Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Britte `soos sardientjies in massagraf'.

ALTESAAM 30 lede van die Transvaalse polisiemag het tydens die slag van Driefontein 'n eed geneem om lord Roberts se mag te stuit - of te sneuwel. MNR. PEET ALBERTSE van Dealesville vertel in ons van dié verhaal wat hy by een van die slagoffers se kleinkinders gehoor het.

IN 1950 het my pa in Petrusburg klasse gegee en een van sy studente was 'n jong man, ene Rautenbach. Dié het ons vertel van sy oupa wat tydens die slag van Driefontein gesneuwel het. Volgens sy vertelling het 30 lede van die Transvaalse Polisiemag (ZARP) onderling 'n eed geneem om lord Roberts se mag te stuit - of te sneuwel. Hulle sou nie vlug nie en tot die laaste man hul stellings behou en veg. Dit het inderdaad - op een na - dan ook gebeur.

Hy het ons na die gevegsterrein geneem, ongeveer 18 km noord van Immigrant. Daar was (is) 'n gedenkteken met die name van die gesneuweldes. Agter die skanse het ons Mauser-doppies opgetel, asook die oopgebarste skerf van 'n Ledietbom. Die loodmerke op die klipskanse aan die noordweste-kant (van waar die vyand gekom het) was steeds duidelik sigbaar.

Die groepie Zarps het hulself goed in 'n kliprantjie verskans en die vyand ingewag. Die vyand het oor 'n oop terrein - ongeveer 3 km - nader gemarsjeer en toe hulle binne trefafstand was, het die polisiemanne begin vuur. Die vyand het hulle met bomme bestook, maar ondanks die geweldige oormag (duisende), het die manne hul stellings behou en aanhou veg. Slegs een het bly lewe en hy was swaar gewond. Die vyand het hom na hul veldhospitaal gebring en verpleeg. Hy het oorleef om die verhaal te vertel.

Die gesneuwelde Britte is aan die noordweste-kant in massagrafte begrawe. Hoeveel van hulle gesneuwel het, weet ek nie, dit was egter baie. Toe ons my oupa (Dirk Albertse) daarvan vertel, was hy reeds bewus daarvan. Hy was kort ná die slag daar en volgens hom was Roberts so haastig op pad Bloemfontein toe dat hulle die dooies nie eers behoorlik toegegooi het nie.
Op kmdt. Brand se bevel het oupa-hulle die grafte behoorlik met klippe toegestapel. Hy het gesê die Tommies was soos sardiens in die massagrafte gepak.

Ek was skaars 16 toe ons destyds die terrein besoek het - 50 jaar ná die slag. Onlangs het ek en my vriend Rudo Snyman dié slagveld weer besoek - ná nog 50 jaar! 'n Yslike geelslang het hom in die graf van kapt. Alexander Roland Eustace, wat ook daar gesneuwel het, tuisgemaak - die duiwel het my amper gepik!
Dit blyk dat, behalwe die Zarps, ook Vrystaters aan die betrokke geveg deelgeneem en gesneuwel het, vandaar die drie name wat agterna aan die suidekant van die gedenksteen aangebring is.
Aan die agterkant (suid) van die rantjie het iemand met wit verf die nommers 1 tot 6 op groot ysterklippe skuins bokant mekaar geverf.
Ek wonder wie dit was en of dit dalk was waar die laaste ses geneuwel het.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte