Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


“Hoe kan dit Boere wees wat dit gedoen het?

Een van die interessante staaltjies wat Elria Wessels ophaal, is van die poets wat ’n paar jong Boere die hardekwas Britse bewaarders gebak het. Onder aanvoering van ’n terggees, ene Myndert, het hulle ongesiens ’n taamlik groot seilbootjie gebou. Hulle het ook ’n pop gemaak en daarvoor ou klere aangetrek. Op die rug en bors het hulle met rooi verf die naam “Chamberlain” (die Britse minister van oorlog) geskryf. Die pop is toe in die bootjie geplaas en een maanlignag te water gelaat.

Die vaartuig het gou koers gekies oopsee toe. Toe dit by die wagte verbyvaar, het hulle verdwaas uitgeroep: “Halt! Come back!”. Maar toe die “voortvlugtende Boer” nie gehoor wou gee nie, is skote op “hom” en die bootjie geskiet. ’n Patrollieboot het dit toe agternagesit.


Die poetsbakkers, wat alles ongesiens dopgehou het, het hulle verkneukel toe die bewaarders die “vlugteling” inhaal en arresteer. Die uitroepe van verbasing en verontwaardiging was te kostelik vir woorde.
Die kampowerheid het naarstig na die skuldiges gesoek, maar al wat Myndert gesê het toe hy ondervra is, was: “Hoe kan dit Boere wees wat dit gedoen het 'n Chamberlain is dan ’n Engelse naam.”

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte