'n STAALTJIE uit die Anglo-Boereoorlog wat steeds met groot smaak vertel word, is die een van ``Sybrand se kaiings''.

'n Klompie burgers van 'n Vrystaatse kommando het een aand afgesaal en begin aandete maak. Die hoofgereg was 'n speenvark wat hulle op 'n verlate plaas gevang het.
Die kêrels was honger en het eintlik hul lippe by voorbaat afgelek vir die heerlike gereg wat voorgelê het.
Hulle het die vark op die oewer van 'n rivier gebraai. Dit braaiery moes met groot omsigtigheid geskied.

Die vuur moes laag brand en in 'n noodsituasie gou geblus kon word. Dit was om te voorkom dat die Tommies die vuurgloed sien en hulle onverhoeds oorval.
Hoewel die vuur klein gehou is, is allerhande insekte deur die lig aangelok.
Hieronder was 'n verskeidenheid torre en besies wat in hul wilde vlug na die lig in die vuur op braaigeriewe geval het.
Onderwyl die Boere in die donker hul gebraaide varkvleis geniet het, het burger Sybrand laat hoor: ``Manne, julle moet hier langs die kante kom proe watter lekker bros kaiings hier is. Die southappies kraak eintlik in jou mond.''

Die manne het ook nie op hulle laat wag nie en het weggelê tot die laaste krieseltjie verorber is.
Die volgende oggend toe dit lig word, het van hulle tot hul ontsteltenis bemerk dat dit torre was waaraan hulle so lekker gesmul het.
Net daar is die torre tot ``Sybrand se kaiings'' herdoop. Hedendaagse Vrystaters ken die torre ook as ``Sybrand se kaiings''.

Oupa Giel Hattingh van Heilbron het hierdie staaltjie aan sy kinders en ander familielede vertel, wat dit om die beurt oorgelewer het.
Hattingh was 'n krygsgevangene op Ceylon (Sri Lanka).