Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Dié hansperd was 'n turksvy vir die Kakies.

Ek het die storie uit die Anglo-Boereoorlog oor My oupa en die Kakies by Pieter Kearney gekry, skryf Christo Dippenaar. Hier is Pieter se verhaal soos deur Christo vertel:

Gedurende die Anglo-Boereoorlog het my oupa Labuschagne in Heuningneskloof in die distrik Woodhouse gewoon. Hy het nie self aan die oorlog deelgeneem nie en het as plaasbestuurder vi
r 'n mnr. Van Heerden gewerk. Die Kakies het altyd as hulle op die plase kom, die perde wat gery kon word, opgekommandeer. My oupa het 'n ryperd gehad wat hulle hans grootgemaak het en wat net hy kon ry.

Op 'n dag kom die Kakies op die plaas en kommandeer dié perd wat daar op die werf rondloop. Die perd is gevang en opgesaal en aan 'n Tommie, wie se perd 'n paar dae vantevore doodgeskiet is, gegee. Die perd het toegelaat dat hulle 'n saal opsit en dat die Tommie opklim. Toe byt die perd die stang vas en laat nael kloof-af met die Tommie wat klou vir al wat hy werd is om bo te bly.

'n Entjie van die plaashuis af was daar 'n plaat turksvye en die perd het reguit daarheen gehardloop, die Tommie in die turksvybos gegooi en met die saal op sy rug weggehardloop. Hoe die Tommies ook al gesoek het, hulle kon die perd nie weer kry nie. Die arme Tommie was sy saal kwyt en moes toe maar voetslaan terug kamp toe met 'n seer lyf vol turksvydorings. Drie dae nadat die Kakies weg is, het die perd by die huis opgedaag met die saal nog op sy rug.

My oupa het daardie saal lank ná die oorlog nog gebruik en perd se kind is nooit weer opgekommandeer nie. Dit was asof die perd verstaan het wat aangaan en my oupa kon nooit uitvind hoe nie, want agterna was die Kakies weer op die plaas.
Dit is of die perd geweet het hulle kom, dan verdwyn hy totdat hulle weer weg is.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte