Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Snaakse `swart room' vir Boere-`Nightingale'.

Trinette van den Berg skryf:

Ek deel met u 'n staaltjie uit die oorlog oor my ouma Catharina J. Smit (gebore Grobbelaar in Jamestown in 1862).
Aan die begin van die oorlog het my grootouers op die plaas Hoedklip, Molteno, gewoon. Oupa Jan het as rebel hom by 'n Vrystaatse kommando aangesluit. Ouma Katie en haar vier kinders het na die uitgebreide merino-boerdery omgesien.

Op 9 Desember 1899 het die voortvarende Britse generaal Gatacre sy rieme by Stormberg styfgeloop.
Hy het met 3 000 man deurnag gemarsjeer om teen dagbreek die Boere-stellings aan te val. Die Kakies het die nag só erg verdwaal dat hulle die Stormberg-stellings van die verkeerde kant af aangeval het. Dit was 'n volslae fiasko. Teen sonop het die mag na Molteno gevlug en 700 gevangenes, 100 dooies en baie meer gewondes agter gelaat.
By Contat-sylyn, 'n paar kilometer van Hoedklip af, is 'n tenthospitaal opgerig waar dié swaar gewondes verpleeg is. Ouma Katie is gekommandeer om vars melk aan die hospitaal te voorsien, wat sy daagliks met 'n perdekarretjie afgelewer het.

Haar hele lewe was gekenmerk deur liefde, deernis en welwillendheid wat sy mildelik met haar medemens gedeel het. Spoedig het sy ná die melkaflewering begin help met die verpleging van die ernstig gewonde Britse soldate, die meeste seuns van jonger as 20 jaar.
Eerlank was hulle ook deur dié sonderlinge vrou betower. Weens haar gebrekkige kennis van Engels kon sy nie juis gekommunikeer het nie, maar sy kon simpatiek na onthullings van doodsangs, pyn en verlangens luister. Sy het vir hulle gebid en saam met hulle gehuil.
Op 'n ysige laatwintersmiddag ná die melkaflewering en die rondte in die tente het 'n offisier vir Katie 'n koppie koffie aangebied voor die terugrit. (Contat en Hoedklip is digby Buffelsfontein waar die laagste temperature in Suid-Afrika aangeteken word.) So 'n luukse was nie te versmaai nie en sy het die aanbod gretig aanvaar.

Maar toe kom 'n verdere aanbod: ``Would you like some rum in your coffee?''
Naïef soos sy wat met haar haar karige kennis van Engels was, antwoord sy dat sy graag ``room'' in haar koffie wil hê. Sy was nogal verbaas dat die koffie dan swart gebly het; snaakse Engelse room . . .
Toe hulle haar 'n tweede koppie koffie aanbied, weer ``laced with rum'' om haar teen die koue te staal, het sy weer instemmend geknik. Toe sy die treppie moes bestyg, was sy ietwat lighoofdig en onvas op haar voete. Twee offisiere moes knipogend en glimlaggend hand bysit. Tot haar groot verleentheid het sy eers later uitgevind wat die ``Engelse room'' werklik was.

Al het die Engelse verseker geweet dat haar man 'n rebel was, het Hoedklip en sy mense gespaar gebly.
Ná die oorlog het Britse soldate portrette van hul huwelike, gesinne en veral nuwe babas aan Ouma Katie gestuur. Van dié pragtige foto's is nog in familiebesit.
Die Contat-kamp is later ontruim en die menasiebankies en -tafels is agtergelaat. Boere in die omgewing het hulself daaraan gehelp.
Op ons familieplaas gebruik ons steeds 'n Contat-tafel en -bankies as ons vleis braai.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte