Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Huweliksliefde wat die oorlog nie kon blus nie.

Met twee pynlik verwonde bene skryf Freek uit 'n Engelse veldhospitaal aan sy geliefde vrou, Hessie: ``Ons is so ver van mekaar dat ek geen tyding kan kry wat my tog kan vertroos nie. Maar dit is God se wil dat dit so moet gebeur. Ek hoop dat God dit ook sal beskik dat ons mekaar weer op aarde sal sien - as God se wil egter anders is, dan in die hemel.''

En dan di ontboeseming: ``My liewe vrou, ek kan nie dink dat u soveel aan my kan dink soos ek aan u dink nie: Nooit sal ek u vergeet nie. Nooit hier op aarde . . . ja nooit . . . ja nooit . . . My dierbare eggenote, ja nooit kan ek u vergeet - ja nooit hier op aarde - ja nooit - ja nooit - ja nooit hier op aarde.''
Freek, wat weens die onbuigsame tradisies na onder andere sy ma genoem is, se volle name was Frederick Beatrix Pretorius. Toe hy op 2 Desember 1864 gebore is, was sy ma nog nie vernoem nie. Dit kon nie hor of laer nie, klein Freek moes Beatrix Magdalena Wilhelmina Barbara se eerste naam dra.
Pas nadat hy 18 geword het, trou Freek op 14 Mei 1883 met sy jeugliefde, Hester Maria Kle&ygrave;nhans - of Hessie.

As eenvoudige pionierboere vestig hulle hul n hul troue op die plaas Omgooidrift naby Sannaspost in die distrik Bloemfontein. Die kroos groei geleidelik aan. En elke keer nadat die vroedvrou 'n bevalling behartig het, versorg Freek sy Hessie met liefde.
As gewone gesin sou hulle hul bestaan in afsondering gesluit het as dit nie was vir die ingrypende gevolge wat die oorlog ook vir hulle sou inhou nie.
Freek was byna 35 jaar oud toe die oorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek. Sonder huiwering het hy hom by die Boeremagte aangesluit nadat hy die kindertjies onder Hessie se sorg op Omgooidrift agtergelaat het. Maar vir hom was aktiewe deelname aan die oorlog kort.

Op 25 November 1899 is hy onder die terugvallende Boere wat by Graspan, suid van Kimberley, voor lord Methuen moet wyk.
Freek het te perd saam met die Boere teruggeval toe 'n kanonskoot naby hom ontplof. Sy perd word onder hom dodelik getref. Sy twee bene is ernstig verwond en minstens een was gebreek. Toe hy met sy perd neerslaan, merk hy met ontsteltenis dat die voortvlugtende kommando hom agterlaat. Waarskynlik het sy mede-burgers gemeen hy was dodelik getref, of hulle kon hom in die lang gras nie vind nie.
Merkwaardig genoeg vind die verbytrekkende Britse soldate hom ook nie.
Op 'n repie koerantpapier skryf hy die volgende boodskap: ``My live vrouw - dag ik is gekwes en agtergelaten. Mag God u zegen. F.B. Pretorius.''
Met die bietjie kos en water in sy saalsak versorg hy homself drie dae. Met hewige bloedverlies, pynlike wonde en onder die Desemberson in die veld moes dit angswekkend gewees het.

N drie dae, op 27 November 1899, kom 'n sekere P.J. Joubert op hom af. Hy skryf op die agterkant van die stukkie koerantpapier: ``Word gefonden door m&ygrave;. P.J. Joubert.''
Joubert neem Freek na 'n Engelse veldhospitaal vir versorging. Hier in die hospitaaltent, waar 19 gewondes versorg is, begin Freek om elke dag 'n brief aan sy vrou in 'n klein sakdagboekie te skryf.
Die briefies wat gevul is met eenvoudige mededelings, vertel die roerende verhaal van opregte huweliksliefde wat wreed uitmekaar geruk is. Uit elkeen klink daar die ekstase van Salomo se woorde: ``Die liefde is sterker as die dood.'' Telkens begin die briefie met die aanhef: ``My liewe vrou.'' Die eerste briefie is op 29 November 1899 geskryf.
``Ek laat u weet hoe dit met my gaan. Ek is op 25/11 gewond op Graspan - het 3 dae daar gel - en is daarvandaan na `Groterrivierbrug' gebring. In my regterbeen is 2 koeels. Een koel stuur ek aan u - en ook my geldsak. Die been is pynlik. My linkerbeen (met 1 koel in) is swaar gewond. Die koel is nog binne.''
Die briewe is in die Hollands van daardie tyd geskryf. En weens die eie konstruksie wat die Boere aan Hollandse grammatika gegee het, die ongemaklike l-posisie waarin die briewe geskryf is, en die verswakking van die siervole handskrif wanneer Freek Pretorius se gesondheid versleg het, is die briewe nie oral heeltemal leesbaar en verstaanbaar nie.

Maar oor sy liefde vir Hessie bestaan geen onduidelikheid nie. Op sy verjaardag, 2 Desember, skryf hy: ``My verjaardag. Dag my liewe vrou.'' En n enkele mededelings vervolg hy: ``Ek stel my voor hoedat u sal huil as u die tyding sal kry dat ek gewond is.''
Op 3 Desember skryf hy : ``O my liefdste, met trane in my o skryf ek aan u die brief. Dink tog altyd aan my as ek u nie weer op aarde sien nie.''
Die volgende dag begin hy sy brief met: ``Aan my eggenote - nooit-vergete vrou.'' En op 5 Desember skryf hy: ``Ag my vrou dit is tog so swaar om so ver van u te wees. Jesus sal ons wel help. Ag as ek aan u dink met trane in my o - my hart huil van droefheid oor u en die kinders - ja, my hart huil van die bitter - my hart swem in trane oor u. Ja, ek bid om by u te wees.''
Deur al die briewe is daar die ondertoon van geweldige pyn en lyding. Die wonde het gloeiend ontsteek en Freek se koors het gevaarlik gestyg.
Hy gebruik woorde soos ``groot'', ``erg'' ``bitter'' en ``smartlik'' om die pyn te beskryf. Op 14 Desember skryf hy dat die dokter oorweeg om die been af te sit. En op 15 Desember skryf hy die been sweer baie erg.

Maar tussenin vind hy die krag om van sy liefde en verlange melding te maak. ``Ja my vrou, of u my sal vergeet of nie, maar ek sal nooit. Ag as ek u tog net kan sien. Ek verlang tog so daarna om u te sien dat ek dit nie kan beskryf nie. Nou sluit ek af met die pen, maar nooit met my verlangende hart.''
Hoe bewus word 'n mens nie van klein genadetjies wanneer jy lees van hul kosrantsoene nie. ``Suur brood en blou koffie is ons brekfis - vars vleis, vleissop en 2 aartappels is ons middagete - en in die aand tee en suurbrood.''
Op 21 Desember kry hulle elk drie appelkose om te eet. Sommige dae kry hulle 'n perske of twee, en dan weer groenertjiesop. En op Kersfees loop sy beker oor: ``Lemoenstroop en mosbeskuit en poeding en jem en net soveel lekkers as wat ons kan eet''.
Geen wonder nie dat hy ondanks hewige pyn eindig met:``Nou sal ek eindig met duisend soene . . .''
En so breek Nuwejaarsdag 1900 ook in die veldhospitaal aan. Getrou gaan Freek voort om aan sy ``liewe vrou'' te skryf. Op 3 Januarie eindig hy sy brief met: ``Nou sal ek eindig. Dag Hessi. Dag my vrou.''

Van 5 Januarie af kry Freek melk met brandewyn om hom op te bou. Maar dit is meer 'n troos as 'n werklike hulp. Hy bly uiters swak en die been bly geswel en pynlik.
Op 25 Januarie eindig die briefies roerend op die laaste bladsy van die boekie met die volgende inskrywing: ``Ag die verlange is groot my liefste. As ek net tyding van u kon kry sou dit my troos. God sal wel weet wat die beste vir ons is. Ek hoop en vertrou net op God dat ons weer bymekaar sal uitkom. Wat 'n plesier sal dit nie wees as ons weer kan ontmoet nie. Ja duisend komplimente van my, en duisend soene van my. Ja duisend komplimente van my, en met veel soene van my. Ek sal u hier op aarde nie vergeet. Ja nooit vergeet. Dag my vrou. U man. F.B.P.''
Tydens sy aanslag op die Bloemfonteinse waterwerke by Sannaspos, 28 km oos van Bloemfontein, het genl. C.R. de Wet een van sy roemryke oorwinnings behaal.
Omgooidrift, waar Hessie Pretorius en die kinders die boerdery probeer behartig het, was met die aanvanklike bombardement tussen die twee vyandelike magte. Ure lank het die geloei van bomme oor die huis, waarin hulle geskuil het, weerklink.

Van Julie 1900 af het die Britte met die konsentrasiekampe begin. Nadat die kamp in September 1900 in Bloemfontein opgerig is, is Hessie en die kinders daarheen geneem.
Freek, wat bevredigend herstel het, is as Britse krygsgevangene van die een na die ander plek gestuur - totdat hy vrygelaat en hy en Hessie herenig is. Hulle probeer hul verskeurde lewens op 'n verwoeste Omgooidrift herstel.
Later sou hulle gaan woon op 'n plaas met die simboolryke naam Vrede - en toe, tot die einde van hul lewe, op die plaas Uitkyk.
Wanneer ons die verhaal van onblusbare huweliksliefde tussen Freek en Hessie Pretorius uit die sakdagboekie rekonstrueer, hoor ons dikwels 'n ondertoon van: ``Die swaarkry het vir my te veel geword . . .'' Tog word dit telkens ferm opsy gedruk met 'n magtige geloofsgreep of 'n ontboesemende liefdesverklaring. Dit het Freek in staat gestel om saam met Hessie hul lewe weer uit die na-oorlogse as op te bou.

Daar was nie Landbank-lenings en kredietgeriewe nie. Die een moes help om die ander se laste te dra. Noodwendig moes soms vir mekaar borg geteken word. Freek het ook borg geteken. Dinge het skeefgeloop. Borge baar sorge.
Die swaarkry het vir hom te veel geword. Uit liefde vir Hessie sou hy nooit toelaat dat sy ook betrek word nie. Naby Uitkyk se huis het hy agter die jong boompies gaan hurk. Wat 'n oorlog nie kon doen nie, het borgstanery gedoen. Toe die lang loop van die 303 in posisie was, was Freek in volle beheer.
Die veld om hom was stil.
Toe knal die skoot.
Net een skoot..

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte