Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Penkoppe staan hul man.

Die kommando wette van die twee republieke in die Anglo-Boereoorlog het nie voorsiening gemaak vir seuns jonger as 16 jaar op kommando nie, hoewel jong seuns van die begin af op kommando was.
Die kommando wette het bepaal dat slegs mans tussen 16 en 60 dienspligtig was. Een van die moontlike verklarings vir die gebruik van die woord penkop vir dié jong klomp is dat dit ontleen is aan dieselfde benaming vir 'n bulkalf wat pas horings gekry het.

Reeds aan die begin van die oorlog was daar penkoppe jonger as 16 jaar op kommando. 'n Seun van 11 jaar in die Standerton-kommando het by Ladysmith die bewondering van Howard C. Hillegas, korrespondent van The New York World, afgedwing. Hy het oral agter sy pa aangedrentel, of dit nou na die stellings vir 'n geveg of na die fontein vir water was.
Toe hulle hom vra waarom hy op kommando is, het hy sy teenwoordigheid geregverdig met die opmerking dat as sy pa gewond word of sneuwel, hy sy wapen sou opneem.

Hillegas meld ook ander penkoppe wat hy ontmoet of waarvan hy gehoor het: Pieter J. Henning (15) wat by Magersfontein gewond is; Teunis H.C. Mulder wat sy 16de verjaardag gevier het 'n paar dae voordat hy by Ladysmith gewond is, Willem F. Joubert (15) wat by Modderspruit gewond is en Pietie de Jager (ook 15) wat in Februarie 1902 deur 'n bomskerf getref is toe hy sy gewonde pa van die slagveld verwyder het.

Roland Schikkerling, wat self nog as penkop geklassifiseer kon word, vertel van 'n 13-jarige seun wat hulle op 'n donkie en gewapen met 'n Martini-Henri teëgekom het. Toe hulle hom vra waarheen hy op pad is, kry hulle dié antwoord: ``Ek is Jooste. Ek gaan Engelse skiet.''

Van die seuns wat hulle by die kommando's aangesluit het, het van die huis af weggeloop om dit te doen. Van die ouer Boere het bedenkinge gehad oor die wenslikheid om sulke jong seuns op kommando toe te laat en het dit slegs aanvaar as dit onder die toesig van die betrokke penkop se pa was.
In die guerrilla fase het die getal penkoppe op kommando aansienlik toegeneem.
Dit was veral nadat die kommando's in hul eie distrikte begin opereer het dat jong seuns hulle by die kommando's waar hul pa's of ouer broers was, aangesluit het.

Op 2 November 1901 het pres. M.T. Steyn van die Vrystaat 'n proklamasie uitgevaardig dat seuns van 14 opgekommandeer kan word, mits hul liggaamsbou en gesondheid dit toelaat. Die beperking op 14 jaar het nie verhoed dat selfs seuns van tien jaar en jonger uit vrees dat hulle gevang word en oorsee na 'n krygsgevangenekamp gestuur sou word, hulle by kommando's aangesluit het nie.
Dit was veral die seuns wat ná die verwoesting van hul plase saam met hul ma's rondgeswerf het, wat die gevaar geloop het om gevang en weggestuur te word.

Agt- of tienjariges kon nie die swaar gewere van sowat 4 kg hanteer nie.
Hulle is dus gebruik om die slag- en trekvee of die perde op te pas, as boodskappers, om wag te staan en soms as verkenners.
Een van hul take was om kos te maak, wat hulle met gemengde welslae bemeester het. Vleis en pap wat die hoof geregte op die spyskaart was, het maar min uitdagings vir die jong kokke gebied.

Sout was veral skaars en so vertel die jong Schikkerling hoe hy by gebrek aan sout Engelse sout in sy vetkoek gebruik het - met uitsonderlike resultate!
Hulle het ook gehelp met die slag van vee. Daar was geen skaarste aan helpers vir dié taak nie aangesien die kans om beter stukke vleis in die hande te kry te aanloklik vir die altyd honger jong burgers was.
Baie penkoppe het hoogste tol betaal.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte