Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Boere spring met perde oor Tommies in 'n sloot.

Twee dapper Boere het in die Boereoorlog onverskrokke met hul perde oor 'n klomp Tommies in 'n sloot probeer spring om 'n rapport veilig by genl. Koos de la Rey te kry.
Mnr. J.D. du Plessis het dié merkwaardige verhaal oor Johannes Philippus (Jannie) Jacobs geskryf.

Oom Jannie is op 24 September 1870 en net voor sy 90ste verjaardag oorlede op 19 September 1960. Hy was van Koppie Alleen, Boshof, en was my ma se oom. Hy was 'n pragtige Christen - 'n nederige mens wat die gebod van die liefde uitgeleef het en iemand vir wie 'n mens maklik lief geword het.
Hy is in die geveg by Graspan gewond en moes duidelik besef het wat op hom kon wag toe hy hom die oggend van dié gebeurtenis waarvan ek hieronder vertel, saam met sy vriend en mede-rapportryer in die waagstuk begewe het. Sy maat was 'n Van Zyl - ongelukkig het ek nie meer besonderhede van hom nie.
'n Mens wonder of dit koue staalharde vasberadenheid was en of dit roekelose waaghalsigheid was? Tog het hulle hul besluit met dood veragtende waaghalsigheid uitgevoer. Dit het só gebeur:

Hulle was op 'n oggend iewers in die Suid-Vrystaat, naby Donkerpoort, met 'n rapport op pad na die kommando van genl. Koos de la Rey. Hulle het vooraf afgespreek dat as hulle met die rapport gevang word, waarvan elkeen 'n afskrif gehad het, hulle dit sou fyn kou.
Toe hulle die oggend aan die westekant van 'n steil randjie wakker word, moes hulle tot hul groot ontnugtering ontdek dat hulle aan hul suide- en westekant deur 'n klomp Tommies bedreig word en dat hulle vir seker gevang sou word as hulle nie vinnig 'n plan sou maak om uit die omsingelingsbeweging te ontsnap nie. Die Tommies aan hul westekant het reeds geprobeer om hul ontsnaproete na die noorde af te sny. 'n Paar honderd tree voor hulle het 'n diep spoelsloot verbygeloop en hulle het gelukkig opgemerk dat ook daarin Engelse was.
Wat moes hulle doen?

Hulle het besluit om op 'n stappie nader aan die sloot te ry en te maak of hulle nie van die vyand se teenwoordigheid in die sloot bewus was nie. Binne trefafstand sou hulle die perde met los teuels op volle vaart op die sloot afjaag en met die perde dwarsoor die sloot probeer spring . . . en dit het hulle gedoen.
Oom Jannie se perd het los oor die sloot gespring. Hy kon net voel hoe sy perd met sy een agterpoot 'n stuk van die wal aftrap . . maar hy het weggekom! Die gevaar was egter nie verby nie. 'n Paar Tommies het hom op hul perde agternagesit en hom probeer vang. Gelukkig was daar 'n klompie bome en hy het daartussen ingejaag, afgespring en terwyl hy dooierus oor 'n boomstam aangelê en korrel gevat het, het hy die voorste Tommie terwyl hy aangejaag gekom het bo van sy perd afgeskiet.
Die Tommie se perd het op volle vaart aangehardloop gekom, natuurlik sonder sy ruiter. Oom Jannie se perd het gerunnik en die swart perd het langs sy perd kom staan.
Die ander Tommies se moed het hulle begewe en hulle het omgevlieg en na die veiligheid van die sloot terug gevlug - onder Oom Jannie se dodelike geweervuur uit. Oom Jannie het die swart perd gevang en met altwee perde weggejaag. Watter lot het sy vriend Van Zyl getref?

Sy perd het met sy borskas teen die sloot se wal beland en homself morsdood gespring. Ruiter en perd het tussen die Tommies geval. Vriend Van Zyl het die rapport fyngekou en as beloning vir sy dapperheid het die spul Engelse hom gruwelik geskop. Hy is gevang en het die oorlog in 'n krygsgevangenekamp oorleef. Oom Jannie het sy rapport veilig afgelewer en boonop die Tommie se swart perd aan De La Rey vir 30 goue ponde verkoop.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte