Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Broeklose oom Varkie verrig `heldedaad'.

Eugéne Farrell skryf:
Oom Bertus was 'n aangetroude familielid en reeds 79 jaar oud toe ek as 'n jong man die storie uit sy eie mond gehoor het.
Hy was aan die begin van die oorlog in die Machadodorp-omgewing (Mpumalanga) op kommando. Een nag het die kommando van sowat 40 man in 'n kloof oornag.
Omdat 'n vermoede bestaan het dat Engelse soldate in die omgewing was, het die veldkornet wagte uitgesit.

Oom Bertus het sowat 100 m buite die kamp onder 'n boom waggestaan, of eerder waggesit.
Met sy rug teen die boomstam en sy geweer oor sy knieë het hy die nag stilte geniet en gekyk hoe mooi die sterre blink
Later het hy 'n natuurlike behoefte gekry en 'n entjie weggestap. Daar het hy sy broek laat sak en op sy hurke gaan sit. Terwyl hy nog so sit, hoor hy 'n snaakse snorkgeluid agter hom.

Versigtig het hy oor sy skouer gekyk. Toe sien hy twee groot wilde varke en drie kleintjies wat vir hom staan en kyk.
Hy wou stadig opstaan, maar toe storm die varkbeer.
Daar was darem nog vir oom Bertus kans om sy geweer op te raap en 'n skoot na die vark te skiet, maar dit was mis.
Toe hardloop hy met sy broek op die enkels, maar die broek het hom gepootjie en so in die hardloop het hy dit weggeskop.

Die skoot in die nag en die daaropvolgende geraas het die manne in die kamp wakker gemaak net betyds om te sien hoe oom Bertus net met sy hemp die kamp binnegestorm kom met 'n skreeuende trop verwoede varke op sy hakke. Terwyl oom Bertus deur die kamp nael, skreeu hy: ``Skiet manne! Skiet die varke vrek!''

'n Boer kan mos 'n noodsituasie hanteer en die kommando het daarna 'n goeie hoeveelheid vars varkvleis gehad.
Om hul dankbaarheid vir die vars vleis te betoon, het van die kommandolede oom Bertus in die donker na sy broek en geweer help soek.
Daardie nag het oom Bertus die bynaam ``Vark'' gekry. Tot op sy oudag het hy as ``oom Varkie'' bekend gestaan.
Hy het ná die oorlog na sy plaas teruggegaan, dit opgebou en ook ander bygekoop.
Hy is op 84 oorlede.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte