Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Leed van gevangenskap.

Die tragiese lot van ballingskap kan nie losgemaak word van die lyding van oorlog nie. Hoewel die Boere in oorsese krygsgevangekampe nie in groot getalle van honger en fisieke ontbering dood is nie, was die sielkundige lyding waaraan hulle onderwerp is, besonder erg.

WEGGERUK uit die bekende omgewing van hul slagveld-land, word die krygsgevangenes gedompel in omstandighede waarvan hulle voorheen beswaarlik 'n beeld sou kon vorm.

Die eens trotse, strydende Boer word verander in 'n onderdanige gevangene, en in die proses word hy geleidelik gestroop -- nie net van sy persoonlike besittings nie, maar ook van sy identiteit en in baie gevalle sy menswaardigheid.

Vir burger C.P. van Zyl was sy gevangeneming en die daaropvolgende staptog na die naaste dorp "een bittere dag, ja! Een galbittere dag, toen wy, als bandieten aangejaagd worden, zoo vuil en vervlaauwd, en met schaamte des aansgezicht. Onze dorpsgasten aanschouwen!"

Op pad na die dokke in Durban en Kaapstad, of na die plaaslike oorgangskampe te Groenpunt en Ladysmith, Natal, word die krygsgevangenes uitgejou, beledig en verneder deur sommige elemente van die plaaslike bevolking.

As krygsgevangenes kon hulle niks aan hul situasie doen nie. Dit het net daartoe bygedra om hul magteloosheid in hierdie wesensvreemde situasie by hulle in te skerp.

Die krygsgevangenes aan boord die skip Aurania moes al hul besittings op die dek neersit. Toe hulle weer daar kom om hul goed uit te ken, vind hulle dat die matrose en soldate dit geplunder het. Wat van waarde was, is eenvoudig gesteel, vertel M.J. Wolmarans in sy dagboek.

Reeds met die wegvoer na die kampe oorsee het die onsekerheid en spanning toegeneem. In Durban, byvoorbeeeld, is die krygsgevangenes na willekeur verdeel: "Die skeiding tussen ouers en kinders, broers en broers was bitter. Die vader was vir een skip bedoel en die seun vir 'n ander," vertel ds. A.P. Burger in sy dagboek.

Die eng noute van die skeepsruim was net 'n voorsmaak van dit wat op hulle gewag het. Gustav Preller verwoord dit so: "Daar in die skeepsruim woed 'n innerlike storm in die gemoed van die gevangene hom uit. Inwendig woel daar 'n onstuimigheid in die binneste, ontsettender as buite ooit kan wees. Maar wie lees dit van die moedeloos-onverskillige blikke, wat strak en ongevoelig -- lank op een ding rus, asof dit tam en moeg is vir alles; die pynlikste gedagtes deursomber die afgeleefde siele, en diep in die meeste van hulle sink daar galbitterheid af, die droesem van 'n onverdiende smaad, die besinksel van geduldig verduurde hoon, wat sigself vrugteloos sou verteer om die lang dae wat aanstaande was."

Die kryggevangenekampe was in onbekende landstreke geleŽ: IndiŽ, Ceylon (Sri Lanka), Bermuda en St. Helena. Daar moes die krygsgevangenes hulle aanpas by die vreemde omgewings, mense, tale en omstandighede. Die reŽls, militÍre dissipline en orde, die regulasies -- het die hele ervaring nog onnatuurliker en ongewoner gemaak.

Ongetwyfeld het die leefwyse baie van die krygsgevangenes wat nie aan so 'n intense gestruktureerdheid gewoond was nie, emosioneel ontwrig. Elke minuut van die dag is gereguleer -- van wanneer jy moes opstaan, gaan bad en gaan eet, tot wanneer jou tent se lampe gedoof moes word. Sondae se "program" het afwisseling in die dodelike geroetineerdheid van die kamplewe gebring met 'n kerkparade om 09:00.

H. Lampen stel dit onomwonde: "Zoo ziet ge, dat we geheel militiare behandeld worden en voor gewone soldaten is de behandeling niet slecht. Alleen maar, het soldaat zijn zelf is lastig, omdat we geen soldaten zijn."

Aangesien baie van die gevangenes voor die oorlog selfstandige boere was, was hulle daaraan gewoond om heer en meester van hul eie besluite te wees. Hul bewegingsvryheid is toe uit eie besluit bepaal. Nou bevind hulle hulself egter in 'n posisie waar hulle bevele ontvang wat gehoorsaam moes word. As hulle nie by die reŽls en regulasies gehou het nie, is die paar voorregte -- soos passe om die kamp vir uitstappies te verlaat -- hulle ontneem.

Volgens Dietlof van Warmelo is dit dus geen wonder nie dat die burgers, wat gewoond was aan 'n vry en onafhanklike lewe, baie swaar gekry het.

Die krygsgevangenes het nie geweet of hulle na afloop van die oorlog na Suid-Afrika sou kon terugkeer nie. Daaroor was dikwels baie onsekerheid. By geleentheid het kol. Jesser Coope, wat bevelvoerder van die krygsgevangenekamp in Diyatalawa was, dit se aan J.N. Brink gestel: "We have you in our hands now, and we need never let you go back again to South Africa." Die duur van die oorlog was vir die Boere-krygsgevangenes onvoorspelbaar, en dus het hierdie onsekerheid soos 'n verterende vuur aan hulle geknaag.

Jacob Teengs, wat op St. Helena aangehou is, verwoord dit so: "Als er nu niet gauw een einde aan komt, ten minste aan deze onzekere staat van zaken, ben ik bevreesd dat het op anderen ook een nadelige uitwerking zal hebben, want veelen hechten te veel waarde aan al het geruchten die er rondgaan."

Teengs merk verder op dat die gevangenskap inderdaad reeds 'n negatiewe uitwerking op die gemoed van die krygsgevangenes het, "want daar zijn er nu verscheidenen die hier van hun verstand zijn geraakt, het is dus te hoopen er spoedig een einde aan komen zal en we dit gebonden leven vaarwel kunnen zeggen."

H. de Graaf meld dat drie van die krygsgevangenes in Deadwoodkamp, St. Helena, "half kranksinnig" geraak het.

Die twee Boererepubliek was yl bevolk, met die gevolg dat die meeste van die mense op die plase in betreklike afsondering geleef het. Veral die plattelandse boere onder die krygsgevangenes was, afgesien van Nagmaal elke drie maande op die dorp, nie gewoond aan die samedromming van mense om hulle heen nie. Die lewe op kommando het hulle ook nie hierop voorberei nie, aangesien daar ook nog 'n mate van ongebondenheid was. Die ergste van die krygsgevangekampe was die gedwonge sosiale verkeer met mense van soveel uiteenlopende karakters en geaardhede.

Selfs die dorpsbewoners was gewoond aan 'n hoe mate van privaatheid. Hier word hulle nou saamgehok: van 60 man per hut tot 12 man per tent, sodat die privaatheid en begeerde stilte vir hulle opgehou het om te bestaan.

Die beknoptheid en die ingeperktheid het onvermydelik 'n negatiewe uitwerking op hulle gehad. Hoe langer die gevangenskap geduur het, hoe groter weersin het hulle getoon in die onnatuurlike lewe wat hulle moes ontbeer. Hulle was toenemend prikkelbaar en onverdraagsaam: "Daar gaan niet een dag om wat hier niet getwis wort nie en ook somskeer bekly", getuig J.J. Taljaard.

Ook H.H. van Niekerk skryf oor die toenemende spanning onder die burgers: "Voortdurend vinden we symptomen hier, symptomen daar, die bewijzen dat de een den ander niet verdragen, dat de eene groep de andere benydt of hindert. Wy zijn opgesloten. Ongevraagd voorsien wij een stad. Staat het wonen hier ons niet aan, dan kunne wij niet trekken naar ene andere stad. We kunnen niet eens verhuizen als kribberige menschen ons het leven willen verbitteren."

S.J. Burgers maak ook melding daarvan dat daar 'n verskeidenheid karakters in die kamp vasgekeer was van "overgodsdienstige en geheel ongodsdienstige, godlogenaars, dieven, vegters, eerszuchtige in tydelike en geestelike zaken."

Hugo van Niekerk meld dat daar doofstommes, kreupeles en die "niet by al hunne zinnen sijn" saam met hulle in die kamp was. Mense wat inderdaad nie eens een skoot in die oorlog afgevuur het nie en soms nie eens in staat was om op 'n perd te sit nie. "Ryken, armen, zindelyken en slordigen, van alle soorten uitgenome blinden, hebben wij."

Dan was daar nog altyd die onsekerheid oor die lotgevalle van hul gesinslede in Suid-Afrika. Die briewe wat hulle wel uit Suid-Afrika bereik het, is in sommige gevalle maande vantevore geskryf en verder nog streng gesensureer."Na vijf of zes maanden niets te hebben vernomen van vrouw en kinderen, is een brief, die melding maakt dat allen leven, wel zijn en nog voedsel hebben, van onschatbare waarde," skryf ds. A.F. Louw uit St. Helena aan die Kerkbode .

T. P. Brain, in Bermuda, teken op sy beurt die volgende in sy dagboek aan: "Still no letters that were promised this afternoon. Prisoners of war, of course, are not beings with longing for news from home."

Volgens Herman Scholtemijer het posdag in die kamp altyd meer leed en droefheid as vreugde gebring. Uit die konsentrasiekampe het berigte van ellende, siekte en dood ingestroom."

"Teen die namiddag", vertel hy verder, "sien ons orals in die kamp die manne eensaam en alleen loop en staan en sit -meestal met 'n konsentrasiekampbrief in die hand."

Nog erger as die slegte nuus is die briewe wat onafgelewer terugkom na die afsender. Hy verneem desperaat van die ander wat wel briewe ontvang het na nuus oor sy mense. "Nooit een dag was pos in die kamp afgelewer of daar was trane van smart of hartpyn, want siekte- en doodstyding uit die konsentrasiekampe was aan die orde van die dag."

Herdenking van gesinslede se verjaardae het 'n eiesoortige hartseer en hunkering gebring: Thomas Brain skryf: "This is Nan and Douglas' birthday -- the third in succession I have been away from them. How I wish I could be with you today. Seven thousand miles away. Thanks to this cursed war. Why should we suffer in consequence? Had we our own way, there would have been no war."

Die groot getalle borsspelde en ander geskenkies, wat met soveel liefde en teerheid gemaak is, verpersoonlik in 'n hoe mate die eindelose verlange van 'n jong man na 'n geliefde, en die smagting na die weersiens van 'n getroude man vir sy eggenote. Juis die maak van die voorwerpe na die beeltenis van dinge bekend aan hom, het aan die krygsgevangene 'n staan- en vastrapplek in sy ontwortelde lewe gegee.

Aangrypend is die beskrywing van die begrafnis van J.P. Pretorius, een van die laaste krygsgevangenes wat in IndiŽ begrawe is. Op die oggend van 11 September 1902, sterf Pretorius. Die burgers sou die volgende dag huis toe gaan. Vir hom was dit slegs beskore om te weet dat hulle op pad huis toe was. Hy het self so vurig daarna uitgesien, maar dit was hom nie beskore om die seereis mee te maak nie.

Sy mede-krygsgsvangenes se vreugde is deur sy dood gedemp. Daardie aand word hy begrawe.

I.J. Stoltz, wat die begrafnis bygewoon het, gee 'n aandoenlike beskrywing van hierdie eenvoudige plegtigheid: "'n Ouderling het die diens gelei, en die soldate het drie sarsies oor die graf geskiet. Daarna, met die ondergaan van die son, het twee beuelblasers -- een aan die hoofend en een aan die voetend van die graf -- die aandblaas ( reveille ) geblaas. Maar toe snik ons klomp mans soos ons huil, dit het 'n vreeslike indruk op ons gemaak toe die geklank van die beuel oor die klowe van die Hemelaai (Himalaja) se berge wegsterf."

(So jammer dat hulle weg gesterwe het van hulle geliefde land. As ons hulle bene kon herbegrawe as 'n ereplek in hulle regmatige land Zuid-Afrika.)

 

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte