Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Politieke gevangenes vrygelaat tydens die Boereoorlog en daarna.

Die vrylating van politieke gevangenes om versoening te probeer bewerkstellig het reeds in Suid-Afrika sy inslag gevind onder president Paul Kruger en generaal Koos de la Rey.

President Paul Kruger, leier van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), het reeds in die vorige eeu probeer om versoening tussen die Afrikaners en sogenaamde Uitlanders te bewerkstellig deur ná die berugte en amateuragtige Jameson-inval van 1896 amnestie aan opstandelinge te verleen.

Dr Leander Starr Jameson, leier van die inval, en sy offisiere is ná hul inhegtenisneming op ''grootmoedige wyse'' deur president Kruger aan Brittanje uitgelewer terwyl hy amnestie verleen het aan alle opstandelinge in Johannesburg wat die omverwerping van sy regering beplan het.

Die 64 lede van die Reform Committee, wat agter die opstand gesit het, is wel in hegtenis geneem. Hul leiers, Lionel Phillips, John Hays Hammond, Frank Rhodes en George Farrar, is voor die hof gedaag, waar hulle skuldig beken het op aanklagte van hoogverraad.

Hulle is almal ter dood veroordeel.

Slegs sowat 24 uur later het president Kruger hulle begenadig en die vonnisse versag tot 'n boete.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het generaal Koos de la Rey, die held van Wes-Transvaal, 'n voorbeeld van verdraagsaamheid aan sy landgenote gestel deur die gewonde luitenant-generaal Lord Methuen ná die Slag van Tweebosch, op 7 Maart 1902, vry te laat.

Dit was die enigste keer in die driejarige oorlog dat die Boere daarin kon slaag om 'n Britse generaal aan te keer en dit terwyl die verskroeide aarde beleid met sy konsentrasiekampe en die afbrand van Boere wonings 'n hoogtepunt bereik het.

Generaal De la Rey was juis die man wat wraak teen dié beleid by sy mense sou kon aanwakker. Het die dag van vergelding nie nou aangebreek nie?

De la Rey was egter nie 'n man van vergelding nie. Hy het met Methuen gepraat en besluit om hom nie net vry te laat nie, maar ook te sorg dat hy na Klerksdorp gebring word waar hy behandeling kon ontvang.

Die meeste van De la Rey se offisiere en manskappe was glad nie hiervoor te vinde nie. Hy het onmiddellik 'n krygsraad belê toe hy van dié ontevredenheid te hore kom.

Hy het lank en hard met sy manne gepraat en dit duidelik gestel dat dit Christene nie betaam om wraak te neem nie. Daarom laat hy die man vry wat sy huis afgebrand en daarvoor gesorg het dat sy vrou in 'n wa voor die Britse invalsmag moet vlug.

Mev Nonnie de la Rey het selfs 'n geslagte hoender, met aanwysings hoe om dit gaar te maak, en beskuit as padkos vir Methuen se tog na Klerksdorp gestuur.

Wraakgedagtes was skaars twaalf jaar later weer aan die orde van die dag ná die Rebellie van 1914 waarin 190 rebelle en 132 soldate dood is.

Van die sowat 12 000 rebelle is slegs 281 voor die hof gedaag en ligte vonnisse opgelê. Voor die einde van 1916 is alle rebelle vrygelaat, hoewel dié gebaar van versoening maar min gehelp het om 'n einde te maak aan die bitterheid onder Afrikaanssprekendes.

Een van die ander leiers van die Rebellie, generaal Manie Maritz, het eers in 1924 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Hy sou slegs 'n paar maande hiervan uitdien voordat die Pakt-regering, waarvan generaal Kemp 'n lid was, hom vrygelaat het.

Transvaal is twee jaar voor die terugkeer van generaal Maritz in 'n tydperk van anargie en bloedvergieting gedompel toe die 1922-staking van blanke mynwerkers hand uit geruk het.

Polisiekantore is aangeval en werkers wat nie aan die staking wou deelneem nie, is aangerand en vermoor, terwyl onskuldiges, hoofsaaklik swart mense, sonder rede koelbloedig deur die stakers se kommando's plat geskiet is.

Altesame 43 soldate, 86 polisiemanne en 81 burgerlikes (onder wie 39 opstandelinge en 42 onskuldiges) is in die staking van 1922 dood. Sowat 500 mense is ook beseer in onrus wat deur die Regering met vliegtuie en kanonne onderdruk is.

Sowat 5 000 mense - onder wie 62 vroue en 4 kinders - is in hegtenis geneem. Van hulle is 1 000 voor die hof gedaag van wie 18 ter dood veroordeel is weens moord en hoogverraad. Slegs vier van die veroordeeldes - Carel Stassen, Taffy Long, Herbert Hull en David Lewis - is uiteindelik opgehang. Ander vonnisse het gewissel van 14 maande tot 10 jaar, maar 'n algemene amnestie het die tronkdeure laat oopswaai.

Skaars twintig jaar later, terwyl die Tweede Wêreldoorlog vir groot verdeeldheid onder die bevolking van Suid-Afrika gesorg het, was die regering van generaal Jan Smuts weer in 'n netelige posisie.

Verskeie Afrikaners wou die oorlog aangryp as 'n geleentheid om hul ideaal van 'n onafhanklike republiek te verwesenlik. Met dade van geweld en sabotasie is geprobeer om die oorlogspoging in die wiele te ry en 'n klimaat vir 'n staatsgreep te skep.

Nazi-gesindes - soos die berugte Robey Leibbrandt en sy Nasionaal- Sosialistiese rebelle - is in hegtenis geneem. Lede van die Ossewa- Brandwag, onder wie advokaat John Vorster, 'n latere premier van Suid-Afrika, is ook geïnterneer.

Leibbrandt is in 1943 in 'n vol Pretoriase Hooggeregshof weens hoogverraad ter dood veroordeel. Sy appèl teen dié vonnis het misluk, maar twee dae voor Kersfees is hy deur generaal Smuts begenadig.

Hy is later ná verskeie protes briewe en 'n eetstaking van 22 dae as politieke gevangene beskou.

Toe die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, is Leibbrandt en vyf van sy makkers vrygelaat. Veral Engelssprekende Suid-Afrikaners het heftig teen dié besluit te velde getrek.

Maar baie mense het ook teruggedink aan die woorde van Johannes van der Walt, die wêreldbekende stoeier en makker van Leibbrandt, wat in 1942 in die rug geskiet is toe hy vir die Polisie wou vlug. Hy is tien maande later, op 23 Maart 1943, in sy huis in Westdene, Johannesburg, op 34-jarige ouderdom dood.

Sy krete van pyn kon voor sy dood blokke ver van sy huis gehoor word.

Hy het egter volgehou dat sy familie die man moet vergewe wat dit aan hom gedoen het.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte