Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Harmansdrup toe enigste wat wegkom.

'n BOER wie se stadige geaardheid hom gered het tydens die tweede vryheidsoorlog.
Mev. H. Kruger skryf:
My man se oom, Casper Jan Hendrik Kruger van die plaas Geduldsfontein, Steynsburg, en sy broer, Johannes Kruger van Wolwekloof, Steynsburg, het as Kaapse rebelle aan die ABO deelgeneem.
Oom Casper was 'n dapper man en sy dogter vertel dat hy in 'n skermutseling in die hakskeen gewond is.

Weens die wond kon hy nooit gewone mansskoene dra nie. Hy het altyd stewels gedra om die enkel te ondersteun en dan het hy 'n ronde gaatjie uit die skoen gesny waar die teer plek was.
Hy het tot sy dood las van die wond gehad.
Oom Casper het egter een probleem gehad: Hy was 'n rustige man wat in geen omstandighede nie haastig kon word nie. Sy makkers het hom altyd gewaarsku dat hy, eendag is eendag, net te stadig gaan wees en dan in die Engelse se hande gaan beland.

Dit was in die stadium van die oorlog waar klein groepies burgers rondgeswerf het en as hulle die kans gekry het, vinnig aangeval en dan gevlug het.
Een dag kom die waarskuwing skielik en onverwags: ``Opsaal, burgers, die Kakies kom!''
Oorhaastig word opgesaal en gevlug en vir oulaas skree een nog:, ``Maak gou, Casper, vandag vang die Kakies jou!''

En toe gebeur 'n wonderwerk. Die hele groepie vlugtende burgers word gevang - behalwe oom Casper.
Hy was só ver agter dat die Engelse hom in die geharwar nie opgemerk het nie en hy kon veilig wegkom om weer 'n ander dag te veg.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte