Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Stroopblik vol goue ponde bly ongeskonde Britse soldate se perde is gereeld daaroor gejaag.

Mnr. C. Strauss skryf:

Met die uitbreek van die oorlog het my vader, Daviestet (na aanleiding van die Hollandse spelling David en uitgespreek Dawie) Strauss en sy broers op die plaas Annesdale, Wepener, geboer.
My oom J.J. Strauss (oom Dottie) het 'n klomp Krugerponde gehad wat hy wou wegsteek om ná die oorlog te gebruik.
Hy het 'n stroopblik, 'n groen en goud Lyle's Golden Syrup-blik wat daardie tyd vier pond inhoudsmaat gehad het, gevat, die geld daarin gesit en die deksel toe gesoldeer.

Op die plaas was 'n land, ongeveer 10 ha groot, wat met 'n klipmuur omring was. In dié land is koring geplant wat vir die plaasmense se broodmeel moes sorg. Oom Dottie het die blik met sy waardevolle inhoud in die klipmuur versteek. ('n Deel van die muur is vandag nog op die plaas te sien.)
Op die plaas aangekom ná die oorlog, was dit natuurlik die eerste ding waarna hy gaan soek het.
In aller yl het hy afgesit muur toe, maar o wee, toe hy nog 'n ent weg van die muur af was, kon hy reeds sien dat die deel waarin sy kosbare blik gebêre was, omgeval het!

Die Engelse het die land gedurende die oorlog gebruik om hul perde in te jaag as hulle 'n paar dae op die plaas oorgebly het.
As hulle die perde gaan water gee het, is die diere sommer oor die omgevalle muur gejaag.
Die gevolg is dat die klippe ál verder weggeskop is.
Oom Dottie se moed het in sy skoene gesak. Hy het gedink hy is sy geld kwyt.
Groot was sy verbasing egter toe hy nader stap en die blik geroes en vol duike geskop tussen die klippe sien lê.
Toe hy dit oopmaak, was al die kosbare Krugerponde steeds veilig in die blik.

'n Ander interessante staaltjie wat my vader vertel het, is dié van hul getroue hond van daardie tyd .
My moeder (en vermoedelik haar skoonsusters) het vir 'n tyd lank in die destydse Basoetoeland (vandag Lesotho) gaan skuil om die konsentrasiekampe vry te spring. Annesdale was sowat 5 ko m van die grens af.
Hulle het maar swaar gekry en het nie altyd genoeg gehad om te eet nie. Hul hond (sy naam het ek vergeet) het gereeld so min of meer twee keer per week na die Vrystaat-kant van die grens oorgedraf en ná 'n tyd met 'n haas in sy bek terug gedraf na hulle toe.
So het hul hond hulle gedurende maer oorlogsjare van vleis voorsien.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte