Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Luistervink kom sy moses in kamp teë.


'n Luistervink wat sy moses teëgekom het toe hy Boervroue in die Winburg-konsentrasiekamp afgeluister het skryf Maria E. Burger.

My ouma Maria Elizabeth Smith (geb. Botha) en haar vier kinders is op 2 September 1901 van hul plaas Bright Sight, Ficksburg, na die konsentrasiekamp by Winburg gebring. Hulle is per ossewa vervoer. Om by die waens te kom, is die v
roue en kinders te voet ``aangejaag'', soos my ma as agtjarige kind dit beleef het.
As hulle by 'n dam of spruit gekom het, het die Tommies eerste geleentheid gekry om die water te gebruik. Die klere word dan uitgetrek en die luise dood geknip voordat hulle weer aantrek.

Een gesette Boere tannie was baie moeg en het op 'n miershoop gaan sit. Toe hulle verder moes gaan, het sy doodstil bly sit. 'n Tommie kom toe nader en beveel: ``Get up and go on!'' Die tannie wat nie 'n woord Engels verstaan het nie, het rustig bly sit. 'n Ander Tommie skree toe: ``Kill her!'' Die tannie kyk hom toe kwaai aan en sê: ``Engelsman, kielie aan my, dan neuk ek jou!''

In die kamp aangekom, het elke gesin 'n tent gekry. Ouma se tent was nommer 84. Elke dag moes hulle gaan toustaan om kos te kry. Die hênsoppers het die kos uitgedeel. As so 'n Boere tannie 'n stuk skaapvleis kry wat blou van die maerte is, gooi sy dit terug vir die hênsopper en sê: ``Jy kan dit vreet, ons eet nie sulke vleis nie.''

Saans het die vroue bymekaar gekom om te bid. Van die hênsoppers het dan kom luister en as vir die Boere gebid word, is die vroue na swakker kampe verskuif.
Een aand kon die vroue 'n luistervink sien nader kom. Die maan het die man se skaduwee teen die tent gegooi. Hulle het al hoe sagter gebid totdat die man sy oor teen die tentseil vasdruk. Terwyl hulle aanhou bid, het 'n tante opgestaan, 'n houthamer gevat, 'n hou so hard sy kon teen die luistervink geslaan en geskree: ``Voert boel!''

Die man is vloekend die straat af. Toe Ouma Maria oorlede is, het die familie iemand gehuur om vir die vier kinders te sorg.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte