Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


17 - 23 Januarie 1900: Toekomstige wêreld leiers op slagveld.

Met die Anglo Boereoorlog is dit nou reeds middel-Januarie 1900. Meeste Boere is reeds meer as drie maande op kommando, en aan hulle kleredrag kan mens dit sien. Met die uitsondering van die artilleriekorpse en polisie dra die burgers nie uniforms nie. Vir hulle moet die klere net bruikbaar en prakties wees.

Sommige burgers trek deftig aan met kispak en onderbaadjie en kom selfs met helderkleurige das of strikdas na die oorlogsfront.

Dis veral die offisiere wat uitstaan. Al het hulle nie uniforms of rangtekens nie, kan mens hulle tot 'n mate van die gewone burgers onderskei word. Generaal DJE Erasmus en sy broer, kommandant SP Erasmus van Pretoria, is geklee in swart swaelstert-baadjies, en halfkyle, met lanfer op - 'n drag en hooftooisel van soveel Boere-offisiere dat dit feitlik as teken van rang beskou kan word. Generaal CF Beyers dra 'n manel, generaals Jan Smuts en Manie Maritz poseer in Springbok met wit boordjies en strikdasse vir 'n foto en generaal CH Muller dra gestyfde wit boordjies en borshemde.

Twee generaals wat baie soos die res van die burgers lyk, is De Wet en Botha.

Die swak administrasie van die krygskommissariate asook die slegte paaie en die opeenhoping van voorrade by die spoorlyne, sorg egter vir 'n treurige en sorgwekkende toestand. Die krygskommissariaat was glad nie voorbereid om die voorradeprobleme te hanteer nie.

Teen die middel van November 1899 was daar in Natal 'n geringe verbetering in die klerevoorsiening, maar teen middel Januarie het dit kritieke afmetings. Die klere waarmee die burgers op kommando vertrek het is verslete en geskeur en hul skoene opgedra vanweë die ruwe lewe in die veld.

Op die militêre front laai die spanning op. Dit is duidelik dat generaal Buller met 'n groot aanslag aan die bo-Tugela kom.

17 Januarie.

Nadat hulle die vorige aand die Tugela bereik het, steek generaal Warren en generaal-majoor Lyttelton se magte die Tugela op 17 Januarie by Trichardstsdrif en Potgietersdrif oor û nou is hulle aan dieselfde kant van die Tugelarivier as die Boere!

Sowat 4 000 burgers is in die heuwels teenoor hierdie driwwe ingegrawe - van Vaalkrans in die ooste verby Spioenkop tot by die Tabanyamarante in die weste. Een van generaal Botha se offisiere, generaal Tobias Smuts, telegrafeer op 17 Januarie aan generaal Joubert: "Wij zien de strijd met vertrouwen tegemoet, vertrouwende op ons goed recht en de afgebeden hulp van Boven. De strijd zal zwaar zijn maar wij zullen pal staan."

Botha laat die burgers in hulle stellings ingrawe.

Van sy leiding vertel Lodi Krause: "Die invloed van Louis Botha op die burgers is eenvoudig wonderlik. Die blote melding dat hy in beheer en aanwesig is, is genoeg om die burgers moed en vertroue te gee, maak nie saak hoe moedeloos hulle tevore was nie. Toe ons verneem dat hy die beheer by Spioenkop oorgeneem het, was dit 'n groot verligting."

Die middag van 18 Januarie raak kolonel Dundonald met 'n Boere-patrollie slaags naby Tabanyama, heeltemal in die weste, en amper in die rug van die Boere, maar generaal Warren roep hom die volgende dag terug. Winston Churchill, wat vyf weke gelede uit Pretoria ontsnap het, is een van die deelnemers aan die geveg. Hy is nou luitenant in die South African Light Horse en terselfdertyd weer oorlogskorrespondent.

Vroeg die oggend van 20 Januarie val generaal-majoor Woodgate en generaal Hart met hul brigades en 36 kanonne die 1 800 Boere en hul drie kanonne by Tabanyama aan. Maar die Britte word deur die volle geweld van die Boere-Mausers getref. Die Britse ongevalle is groot. Een van die baardraers wat gewondes en gesneuweldes van die slagveld wegdra is 'n jong Indiëradvokaat van Durban û Mohandas Gandhi. Hier aan die Natalse front is tegelyk aanwesig toekomstige wêreldleiers: Botha, Churchill en Gandhi.

Op 21 Januarie word die geveg by Tabanyama ongenadiglik voortgesit.

Sedert die 17de het Warren nog geen vordering gemaak nie. Nou dring Buller op resultate aan, anders onttrek hy Warren se mag terug oor die Tugela. Warren antwoord dat hy slegs kan deurbreek indien hy Spioenkop eers verower. "Of course you must take Spioenkop", reageer Buller. Sommer so, op die ingewing van die oomblik, besluit Buller en Warren om die kruin wat al die ander bergrante van die omgewing beheers, in besit te neem. Dit kan dalk net probleme vir die Britte oplewer.

Woodgate word aangewys om die aanval te lei. Die aand van 23 Januarie kom sy mag van 1 700 suid van Drieboomkop in beweging om Spioenkop te beset. Teen elf-uur die aand begin hulle een-een agter mekaar die suidwestelike uitloper van Spioenkop te klim.

Dit is 'n stikdonker, triestige nag.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte