Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Ryswater ná kleilat-gooiery.

Jannie Wessels

Kinders in die Winburg-konsentrasiekamp het kleilat na die kis van 'n Britse offisier gegooi, wat die Kakies woedend gemaak het, vertel mnr Jannie Wessels.

Hy skryf: My pa, wat as jong seun in die kamp was, het my vertel hoe hulle op mekaar se skouers gestaan sodat hulle kan sien wat buite aangaan.

Op een geleentheid het hulle twee perde op die pad begraafplaas toe gesien wat 'n kanon trek met 'n kis daarop. Op die kis was 'n helmhoed en 'n swaard.

Die kinders het dadelik 'n kleilat-wedstryd aan die gang gesit om te sien wie die kis kon raakgooi. Een van hulle het die kis getref.

Die Engelse was verskriklik kwaad daaroor. Dit was blykbaar die stoet van 'n gesneuwelde Britse offisier.

Omdat die kampowerheid van mening was dat kleilatgooiery deur die senior geïnterneerdes verhoed kon word, was die straf vir almal voeding vir twee weke bestaande uitsluitlik uit ryswater.

Dié deel van die dorp waar die kamp was, het vandag nog die naam van Blikkiesdorp. Dit is 'n bekende feit dat die vroue en die kinders in die kamp van blikkieskos gelewe het. Ek het in my kinderjare hope geroeste blikkies teëgekom.

Aan die begin was daar min beperkings op die vrye beweging van die vroue en kinders in die kamp. Sommige het snags die kamp tydelik verlaat om aan die vryheidsvegters brood en beskuit te lewer.

Om dit te keer, het die Engelse 'n nuwe kamp behoorlik omring met sinkplaat aan die westekant van die dorp langs die pad begraafplaas toe en hier was daar 'n beperking op die in- en uitbeweeg van die geïnterneerdes.

Nadat die Engelse Winburg op 5 Mei 1900 beset het, het hulle weens die belang van die dorp op daardie tydstip dit nodig geag om fortifikasies op die rante om die dorp te bou.

Dit bestaan vandag nog in 'n vervalle toestand.

Een was duidelik vir die berging van plofstof en ammunisie en die ander vir skuiling in geval van aanvalle.

Van 1935 tot 1940 het ek baie geroeste doppies daarin sien lê.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte