Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Koloniale soldate laat spoor van verwoesting na.

'n Spoor van verwoesting is in die Boereoorlog agtergelaat deur die Koloniale soldate onder genl. Brabant in hul opmars deur die Stormberg en die Suid-Vrystaat.
Van Dordrecht tot in Wepener is eiendom en vee op talle plase van Boere wat op kommando was, gebuit of vernietig.

In Dordrecht is die tuishuise van rebelle geplunder en hul dorpsklere aan
die mense in die lokasie uitgedeel nadat daarmee in die strate geparadeer is.
Volgens dr. L.A.P.A. Munnik van Dordrecht was een van die eerste plase in die distrik wat geplunder is, sy oupagrootjie se plaas Bothashoek, 'n paar kilometer buite die dorp. L.A.P. Anderson (64) se vee insluitend oor die 200 perde is weggevoer.

Sommige daarvan is later in die Britse kampe by Sterkstroom gewaar.
Weens sy ouderdom kon Anderson nie op kommando gaan nie, maar omdat hy die rebelle gesteun het, is hy tot 'n jaar tronkstraf en 500 pond boete gevonnis.
Talle plase van rebelle op pad na Aliwal-Noord is geplunder toe die Boere by Labuschagnesnek gevlug het.
Pieter Roux skryf in sy oorlogherinnerings: ``Toe draai hulle (die Kolonialers) om en begin die plase te plunder en vee te buit. Daardie dag moes ek so sit en kyk dat hulle al my vee bymekaar maak en aanjaag saam met hulle.
"So het ons alles wat ons gehad het, verloor en tot vandag nog nie 'n pennie daarvan teruggekry nie om ons rebelle was.''

In Aliwal-Noord is die dorpshuis van kmdt. Gustav van Aardt geplunder en sy vrou, Ellie, haweloos gelaat.
Die gemeenskap het van haar meubels op 'n vendusie teruggekoop en vir haar geskenk.
Moetie De Wet skryf in haar dagboek dat die gemoedere onder die Boere hoog geloop het oor die plase wat so geplunder word.
Ook in die Vrystaat het die plundery tot in Wepener voortgegaan. Een berig het gelui dat 'n swerm sprinkane nie groter skade kon aangerig het nie.
Só erg het die gevoel teen die Kolonialers opgelaai dat genl. C.R. de Wet hulle as "verraaiers'' bestempel het en gesê het hulle dra die 'Kainsmerk.'' Dit het hom die strategiese flater in sy teenoffensief laat begaan om eerder Brabants Horse se soldate vir 14 dae by Wepener te gaan beleër pleks van om sy veldtog na die suide voort te sit en die brüe oor die Oranjerivier te beset.

Eenhede van Brabants Horse wat van Herschel af voorrade vir die soldate in Wepener geneem het, het opdrag gekry om strooptogte op die plase van Boere op kommando uit te voer. Hulle kon die beeste vir perde in Herschel en Basoetoland omruil en van die vee vir kontant tot eie voordeel verkoop.
Die vee is op 'n reuse-veiling in Lady Grey te koop aangebied. Meer as 100 beeste is selfs na Burgersdorp gebring om verkoop te word.
Op 'n soortgelyke veiling is 20 000 stuks kleinvee in opdrag van die militêre owerheid op die markplein van Aliwal-Noord sonder reserwe te koop aangebied. Uit dagboeke blyk dit dat van die skape vir so min as twee tot vyf sjielings stuk verkoop is.
Die veilings het kopers van oor die hele Stormberg en Suid-Vrystaat heen getrek. Veral lojaliste en Boere wat die wapen neergelê het, het hierby baat gevind.

Die res van 1900 was op militêre gebied stil in die Stormberg.
Die rebellie en Krygswet het ontsaglike verliese en ontbering meegebring vir rebelle wat in die tronk gesit of die stryd voortgesit het. Baie boere is geldelik geruïneer. Ná die oorlog was dit 'n algemene verskynsel dat tot ses bywonergesinne op gevestigde boere se plase 'n heenkome gevind het.
Met die aanvang van die guerrillastryd in die begin van 1901 is die inwoners van die Stormberg-distrikte geruk deur die uitbreiding van die guerrilla-oorlog na Kaapland. Dit sou nog groter lyding en ontbering meebring as met die eerste inval in die Stormberg.
Met die besetting van die Stormberg-distrikte deur die Engelse in Maart 1900, eindig dan die eerste reeks van ons Stormbergjoernaal.

 

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte