Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Sarel Cilliers gryp nog ’n gelofte aan.

Sarel Cilliers word in die Suid-Afrikaanse geskiedenis onthou as die ou by wie die gedagte ontstaan het om voor die Slag van Bloedrivier ’n gelofte aan God te doen.

In 1862 het die sinode van die NG Kerk in Kaapstad vergader. Een van die afgevaardigdes was ouderling Sarel Cilliers van Kroonstad. Dieselfde Sarel Cilliers van die Slag van Bloed­rivier van 1838.
Omdat die land in die greep van ’n vreeslike droogte was, so het hy later verduidelik, het oom Sarel besluit om per boot van Durban na Kaapstad te reis. Saam met hom was daar agt predikante.

So ’n klomp predikante en ander geestelike leiers saam op een boot was geen goeie voor­teken nie. So het sommige geglo en hul reis gekanselleer. Cilliers het later vertel dat hy ’n eienaardige droom gehad het ’n week voor die boot, die SS Waldensian, se vertrek. Die aand voordat die reis sou begin, het hy weer dieselfde droom gedroom. Vir Sarel Cilliers was dit ’n teken van onheil wat wag.

En toe, op van alle dae die aand van 13 Oktober, gebeur dit. Die volgende dag sou die passasiers in Kaapstad aan wal kon stap. Maar in die vroegaand tref die skip ’n sandwal by Struisbaai.
Kapt. Joss het dadelik nood­pyle afgevuur, maar niemand het hierop gereageer nie.
Joss besluit toe sy skip moet ontruim word. Hy het sy offisiere opdrag gegee om die passasiers in te deel sodat hulle met reddingsbote na die strand geneem kon word. Vroue en kinders was eerste op die lys. Dan sou ouer mense gaan.

Die laaste groep sou die jonger mans en die bemanning van die skip wees.
Toe dit Sarel Cilliers, as deel van die “ouer mense”, se beurt was om gered te word, het hy teruggestaan. “Ek is bereid om te sterf. Laat diegene wat nie in Christus gered is nie minstens eerste uit die skeepswrak en van ’n watergraf gered word,” het ouderling Cilliers heel dramaties verklaar.

Hy het toe voortgegaan en weer ’n gelofte afgelê. “As ek van hierdie watergraf gered sou word, sal ek die Heer onmiddellik ná my aankoms op die strand die nodige eer en dank betoon,” het hy heel formeel uitgeroep. Later sou hy vertel dat ’n groot kalmte hierna van hom besit geneem het. Hy was ook nie meer bang om te sterf nie.

Eindelik is al die bemanning saam met die passasiers veilig aan wal gebring. Toe die dag breek, het ds. Alexander Smith ’n dankdiens in Engels gelei. Sarel Cilliers het tydens die diens ’n dankgebed in Hollands afgesteek en so, volgens sy vertolking, sy gelofte aan God na­gekom.
Die ontberings was alles verniet. Toe die klomp skipbreukelinge in die Kaap aankom, het die sinode besluit afgevaardigdes van “Natal en die Transgarieb” het nie sitting in die Kaapse sinode van die NG Kerk nie.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte