Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Die verhoor van S.G. Vilonel.

Stephanus Johannes Vilonel was 'n prokureur van Senekal. Met die uitbreek van die oorlog is hy tot kommandant verkies. Dit blyk dat hy hom in verskeie veldslae onderskei het. Vilonel is egter as kommandant ontslaan omdat hy geweier het om gehoor te gee aan die instruksie om van sy waens ontslae te raak. Na afloop van die geveg te Biddulphsberg naby Senekal, is die posisie van kommandant egter weer aan Vilonel aangebied, maar hy het dit van die hand gewys.

Hy was naamlik van oordeel dat die oorlog vir die Boere verlore was. Vilonel het hierna sy wapen neergelê en gepoog om ander offisiere oor te haal om dieselfde te doen. Tydens dié poging is hy deur die Boere gevange geneem. Die aangeleentheid is hierna na 'n krygsraad verwys. Laasgenoemde krygsraad, te Slaapkrans, het besluit om die saak na die spesiale militêre geregshof die verwys. Hierdie hof het die aangeleentheid waarskynlik op 29 Junie 1900 13 te Reitz 14 aangehoor. Die saak is deur regter Hertzog, C.P. Brain en J.G. Luyt aangehoor. Na afloop van die verhoor is Vilonel aan hoogverraad skuldig bevind en tot vyf jaar 15 gevangenisstraf met harde arbeid gevonnis. In die uitspraak het Hertzog hom as volg oor die gedrag van Vilonel uitgelaat:

“Zoolang de geschiedenis van den Oranje Vrijstaat gelezen zou worden, zoolang zou de naam van SJ Vilonel een eeuwige schandvlek daarop blijven.” Hertzog het aan Vilonel te kenne gegee dat hy dankbaar moes wees dat hy so lig daarvan afgekom het. Vilonel het teen hierdie vonnis na die hooggeregshof geappelleer. Laasgenoemde appèl kon eers enkele dae later aangehoor word aangesien, soos Pienaar dit gestel het,“ owing to the nature of the subsequent military operations the Court had not found time to sit, hardly time to pause, in fact”.

Die appèl is op 11 Julie 1900 te Fouriesburg aangehoor. Dit is nie seker wat die status van hierdie hof was nie en wie as voorsittende beamptes diensgedoen het nie. Brink verklaar dat hierdie hof die “Vrystaatse Appèlhof” was. Wat die voorsittende beamptes betref, is bronne dit eens dat Hertzog wel 'n lid van hierdie hof was.

Die identiteit van die ander lede is egter onseker. Brink en Pienaar vermeld dat adv. F.R. Cronjé en adv. Hendrik Hugo onderskeidelik as waarnemende eerste en tweede strafregter benoem was en dat dit hierdie hof was wat die appèl van Vilonel aangehoor het. De Villiers, wat as aanklaer voor die hof verskyn het, vermeld weer dat Albert Roberts, 'n landdros van Bloemfontein, Hertzog bygestaan het. Laasgenoemde sou vreemd wees, aangesien Hertzog dan die saak in die eerste instansie sowel as op appèl aangehoor het.

Vilonel, wat self sy eie appèl waargeneem het, het aanvanklik aangevoer dat hy nie voldoende tyd gehad het om voor te berei vir die sitting van die hof nie. Hierop het die hof die appèl tot die volgende dag uitgestel. Op 12 Julie 1900 het Vilonel die hof versoek om die saak tot na afloop van die oorlog uit te stel sodat hy die dienste van 'n advokaat kon verkry. De Villiers het hierteen beswaar aangeteken. Laasgenoemde beswaar is deur die hof gehandhaaf. Na afloop van die appèl is die uitspraak en vonnis ook op appèl bekragtig.

Die saak van Vilonel bied 'n goeie oorsig oor die verloop van 'n saak van 'n strafregtelike aard gedurende die verloop van die oorlog. Die saak is aangehoor deur howe, wat wel jurisdiksie oor die aangeleentheid gehad het. Belangrik ook is dat die hooggeregshof van die OVS tydens die oorlog gebruik is om die appèl te finaliseer.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte