Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Ouma is weg kamp toe sonder haar Fransie.

Greta von Abo skryf:

Bettie le Roux van die plaas Smytegeld, Kroonstad, het op 94-jarige ouderdom aan die kop van haar lang eetkamertafel, in volle beheer van die middagete, self vir my ingeskep uit die bloupatroon-opdienskotteltjies met deksels.
As agterkleindogter in my studentejare het geen kuiers verbygegaan sonder my vrae aan die gekrimpte figuurtjie oor die oorlog en die ou tyd nie. Wat hier volg, is een van haar staaltjies.

Die dag toe die Engelse hul familie na die konsentrasiekamp weggevat het, was haar oudste dogter, Esther, reeds getroud. Die oudste seuns, Petrus, Jan en Koos, was saam met hul pa, Koos le Roux, op kommando.
Klein Fransie was in die veld met die vee. Haar drie opgeskote dogtertjies, Bertha, Pollie en Ralie, en die babaseuntjie, Jurie, was by haar in die huis.
Die Engelse soldate en hul swart handlangers het die huis geplunder en ook 'n doodkis van die solder afgedra. Dié is daar gebêre deur Pietie, die ongetroude broer van haar man wat nie 'n vaste tuiste gehad het nie, maar as transportryer dikwels by sy twee broers in die Vrystaat gekuier.
(Hy was onafhanklik, bedagsaam en legendaries suinig, soos duidelik blyk uit die reuse boedel wat hy in 1928 agtergelaat het.)

Die Panamahoede van die dogters is ook ontdek en Ant Raal het later met humor so eie aan dié familie vertel hoe hulle kinders die Pandoere (swart soldate) op hul perde met dié wit hoede op hul koppe skrikgemaak het. (Die gebruiksterm Pandoere wys op die swart regeringsoldate wat onder meer in die Slagtersnek-opstand uitgestuur is.)
Die soldate wou nie gewag het dat Fransie uit die veld kom nie en Ouma is weg sonder haar kind.
Met dié onrus het die groepie die eerste nag onder blote hemel tussen die Geneva- en Holfontein-stasie deurgebring, waar die helder maan op klein Jurie se koppie geskyn het. Ouma het toe nog die ekstra bekommernis oor die gevolge daarvan op haar baba! Die gesinslede het later jare gereeld die onhebbelike Jurie vrolik gespot as ``maangetik''.
In die kamp in Kroonstad het Ouma só onder die kampowerheid gewoel dat hulle haar 'n skotskar en twee ou maer muile gegee het om haar vermiste kind te gaan opspoor.
Langs die pad het sy 'n Engelse patrollie teëgekom wat haar pas bevraagteken het. Die gevolg was dat sy eers baie myle in 'n ander koers moes trek om by 'n offisierskamp klaring te kry en dit met die ou twee maer muile.

Haar kind het sy darem veilig by bure gekry.
``En oom Pietie se doodkis, Ouma?''
``O, die doodkis? Daarop het die Engelse 'n vark geslag.''

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte