Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Lootjie bepaal lot.

Abrie Oosthuizen

Die teregstelling van die Kaapse rebel Petrus Kloppert in Burgersdorp is bepaal deur die trek van lootjies.

Dié sonderlinge verhaal van die Anglo-Boereoorlog word vertel in die oorlogsherinneringe van Christiaan Kruger, 'n rebel wat saam met Kloppert op Steynsburg ter dood veroordeel is, maar begenadig en na Bermuda verban is.

'n Vlaag teregstellings van rebelle het gevolg kort op generaal Pieter Kritzinger se tweede inval in Kaapland op 19 Mei 1901. Vyf Kaapse rebelle is op 17 Junie 1901 op in Steynsburg ter dood veroordeel en drie op 24 Junie op Dordrecht om te dien as afskrikmiddel vir die uitbreiding van die opstand in Kaapland.

Die keuse van die rebelle wat tereggestel is, was uiters selektief. Ook die dorpe waarin hulle in die openbaar tereggestel is, is gekies om die grootste moontlike impak te hê op die gemeenskap waar die rebelle bedrywig was. Die rebelle wat op Steynsburg ter dood veroordeel is, was deel van kommandant GHP van Reenen se kommando wat op 7 Junie op Ruigtevlei laer opgeslaan het. Van Reenen wou Kritzinger nie vergesel op sy veldtog in die Stormberg nie en het op Ruigtevlei oorgestaan om sy kommando met vars perde toe te rus. Op die plaas het 'n paar rebelle van Burgersdorp hulle by die kommando kom aansluit.

Onder hulle was Petrus Kloppert wat reeds voorheen die wapen neergelê en die eed van neutraliteit afgelê het.

Hulle is gelas om in die nag vir hulle perde by 'n lojaalgesinde boer te gaan steel, dog die kommando se teenwoordigheid op Ruigtevlei is reeds deur die boer aan kolonel Wyndham van die 17th Lancers verraai.

In 'n nagtelike aanval op Van Reenen se laer het Jan Kruger, 'n teologiese student van Burgersdorp, en 'n Britse soldaat gesneuwel, terwyl 18 rebelle gevang is. Van Reenen en kaptein Botha het egter ontsnap.

Vyf van die 18 rebelle is op 17 Junie op Steynsburg ter dood veroordeel: Petrus Kloppert, Andries en Christiaan Kruger, CWC van Biljon en Stef Koekemoer. Die res is na die tronk in Tokaai gestuur. Vier van die veroordeeldes is begenadig en na Bermuda verban, maar Kloppert is op 24 Julie in Burgersdorp gehang.

Christiaan Kruger het ná sy terugkeer uit ballingskap na Argentinië uitgewyk. By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in sy oorlogsherinneringe sy sonderlinge verhaal vertel.

Voor sy vertrek na Argentinië het hy 'n Britse soldaat, ene Bell, ontmoet wat teenwoordig was met die teregstelling van die vyf Kaapse rebelle op Steynsburg.

Volgens Bell moes net een van die vyf tereggestel word om as voorbeeld vir die rebelle te dien. Lootjies is toe getrek en dit het op Kloppert geval. Kloppert is toe na Burgersdorp gebring om daar tereggestel te word as afskrikmiddel vir daardie rebelle-nes.

Kloppert het 'n maand lank in die tronk op Burgersdorp gesit terwyl hy elke dag die getimmer aan sy galg aangehoor het. Hy is in die openbaar op die plein voor die tronk tereggestel, terwyl die ongewenstes verplig is om die teregstelling by te woon.

Een van die ongewenstes, Jans Henning, wat saam met al sy seuns bo 16 jaar kennis gekry het om die teregstelling by te woon, beskryf die teregstelling so: "Toe hy die trappe na die galg begin opklim, het professor Lion-Cachet met 'n diep stem uitgeroep: 'Gena, o, God!"

Petrus het roerloos staan en kyk. Hy was bleek en verslae, maar het geen traan gestort en sy oë vir geen oomblik van ons af geneem nie. Toe die laksman die mussie oor sy kop trek, was die oë wat so na ons gestaar het, vir ewig toe. Toe die swaaideure oopgaan, het ons gesien hoe die tou met die dooie gewig onderaan heen en weer swaai".

Kloppert is eers in die ou begraafplaas van Hottentot-moordenaars begrawe, maar later herbegrawe in 'n massagraf vir burgers wat in die Burgersdorp-omgewing gesneuwel het. Sy naam verskyn bo-aan die lys name van gesneuwelde burgers op die gedenksteen in Burgersdorp se begraafplaas.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte