Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Van 'n verruklike piekniekplek tot ’n haglike konsentrasiekamp.

Voor die Anglo-Boereoorlog oorlog was Irene nie net die eerste spoorwegstasie tussen Pretoria en Johannesburg nie, maar veral bekend as 'n “verrukelijkste picnic-plaats”. Die beeld sou tydens die oorlog verander. Om die gees en infrastruktuur van die Boerekommando’s te breek het die Britte die verskroeide aarde beleid gevolg, waarvolgens die Boerehuise, plase, lande en vee vernietig is. Duisende vroue en kinders wat daardeur dakloos gelaat is, is in konsentrasiekampe geplaas. Irene kamp is in 1901 gevestig op die plaas Doornkloof en teen die einde van die oorlog was daar 5700 persone in die kamp.

Twee Afrikaners, Scholtz en Esselen was die eerste twee kampkommandante. Onder hulle leiding het die toestande in die kamp vinnig versleg. Weens siektes, blootstelling, swak voorsiening van lewensmiddele en onvoldoende mediese sorg het daar in Irene konsentrasiekamp het ongeveer 1200 mense gesterf, waarvan meer as duisend kinders onder 15 was. Op daardie stadium is selfs die vrywillige verpleegsters die kamp verbied. Eers nadat die inwoners uit desperaatheid vertoë tot die Britse bevelvoerders gerig het, word drie dames weer toegelaat om hulp te verleen, onder andere Henrietta Armstrong, een van die stigterslede van die SAVF. Alhoewel daar 'n gemiddeld van 540 siekes per dag was, het die kampowerheid bepaal daar mag op geen stadium meer as ses verpleegsters in die kamp wees nie.

Die kraal of strafplaas was 'n kaal veld en rotse omhein met doringdraad, waar vroue soms vir die hele dag sonder voedsel of water gelos is as hul straf omdat hulle “oproermakers” was, of bloot omdat hulle mans nog op kommando was. 'n Vrou wat gedurende Esselen se tyd daar opgesluit was moes die aand uitvind dat haar kind gedurende die dag gesterf het. Selfs die protes van die gemeenskap oor die martelingmetode het niks gehelp nie. Esselen het aan die Britse bevelvoerders gerapporteer dat hy verskeie male gebruik gemaak het van die strafkamp met veel sukses.

Rantsoene was ten alle tye onvoldoende. 'n Week se rantsoen het bestaan uit 7lb meel, 4oz sout, 6oz koffie en 12oz suiker. Kinders het die helfte daarvan gekry. Melk, vars groente, seep, kerse en toiletware was skaars en slegs voorsien wanneer die kampdokter dit as 'n “medical comfort” voorgeskryf het. Hierdie rantsoen verteenwoording ongeveer 29% van ‘n volwasse se kalorievereistes, en slegs 15% van die van 'n kind. Vleis was selde beskikbaar en die gesinne van vegtende kommando-lede het niks gekry nie.

By Balmoral-konsentrasiekamp is 400 mense binne ‘n jaar dood.

In die ysige Junie-koue brand daar elke jaar kerse op die grafte in die Balmoral konsentrasiekampkerkhof buite Bronkhorstspruit. Dié vlammetjies flikker ter herinnering aan die lewensverlies wat gevolg het op die afkondiging van Britse konsentrasiekampwetgewing op 16 Junie 1900.

Dié wetgewing, bekend as proklamasie vyf van 1900, is deur Lord Roberts in die Anglo-Boere-oorlog afgekondig. Daarvolgens moes die Britte, as deel van die verskroeide-aarde beleid, enige Boere wat weerstand bied se huise afbrand en hulle vroue en kinders as krygsgevangenes na kampe wegvoer. Op dié manier kon hulle die Boere weghou van die kos- en ander voorrade wat noodsaaklik was om met die stryd voort te gaan.

Meer as 30 tentekampe is teen die middel van 1900 geskep en teen die einde van daardie jaar was die meeste reeds werkend.

Dood
Die kampe was glo nie as uitwissingskampe bedoel nie, maar die vroue en kinders van aktiewe Boerekrygers het kleiner voedselporsies as die res ontvang. Die gebrek aan higiëne, swak dieët, verhongering en blootstelling aan swak weersomstandighede het die weg gebaan vir aansteeklike siektes soos disenterie, ingewandskoors en masels. Met die tekort aan mediese versorging het dié toestande gelei tot die dood van ’n kwart van die mense in die konsentrasiekampe.

Ongeveer 22 000 kinders jonger as 16 jaar, en 6 000 vroue is in dié kampe dood. Minstens vierhonderd van hulle het in die konsentrasiekamp in Balmoral gesterf, waarvan die talle kindergrafte vandag nog getuig. Die gemiddelde ouderdom van die kinders wat op die Balmoral gedenkplaat genoem word, is vier jaar.

Net ’n paar name van dié kinders lui as volg: die twee-maande-oue Anthony JL Barnard, die ses-maande-oue Helena Bekker, een-jaar-oue Maria Combrink, twee-maande oue Cornelius Duvenhage, vyf-maande-oue Johannes Jacobs en tweemaande-oue Elizabeth Van Rensburg. Baie van die baba’s is begrawe sonder dat hulle nog name gehad het en in hakies agter sekere name staan daar ‘ongedoop’, soos by die agt-dae-oue Hester Ferreira se naam.

Balmoral

Balmoral-kamp het relatief laat ontstaan, op 25 Julie 1901, en is ’n week later in gebruik geneem. Die kamp is geskep om die oorvloed mense vanaf die Middelburg en Belfast-kampe te huisves. Later het uitgehongerde mans wat in die Bronkhorstspruit-distrik in die veld oorleef het, ook by die kamp aangekom. Teen November 1901 het mans begin in kom van die Lydenburg en Baberton-distrikte en selfs so laat as 27 April 1902 het 125 mans en vrouens by dié kamp aangekom.

Balmoral-kamp was oorspronklik op die terrein van die ou militêre kamp, suid van die treinstasie. Die kamp was nie omhein nie, omdat die gebied beskerm is deur blokhuise.

Die tente het misvloere gehad en rommel het oral rondgelê. Daar was gereeld sandstorms en die hewige reënstorms het beteken dat stormwater dwarsdeur die tente gestroom het. In ’n stadium is tien tente omgewaai. Met ’n storm op 18 September 1901 het een van die drie hospitaaltente aan die brand geraak terwyl die nagverpleegster, Hester Vermeulen, na kinders in die tweede tent omgesien het. Die vuur is eers opgemerk toe die derde hospitaaltent omgewaai het. Vier kinders is in dié voorval dood.

Teen September 1901 was daar tien hospitaaltente met ’n 18-stuks personeel om na die pasiënte om te sien. Tog wou vrouens nie hulle kinders hospitaaltente toe stuur nie, omdat daar geen besoektye was nie. Die vrouens het ook in hulle eie tente geboorte geskenk en daar was menige septiese komplikasies ná die geboortes.

 Balmoral.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte