Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Boervrou gryp verraaier aan sy rooi baard en gooi hom in yskoue water.

Mev. M. Scholtz skryf:

My moeder, Maria Wilhelmina Neethling, het van die kamplewe in Bethulie vertel. Hulle het in Dewetsdorp gewoon. Daar het die Engelse hul huis gebombardeer, omdat hulle gedink het moeder steek Boere weg. My moeder-hulle het nie 'n skrapie oorgekom nie, hoewel een van die kliphuis se mure omgetuimel het.
Die Engelse het toe die huis geplunder en onder meer die huisorreltjie stukkend geslaan en koring wat in 'n kamer geberg was, uitgery en in 'n dam gegooi. Die Engelse soldaat in bevel het die laaste sak koring onder die bed ingeskop en gesê: ``Hier is niks meer nie.'' (Mag sy nageslag nooit honger ly nie.)
My moeder-hulle is na Bethulie-kamp vervoer, waar sy verpleeg het. Daar iewers was 'n plaat narsingblomme. In die uitgeteerde handjies van die kinderlykies het hulle die narsingblommetjies gesit.

My moeder het later altyd narsings geplant. Ek het haar eendag gesien met 'n narsingblom in haar hand en trane oor haar wange.
My ouma vertel daar was 'n ``handsopper'' wat by die wasplek die vroue altyd met 'n geweer in die hand wou gebied. Tant Annie, 'n fris Boervrou, het hom een koue wintersmôre ingewag. Toe hy weer sy mond oopmaak, het sy hom gestorm, haar vingers deur sy bos rooi baard gestrengel en hom in die yskoue water gestamp.

My pa vertel hulle het teen die Engelse ``football'' gespeel. Dan het hulle geskree: ``Skop hom dood.''
Dan skree die Engelse: ``Skiep hiem doet.''

Hulle het gedink hulle moedig die span aan! 'n Skot wat vir die Engelse gespeel het, het glo eendag sonder sy rokkie die veld verlaat.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte