Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Vrouestryd in oorlogtyd.

In enige oorlog is dit die vroue, kinders, bejaardes en gestremdes wat juis vanweë hul weerloosheid die spit moet afbyt. Veral vroue moet 'n dubbele stryd om oorlewing voer, aangesien hulle ook die teiken van wellustige soldate is. Hierdie faktor is in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 in 'n hoë mate deur die Britse leër uitgebuit om die moreel van die Boere te breek en hulle tot oorgawe te dwing. Prof. Andries Raath het die veelvuldige stryd van die vrou in die ABO baie jare lank nagevors en nou in twee boekdele gepubliseer met die titel Die Boerevrou, 1899 -- 1902.

GROOT BRITTANJE het in die AngloBoereoorlog feitlik alle bepalings van die Haagse Konvensie oor beskaafde oorlogvoering oortree deur onder meer die manier waarop eiendom verniel en verwoes, burgerlikes aangeval en vermoor en vroue en kinders onsedelik aangerand en gemolesteer is. Dit het gebeur hoewel Brittanje 'n belangrike rol gespeel het om dié konvensie van 1899 te laat aanvaar.

Dit blyk uit die eerste deel van Die Boerevrou, 1899 -- 1902 deur prof. A.W.G. Raath, professor in staatsreg en regsfilosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hierdie deel, getitel Moederleed , bevat baie nuwe stof en tientalle duidelike foto's wat nog nooit in boekvorm verskyn het nie. Raath is al langer as tien jaar besig met die optekening van die lotgevalle van die Boerevroue en -kinders in die Anglo-Boereoorlog.

Hy grond sy beskrywings in Moederleed op die beëdigde verklarings wat die slagoffers van misdrywe tydens die oorlog afgelê het, asook op verklarings wat kort ná die oorlog ingesamel is.

Die skokkendste getuienis van oorlogswreedhede deur die Britse magte hou verband met die "blatante onsedelikheid van die Britse kolonnes en swart meelopers van die Engelse", skryf Raath. Britse soldate het soms jong meisies en swanger vroue probeer verkrag.

Dié vroue het hulle gewoonlik heldhaftig verset, en meermale het die aanranders die slegste daarvan afgekom. So het mev. Elizabeth Human van die plaas Landdrosmoeite tussen Theunissen en Galloway in die Vrystaat 'n Britse offisier doodgeskiet wat haar seksueel gemolesteer het. Sy en 'n swart plaaswerker het hom in die tuin begrawe.

Raath haal ook die beskrywing aan van 'n Duitse dokter, Wilhelm Vallentin, van hoe soldate by geleentheid 'n eie stelsel uitgewerk het om jong meisies tot geslagsomgang te dwing. "Ek het baie sulke meisies gesien wat in die ander tyd was. Die aanblik sal selfs 'n hart van klip laat smelt," skryf Vallentin. Hy skryf dat Britte talle Boerevroue en -meisies in die Vrystaat en Transvaal verkrag het -- selfs meisies van net tien jaar oud.

Raath wy 'n hoofstuk aan die ontberings van vlugtende vroue en kinders en aan vroue wat buite die konsentrasiekampe gevange gehou is, veral in tronke.

Dit was nie net vroue van die twee republieke nie, maar ook die Kaapkolonie en Natal. Op Aberdeen het 25 jong vroue op Nuwejaarsdag 1901 'n waatlemoenfees op die plaas van ene Frans Naudé, wie se twee seuns op kommando was, gehou.

Die vroue kon geen verlof van die Britse owerheid verkry om die byeenkoms te hou nie, maar het nietemin gegaan en 'n groepfoto van hulle laat neem.

Die Britse militêre het dit te wete gekom en hulle gelas om die foto's in te lewer. Twee het geweier: Martha Joubert en mev. A.S. van der Lith. Hulle is gevonnis tot een maand tronkstraf en daarna onbepaalde aanhouding in 'n konsentrasiekamp.

Ná 'n maand in die tronke van Aberdeen en Graaff-Reinet is hulle na Norvalspont gestuur. Martha Joubert het in haar gevangenskap patriotiese liedere geskryf oor onder meer die heldedade van genls. Christiaan de Wet en Koos de la Rey, asook van kmdt. Gideon Scheepers.

Raath behandel ook die aanhouding van 'n aantal vroue in Natal, die vroue-rebellekamp by die Moloporivier, in die Paarl, op Klerksdorp en in die Fort in Johannesburg.

Op Lichtenburg is 'n vrou in die kerk aangehou. Op Winburg moes 250 mense 'n paar weke lank op kwartrantsoen in 'n halfvoltooide kerkgebou bly. Hulle is daarna na 'n tronkkamp op die Winburgse skouterrein gebring.

In die Bloemfonteinse tronk is 'n vrou en 'n meisie gevange gehou oor 'n besondere gebeurtenis: 'n opstand teen die kampkommandant en hardvogtige kamppersoneel van die konsentrasiekamp van Brandfort.

Vroeg een oggend het 'n paar vroue deur die kamp gestap en die ander opgeroep om by die tent van die kampkommandant bymekaar te kom. Hulle het aan die kommandant gesê hulle sien nie kans om te leef van die "vrekvleis", akkerkoffie en vitrioel nie.

Ná vae gerusstellings deur die kommandant het mev. Bella Vivier en Miemie Els (15 jaar), aangetrek in die Vrystaatse kleure, na hul tente gestap. Die ander vroue het hulle in rye van vier gevolg terwyl hulle die Vrystaatse volkslied sing. Toe die kommandant gelas dat die kamppolisie Vivier en Els in hegtenis neem, het die honderde vroue aangestorm om hul vriendinne te beskerm.

Die polisiemanne moes hulle onttrek, maar in die middag het gewapende soldate die twee vroue in hegtenis geneem. Hulle was twee weke in die Bloemfonteinse tronk voordat hulle na die kamp teruggestuur is.

Een van die bekendste van die vroue in dié gevangenis was mev. Hendrina RabieVan der Merwe, wat in haar boek Onthou! later vertel het van haar aanhouding in die tronke van Jagersfontein, Bethulie en Bloemfontein. Een van Raath se hoofstukke handel oor die hulp en noodleniging aan die Boerevroue en -kinders deur Nederlandse, Duitse, Franse, Amerikaanse, Britse en Suid-Afrikaanse organisasies. Goedere wat ontvang is, kon die nood in die kampe in 'n mate verlig. Van Januarie tot Maart 1901 het die noodlenigingskomitee aan die Kaap 185 kiste met voorrade uit Nederland, 129 uit Engeland, 61 uit Swede, 37 uit Australië en vyf uit Amerika ontvang. Dit was alles egter nie naastenby genoeg nie.

'n Vrou wat 'n groot rol in die noodleniging gespeel het, is mev. Marie Koopmans de Wet van Kaapstad wat ook 'n groot rol gespeel het in die bewaring van die Kaapse natuurskoon, die Kasteel, kunswerke en historiese voorwerpe.

Elke week is talle verskeepte kiste by haar afgelaai sodat haar woning in Strandstraat, nou 'n museum, eerder na 'n pakhuis as 'n statige woning gelyk het.

Vroueleed bevat ook as bylae 'n artikel uit 'n internasionale regstydskrif deur proff. Raath en H.A. Strydom oor die Haagse Konvensie en die Anglo-Boereoorlog. Die skrywers ontleed daarin krities die twyfelagtige, immorele en juridies onhoudbare inslag van die redes wat Brittanje aangevoer het om die Haagse Konvensie te verontagsaam, asook Brittanje se blatante oorskryding van die bestaande, gevestigde internasionale regsgebruike.

Hulle wys ook die juridiese skuld uit van Brittanje se vergrype teen die internasionale regsreëls.

As redes vir sy nie-eerbiediging van die bepalings van dié konvensie het Brittanje steeds betoog dat die Zuid-Afrikaansche Republiek nie soewerein onafhanklik was nie, dat die Boererepublieke nie toegetree het tot die Haagse Konvensie nie en dat hulle ook nie onderdane in die internasionale verkeer van die "beskaafde" wêreld was nie.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte