Hendrik J. van Eck.

IN die Slag van Fabersput op 30 Mei 1900 by Campbell naby Douglas is die Britte onder sir Charles Warren 'n harde slag toegedien toe die Boere hulle in die donker verras het en hulle moes hulle inderhaas sommer in hul lang onderbroeke verdedig, skryf mnr. Hendrik J. van Eck van Wildspan, Campbell, in sy boek Die verowering van Griekwaland-Wes Die Anglo-Boeroorlog-slag by Fabersput.

SIR CHARLES WARREN se plan was om die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier van Boererebelle te suiwer. Op 21 Mei het hulle Douglas beset en op 24 Mei 'n parade en magsvertoning gehou.
Warren het drie dae in Douglas gebly om sy aanval op Campbell te organiseer waar 'n saamtrek van Boere onder genl. Hartjie de Villiers was. Op 27 Mei is hulle uit Douglas na die plaas Vlakpan..
Hy het gemeen hy het nie genoeg voorrade nie. Hy stuur twee kompanies van Pagets Horse na Schmidsdrift om voorraad en versterkings te gaan haal, terwyl hy hulle inwag by Fabersput, 'n plaas met 'n goeie voorraad water.
Die Britte het al die ryk, rebelleboer Cornelius Faber se perde gekommandeer, behalwe vir 'n klein potsierlike een wat hy kon behou vir boodskappe en om die dokter te ontbied vir sy sieklike vrou.

Die soldate het hulle saals in sirkels neergelê en in die sirkels op die grond in die oop vlakte geslaap. Die perde was in twee krale tussen die tuin en die huis.
Die Britte het op gereelde patrollies uitgegaan om die teenwoordigheid en getalle van die Boere vas te stel. Op 28 Mei het sowat 400 Yeomanry omtrent 'n uur in die rigting van Campbell gemarsjeer. Toe die Boere hulle sien, het hulle op die Britte gevuur en al skietend weggejaag.
Intussen het Warren gesit en wag op die Pagets Horse om met sy voorrade terug te keer, sonder om sy soldate te verskans. In die nag van 29 Mei het Pagets Horse opgedaag met voorrade, ammunisie en voer, maar sonder versterkings. Die nag het Warren te min wagte uitgesit.
Genl. Petrus Jacobus de Villiers, bekend as ou Hartjie, hoofbevelvoerder van die Griekwaland-Wes-kommando's, het sy burgers uit Herbert, Hay, Postmasburg en Barkly-Wes by Campbell byeengebring en georganiseer. Die aand van 29 Mei 1900 het hulle te perd oos gery na Knoffelfontein op die hang van Ghaapse berg.
Die Boere hou krygsraad in die donker vroegoggend van 30 Mei. Daar is 170 man wat in 3 groepe verdeel. Hulle ry in pare agter mekaar en moes tussen die wagte deur. Kmdt. Casper Jan Hendrik Vorster met 60 man moes die kommando's van Hay en Barkly-Wes duskant die ou bywonershuis neem, waar Warren se hoofkwartier was. Daar moes hy wag, op 'n lae rand, en die teken, 'n geweerskoot, gee, vir die aanval om te begin.

Die stelling van genl. Piet de Villiers met 56 skerpskutters van Griekwastad en Campbell was in die vrugteboord en tuin.
Veldkornet. Petrus Johannes Venter van Postmasburg met die 54 burgers moes in die rigting van die Fabers se familiebegraafplaas en die delwershope aan die suidekant stelling inneem. 'n Britse wag te perd kom toe op hulle af en word beveel om stil te staan. Toe bars die geweerskote los.
Die slapende Britse is onverhoeds betrap in die donker. Daar is van drie kante af aangeval. Die Britte kon nie onderskei waar die skote vandaan kom nie. Wanorde het geheers.
Die Boere het op die Britse perdekrale gevuur totdat die vreesbevange perde die mure omgestoot en op loop gesit het. Sommige Boere kon tot op 'n gruishoop digby die krale kom.

Kol. Hughes, half geklee, het met 'n groepie van sy manne 'n heldhaftige poging aangewend om die perde te red. Die meeste het weggekom.
Party van die Boere uit die tuin kon kruip tot binne die kafhuis en stal en het tussen die planke van die toegespykerde vensters binne 30 treë op die slapende Pagets Horse gevuur.
Warren het gespekuleer dat Boere moontlik toegang tot die tuin kon verkry het onder die lawaai van die aankoms van die konvooi.
Die Britte was onder die indruk dat hul eie mense in die tuin was en het eers ná daglig uitgevind dat hulle uit die tuin aangeval word.
Die verwoedste aanval op die Britte het uit die tuin gekom waar die Boere geskuil het onder hoë turksvye.
De Villiers het volgens oorlewering 'n burger gevra waarom die man langs hom nie veg nie? Hy het hom 'n raps met die sambok gegee. ``Omdat hy dood is, generaal'', was die antwoord.

Vroeg in die geveg is Vorster se manne deur 'n aanval van die DEOVR in 'n oostelike rigting uitmekaar gedryf.
Venter se manne is deur 'n stormloop van kol. Crawley se Imperial Yeomanry by die hoek van die kraal, verdryf uit die delwershope en Faber-familiebegraafplaas.
Toe dit goed lig word, het die Britte met groter akkuraatheid begin skiet en die kanonvuur is bo-oor die Boere gerig na die Boere se perde.De Villiers, wie se manne baie swaar deurgeloop het in die tuin, het besef dat die Boere sonder hul perde hulle in 'n benarde posisie sou bevind. Hy het geen keuse gehad as om die gewondes en dooies agter te laat nie en so gou as moontlik by sy perde te kom.

Terwyl De Villiers deur die draadheining van die tuin klim, is hy tussen die bene gewond. Die bloed het van sy saal afgedrup. Die vlugtende Boere is deur die Britse kanonniers as hul eie mense aangesien en het tydelik opgehou met skiet.
Só is die Boere kans gegun om suidwaarts met die waterloop af, veilig weg te kom, met minstens 70 perde as buit. Die geveg het omtrent 1 uur lank geduur.
Die Boere het 14 gesneuweldes agtergelaat. Die getal gewondes is onbekend. 'n Boeregevangene, Frank Tesbie, het hom met sy geweer teëgesit en is by die agterdeur van Fabersput se huis met bajonette doodgesteek. Mnr, Hendrik Stefanus Faber het dit as sesjarige waargeneem.
Die Britte het baie ongevalle gely: 25 dooies en 37 gewondes. Sommige het later aan hul wonde beswyk.

In Warren se amptelike verslag probeer hy die ramp wat die Britte getref het, verdoesel deur voor te gee dat hulle voorbereid was. ``It is fortunate that our troops were not taken by surprise in this attack, as otherwise our losses would have been far greater. I have not been able to estimate the number that attacked us, but from general information they could not have been less than five to six hundred''

'As ek nou jy was, was dit mis'

GENL. HARTJIE DE VILLIERS in die Slag van Fabersput tussen die bene gewond. Hy is in Campbell verpleeg en volgens oorlewering sou 'n meisietjie vir hom gevra het waar hy raakgeskiet is. Sy antwoord was: ``As ek nou jy was, sou dit mis gewees het.''

Petrus Johannes de Villiers is ná die Slag van Belmont in November 1899 deur genl. Koos de la Rey tot generaal bevorder nadat hy hom as gedugte vegter onderskei het. Hy is in bevel van die Griekwaland-Wes-kommando geplaas.
Hy het almal as ``hartjie'' aangespreek en só sy bynaam gekry en nie omdat hy minsaam was nie. Hy was streng en het soms sy burgers met sy sambok bygekom as hulle ongehoorsaam was.