Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Geskiet was soos einde van die wreld.


Mnr. P S Cilliers van Garsfontein se pa, mnr. Paul Stephanus Cilliers, wat op 3 Oktober 1889 gebore en op 22 Februarie 1961 oorlede is, was met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog 'n tienjarige seun. Hy vertel hier van hul wedervaringe.

MY pa het my oupa Sarel Arnoldus Cilliers (1851-1927), 'n kleinseun van ou Voortrekker Sarel, op kommando vergesel. Hulle het veral in die Noordoos-Vrystaat opgetree.
Oupa het op die plaas Putfontein in die distrik Villiers geboer.
My pa het aan my vertel dat hy as jong seun baie op kommando ontbeer het. Afgesien daarvan dat dit oorlog was, was daar ook die blootstelling aan weersomstandighede. Winternagte in die Oos-Vrystaat was koud en in die somer het dit weer geren. Hy het vertel hoe hy snags sy saal gebruik het om vir hom 'n skerm te maak. In renweer het hy onder die saal probeer skuil.
Hy het ook vertel dat die Boere soms Kakies gevang het, maar omdat daar nie geriewe vir aanhouding was nie, moes die Kakies hul uniforms uittrek en die Boere het dit aan die brand gesteek. Dan is die Kakies net so kaal in die veld gelos.
My pa het my ook vertel van 'n slag vroeg in 1902 in die Vrystaat wat naby Vrede plaasgevind het. Hulle was omring deur naderende Kakies. Daar was baie Boere tussen blokhuislinies vasgekeer, asook etlike vroue, kinders en diere.

Van die vroue was daar met ossewaens waarmee hulle voor die Britse magte uitgevlug het.
Die kommando's het snags geprobeer om deur die linies te breek, maar daar is baie op hulle geskiet. Hulle het die nag om middernag saam met genl. De Wet en pres. Steyn deurgebreek na veiligheid. My pa s pres. Steyn se voertuig, iets soos 'n koets deur perde getrek, was die enigste vervoer op wiele wat kon deurbreek en wegkom.
My pa was toe 12 jaar oud. Vir hom het dit gevoel soos die einde van die wreld soos op hulle geskiet is - met beeste wat bulk en mense wat skree.
Pa en oupa het die oorlogsjare saam deurgebring en was gelukkig om nooit gevang te word nie. Twee van sy broers wat by ander kommando's was, is krygsgevangene geneem. Oom Johannes Marthinus Nicolas Cilliers, sewe jaar ouer as my pa, is in 1901 by Van Reenenskop gevang en na 'n kamp in Indi gestuur. Die ander broer, oom Sarel Arnoldus Cilliers, 12 jaar ouer as pa, is ook in 1901 naby Frankfort gevang en na Bermuda gestuur.
Die Kakies wou my oupa se opstal op Putfontein afbrand. Hulle het reeds van die huis inhoud in 'n kamer in die huis aan die brand gesteek toe 'n Boere-kommando opgedaag en die Kakies gevlug het. Die brand is geblus en die huis is gered. Daar was wel skade aan 'n balk wat die soldervloer gedra het. Dit het weens die brand reeds begin smeul. Die ou huis het 'n solder gehad met 'n groot hout leer aan die buitekant wat na die solderdeur gelei het. Soos vertel, het my oupa n die oorlog die balk met twee ysterstawe aan albei kante versterk.

N die oorlog het min mense geld gehad. Ek het as kind baie keer na die balk gaan kyk. 'n Stille getuienis van die Kakies se beleid van vernietiging!
Met die uitbreek van die ABO was my ma, Petronella Maria (ne Coetzer) (28 Mei 1892 - 5 Desember 1972), 'n meisie van sowat sewe jaar. In die oorlog het die Kakies haar en haar ma, broertjies en susters naby Heilbron langs die Kliprivier gevang.
Toe die Kakies hul plaashuis genader het, het my ouma hul klere en bietjie kos in lakens en komberse toegedraai en hulle het in die walle van die Kliprivier geskuil. Die Kakies het hulle egter opgespoor en toe te voet na Kroonstad aangeja soos diere. Daar is hulle in bees trokke gelaai en per trein na Oos-Londen gebring waar hulle naby Shelly Beach in 'n konsentrasiekamp aangehou is. Haar een sussie het daar gesterf.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte