ysterpiriet in sy loop. Sy naam, Bloedrivier, is nie onvanpas nie. In die era toe pos nog per koets na die binneland vervoer is, was die Blood River Roadside Inn op die plaas Elim aan die oewer van die rivier 'n gewilde oornagplek vir moeë reisigers. Elim is sowat 70 km van Prins Albert en 65 km van Laingsburg. Dié herberg is onlangs ná omvattende opknapping in hergebruik geneem as afsaalplek vir reisigers en verblyfplek vir kultuur- en natuurbewustes wat die interessante omgewing wil verken.

Van 1867 tot 1879 het die herberg as 'n amptelike poshalte gedien. Met die koms van die spoorweg het dié doel egter verval. Dadelpalms, die fondamente van ou geboue, 'n fontein, 'n familiekerkhof en klipkrale getuig dat Elim eens 'n beduidende nedersetting was.

In die Anglo-Boereoorlog het die plek oornag iets van sy belangrikheid herwin toe die Boere-kommandant Gideon Scheepers op Kopjeskraal, 'n naburige plaas, deur die Britte gevang is. Scheepers het ernstig siek in die plaashuis gelê en 'n Engelssprekende distriksgeneesheer moes ontbied word omdat vir die kommandant se lewe gevrees is.Min het Scheepers en sy makkers kon dink dat die Britte hom eers gesond sou maak voordat hy in 'n propaganda-set eers ``verhoor'' en toe doodgeskiet sou word.Die Britte het Scheepers na Bloedrivier-stasie gebring en hom drie uur lank in die Elim-plaashuis laat rus terwyl op 'n militêre trein gewag is wat hom na Matjiesfontein sou wegbring.

Van daar is hy na Beaufort-Wes en toe na Graaff-Reinet, waar hy deur die leër "verhoor'' en gefusilleer is.
Scheepers is behandel deur die distriksgeneesheer van Prins Albert, ene dr. Mearns. Bloedrivier-stasie staan vandag bekend as Antjeskraal-sylyn. Die stasie is in 1890 deur die spoorweë as halte opgehef.

Die boere van die distrik Dwyka was egter bitter ontevrede hieroor en het 'n versoekskrif opgestel om hul stasie terug te kry. Dit is toe in ere herstel. Die naam is op 27 Oktober 1911 na Antjeskraal verander.

 

Boereoorlog Stories en Staaltjies.

 

 

Boereoorlog Stories, Staaltjies en Gedigte