Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Vroue en kinders vlug in bittere koue voor Britse magte.

Elria Wessels

OP 6 Junie 1901, 100 jaar gelede, het die Slag van Graspan naby Reitz plaasgevind. ELRIA WESSELS, hoofnavorser van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, vertel van die droewige ervaring toe vlugtende Boerekinders van die koue gehuil het.

OP 7 Mei 1901 begin genl.maj. E.L. Elliot met 3 234 man onder kol E.C. Bethune, lt.kol. H. de B. de Lisle en kol. W.H.M. Lowe met 'n veegbeweging van die basislyn Villiers-Frankfort-Tafelkop in die rigting van Vrede. Die hele operasie is in vyf fases verdeel.
Teen die tyd dat die vyfde fase in Junie aangebreek het, was Elliot onderweg na Kroonstad via Reitz en Lindley, ``a road which never failed to afford fighting'' volgens die skrywer van die amptelike Britse geskiedenis van die oorlog. Van 3 Junie het die Boere die bewegings van die kolonnes dopgehou en veral die agterhoede lastig geval.
Die Britte het verder ook las gehad van ``miles of flames urged across the grass by a following wind''.

Op Maandag 3 Junie het die inwoners van Frankfort, wat hoofsaaklik uit vroue en kinders bestaan het, berig ontvang dat die Britse kolonnes in aantog was. Hulle het inderhaas die dorp verlaat. Teen Woensdag het die vrouelaer aansienlik gegroei omdat 'n aantal Transvaalse vroue en kinders hulle by hulle aangesluit het.
Volgens ds. J.D. Kestell, wat die trek meegemaak het, was dit 'n droewige ervaring, veral in die nag as die kindertjies so gehuil en gekla het van die koue.
Om middernag het hulle twee uur lank halt geroep om die moeë osse te laat rus. Toe hulle weer begin trek, het hulle taamlik vinnig gevorder totdat 'n wa in die modder vasgeval het.

Dit was reeds amper lig voordat hulle die wa kon uittrek. Teen dagbreek was hulle by Concordia, plaas van Abraham Strauss.
Hier het hulle gehoor dat die Britse kolonnes in die rigting van Steildrif op pad was. Die Britte het reeds die aand van 5 Junie verneem dat 'n Boerekonvooi ongeveer 24 km van hulle af, van noord na suid, aan die trek was. Maj. J.F.R. Sladen van die East Yorkshires plus 100 man van die Mounted Infantry (Bedfordshires en Gordon Highlanders) en 100 South Australian Bushmen word gestuur om die konvooi voor te keer.

Die vroue het dadelik in die rigting van Reitz vertrek.
Kestell het so vinnig as wat sy muile kon, weggejaag, maar hy het gou besef dat hy nie kon ontvlug nie, want oral op die horison was ruiters. Hy was reeds sowat 2 km van die laer, wat intussen in die Britte se hande geval het, toe 'n klompie soldate hom inhaal en beveel om stil te hou. Hy gee oor, maar weier om op die soldaat se bevel die muile uit te span.
``I am your prisoner, not your servant,'' het hy die soldaat toegevoeg.
Toe die soldate dreig om hom te skiet, het hy bes gegee en saam met sy seun Charles die muile begin uitspan. Hierna is hulle na 'n kraal in die omgewing waar die vroue en die 43 burgers wat saam met die laer gevang is, was.

Terwyl Sladen 'n boodskapper na De Lisle stuur, het een van die Boere wat weggekom het, inderhaas gejaag na waar pres. M.T. Steyn en genls. Koos de la Rey en Christiaan de Wet saam met hul lyfwagte sowat 8 km verder met ontbyt besig was.
Hulle besluit om die vroue te gaan help. Steyn met 'n klein lyfwag bly agter terwyl onder andere oudgenl. Piet Fourie vertrek.
Volgende: De Wet se broer Piet en die National Scouts lei vermoedelik die Britse kolonne.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte