Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Waaghalsige Boer gefusilleer wat Roberts wou ontvoer.

Die waaghals lt. Hans Cordua (23) in sy ZAR infanterie-uniform. Hy is in Pretoria gefusilleer. Kapt. J.J. Naudé, dapper en skrander hoof van die Boere se spioenasiediens in Pretoria. Veldmaarskalk Frederick Sleigh Roberts nadat hy van sy perd geval en sy arm beseer het.

DIE eerste Boer wat in die Anglo-Boere Oorlog deur die Britse militêre ``verhoor'', ter dood veroordeel en gefusilleer is, was die 23-jarige Hans Cordua, wat 'n eeu gelede in Pretoria gevang is toe hy gepoog het om veldmaarskalk lord F.S. Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, te ontvoer sodat die Boere hom as gyselaar kon gebruik.

Cordua, 'n vrywilliger-stryder van Duitse herkoms, is soos talle ander geheime agente van die Boere deur verraaiers in eie geledere verklap. Hy is op 24 Augustus 1900 in die tuin van die Pretoriase tronk deur 'n vuurpeloton doodgeskiet en daar begrawe. Sy oorskot is later in die ou kerkhof in Kerkstraat-Wes, Pretoria, herbegrawe. Die inskripsie op sy eenvoudige grafsteen lui: ``Hans Cordua. Born 25 September 1876. Died 24 August 1900''.

In die merkwaardige boek van die Boere vrouespioen Johanna Brandt, Die Kappiekommando of Boere vroue in geheime diens, vertel sy hoe die geheime agente van die Boere onder kapt. J.J. Naudé in veral Pretoria kort-kort deur hul eie mense verraai is en dat verskeie deur die Britte gefusilleer is.

Een van die tergendste geheime van daardie tyd is steeds nie ontrafel nie: Wie in die geledere van die Boere se opperbevel het hul eie spioene aan die Britte verklap?

Sommige historici vermoed dat dit genl. Louis Botha of straks genl. J.C. Smuts kon wees, want ná die vredesluiting het albei meteoriese opgang in die politiek gemaak en is hulle byna as helde deur die Britte vereer. Die getuienis ontbreek egter dat hulle verraaiers was.

Die opspraakwekkende dog tragiese verhaal van Hans Cordua en sy sameswering om Roberts te ontvoer word vertel in Graham Jooste en Abrie Oosthuizen se boek So het hulle gesterf, 'n gedenkboek van teregstellings van Kaapse Rebelle en republikeinse burgers tydens die Anglo-Boere Oorlog 18991902, J.P. van der Walt Uitgewers (nou Lapa Uitgewers), Pretoria, 1998.

Cordua het drie jaar voor die uitbreek van die ABO na die ZAR ge¨mmigreer en het as luitenant tot die Staatsartillerie toegetree. Toe Roberts Pretoria in 1900 binnegeval het, het Cordua hom oorgegee en die neutraliteitseed afgelê. Daar word vermoed dat hy tot dié stap oorgegaan het omdat hy 'n Boere spioen was. Hy was inderdaad in kontak met die spioenasienetwerk in dié stad, want minstens honderd voormalige Transvaalse burgers en polisiemanne wat ná die Britse inval as nie-vegtendes in Pretoria gewoon het, is saam met Cordua in hegtenis geneem. Hulle is almal na Ceylon verban, maar Cordua het die hoogste tol in die tronktuin betaal.

Johanna Brand verwys in haar Kappiekommando na klopjagte deur die Britse soldate op die inwoners van Pretoria en die aankeer van 'n groot aantal mense, na wie sy as mede-spioene van die Geheime Kommissie verwys. Ook haar ouerhuis, die Hervormde gemeente se pastorie, Harmonie, in Avondale, is in klopjagte deur die Britse soldate deursoek.

Cordua is op 21 Augustus deur 'n militêre hof verhoor en weens die verbreking van die neutraliteitseed, die verbreking van paroolvoorwaardes en sameswering ter dood veroordeel. Die vonnis is drie dae later uitgevoer. Hy is geblinddoek op 'n stoel laat sit, maar op sy versoek nie vasgemaak nie.

In 'n laaste brief skryf hy dat hy regverdig verhoor is.

Cordua se plan was om 'n aantal geboue in die weste van Pretoria aan die brand te steek. Sy helpers sou hul gewapen versteek het in die omgewing van die woning waar Roberts tuisgegaan het.

In die geharwar wat die brand sou veroorsaak, moes hulle op die huis toesak en Roberts gevange neem. Hy sou dan uit die stad gesmokkel word en aan die Boere magte uitgelewer word.

Volgens oorlewering was genl. Louis Botha en van die ander generaals in die Boere se opperbevel bewus van dié plan, maar die dokumentêre bewyse ontbreek.

Cordua is (ook volgens ongestaafde oorlewering) glo deur 'n Spanjaard, ene Gano, in die sameswering gelei. Gano was 'n voormalige Britse geheime agent wat glo weens wangedrag ontslaan is.

Hy wou die sameswering aan die gang sit en Cordua dan verraai sodat sy naam by die Britte in ere herstel kon word. Hy het glo aan Cordua gesê hy is 'n Boere spioen in Britse diens. Hy het 'n Britse uniform en vrypas aan Cordua verskaf. Cordua was in hierdie uniform geklee toe die Britse militêre polisie hom gevange geneem het. Hy het 'n gebiedskaart in sy besit gehad waarop die hoofkwartier van die opperbevel aangedui was, asook 'n plan van die woning waar Robert tuisgegaan het.

Tydens sy verhoor het Cordua geen emosie getoon nie en hy het fier en regop sy vonnis aangehoor.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte