Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Waaghalsige Boer ontsnap met 'n vriendelike `Good night, sir'.

`HIERDIE is die ware verhaal van uiterste dapperheid en waaghalsigheid soos deur Lourens Marthinus Erasmus, my grootvader, persoonlik aan my vertel,'' skryf mnr. J.D. du Plessis.
Hy skryf: ``Lourens Erasmus (Oupa Louw) is op 24 Oktober 1862 gebore en op 15 Desember 1949 oorlede. Hy l begrawe op die plaas Karreelaagte, Boshof.
`Oupa Louw was my grootvader aan moederskant en amper 37 jaar oud toe die oorlog uitbreek. Hy het soms as kampkommandant opgetree.
`Hy en sy broer Ben en 'n neef, Rabie, is krygsgevangene geneem op 26 November 1900 - krygsgevangene nr. 15844 - en na die kamp in Groenpunt in die Kaap gestuur. Hulle is daar aangekla dat hulle 'n spioen tereggestel het en is per trein teruggestuur na Kimberley om daar verhoor en gevonnis te word.

`Op die treinreis terug het hulle besluit om te ontsnap. Oupa Louw sou as aanvoerder optree. Hulle sou van die trein afspring sodra dit donker word en die trein stadig genoeg loop. Terwyl hulle in die gang gestaan het, het die Tommies wat hulle moes oppas, gesit en kaart speel.
`Op die regte oomblik het Oupa die wagwoord gegee: `Dit is 'n koue aand vanaand!' en hulle spring.
`Een van die wagte het op hulle afgestorm, maar Oupa het koelkop gebly en terwyl hy gespring het hom gegroet met: `Good night, sir!'

`Een van die drie het wydsbeen oor 'n doringdraad beland, maar tog daarin geslaag om betyds weg te kom. Hulle het tussen 'n klompie perde deur gehardloop en een het ges: `Kom ons vang elkeen 'n perd.'
`Maar Oupa het ges hulle moet hardloop, want as die trein sou stop en terugstoot, sou die Engelse soekligte aanskakel en op hulle skiet. Hoewel die trein gestop het, het hulle tog veilig weggekom.
`Dit was in die omgewing van Twee-Riviere waar hulle van die trein afgespring het, maar drie dae later het hulle aan die voet van 'n randjie gesit naby Koedoesrand, suidoos van Boshof.

`Hulle was moeg en honger en een was siek met 'n maagaandoening. In 'n plaashuis het hulle 'n bietjie boegoe-asyn gekry en gedrink, wat gehelp het.
`Oupa Louw het besluit om teen die randjie uit te stap en 'n bietjie verkenning te doen. Hy het 'n klip opgetel en gedink: `As ek nou 'n Tommie raakloop, gooi ek hom met die klip dood.'!
`Op daardie oomblik het iemand vir hom geskree: `Hands up!'

`Net toe hy wou gooi, het hy die persoon herken . . . dit was sy vooroorlogse buurman, Gert Brits!
`Oupa het uitgeroep: `My *&%$# Gert, is jy ook al onder die Engelse?'
`Nee, Louw,' het hy geantwoord, `ek het net nou die dag 'n Tommie uitgeskud.'

Hy was in 'n Engelse uniform geklee! Gert Brits het hulle vertel waar die Boerekommando was en hoe hulle moes loop om daar uit te kom. Hy het ook vir Oupa 'n perd gegee en ges: `Louw, dit is die lelikste perd op kommando, maar as die Engelse jou met hom vang, sal dit jou eie slegtigheid wees.'
'n Interessante manier van vervoer het toe begin. Een het met die perd vooruit gery, terwyl die ander twee te voet gevolg het. 'n Paar myl vorentoe het die ruiter die perd gespan en alleen vooruit gestap.
`Sodra die ander twee by die perd kom, het een weer verder gery tot by die een wat vooruit gestap het en weer die perd gespan, sodat die een wat agter aangekom het, weer kon ry.
`Hulle het uiteindelik die kommando veilig bereik en is nooit weer gevang nie.

`Hulle het ook 'n tweede perd aangetref op die plaas Karreelaagte van Oupa se skoonvader, Dawie Jacobs,. Die perd was gekniehalter en natgesweet en 'n saal en toom het in 'n skuur teen 'n muur gestaan, maar daar was geen teken van 'n ruiter nie.
`Miskien het hy in die bosse weggekruip.
`Nou kon twee ry en die derde het om die beurt agter op 'n perd saam gery. Oupa het later 'n wit perd raakgeloop en hom Witbooi genoem.
`Hy het die perd tot aan die einde van die oorlog gery.''

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte