Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Pa sterf kort nadat seuntjie gebore is.


Die roerende verhaal van 'n jong pa, wat in die Slag van Sannaspos gesneuwel het is deur Mnr. H. la G. Odendaal skryf:
Wanneer 'n veldslag gewen word, word verwys na die taktiek van die bevelvoerder en hoeveel van die vyand gesneuwel het, maar min oor eie sterftes. Het ons al daaraan gedink hoeveel hartseer dit aan huisgenote bring?

Een van die gesneuweldes by Sannaspos was my ma se jongste broer, Gerhard Goossens. Hy het, dapper soos wat hy was, teen die einde van die slag tussen die Engelse ingestorm om hulle te ontwapen en te vang.
In dié deurmekaarspul is hy dodelik gewond.
Toe alles verby was, het twee vriende, Hans Boshoff en Barry Richter (genl. C.R. de Wet se dapper adjudant), by hom gaan sit om te kyk wat hulle vir hom kan doen. Gerhard het die wens uitgespreek dat hy op sy plaas by sy pa in die familiekerkhof begrawe wil wees.

Aan Richter het hy sy besittings toevertrou om dit aan sy vrou, Chrissie, wat saam met my ouma en ma op die plaas was, te bring. Boshoff het Gerhard se lyk op sy perd vasgebind en dit gebring na Driekoppan, Senekal, waar hy langs sy ouers begrawe is. Die familie het vir hom uit sandklip 'n sarkofaag laat kap, waarop uitgebeitel is:
Voor huis en haard, voor land en volk, voor vrijheid en voor recht. Rust Edele Dooden Gerhardus H. Goossens gebore 24 Maart 1876, Gesneuweld 31 Maart 1900 te Sannaspos Boere-Britse-oorlog.

Die tragiese is dat twee weke voor sy dood 'n seuntjie vir hom en sy vrou, Chrissie, gebore is. Gerhard het wel sy seuntjie gesien, want De Wet het nadat Bloemfontein geval het, sy burgers verlof gegee om te gaan besluit of hulle verder wil veg. Gerhard, troue burger wat hy was, het gegaan met die idee om die oorlog voort te sit en by Sannaspos, die eerste geveg ná die besluit, het hy sy lewe vir sy land gegee.

Richter het by die eersvolgende geleentheid na Senekal gery en aan Chrissie Gerhard se besittings gaan gee. Daartussen was 'n silwer rewolwer wat hy van 'n Engelsman geneem het. Dit is aan die Engelsman gegee vir 'n dapper daad in Indië.
Die handvatsel was van ivoor en daarop is in silwer beskryf waarvoor hy dit gekry het.
Ongelukkig het my ma die rewolwer in 'n put op die plaas gegooi toe die Engelse die huis deurgesoek het vir wapens en gedreig het om die huis aan die brand te steek as hulle daar wapens of Boere sou kry.
Ongelukkig kan my ma nie die plek uitwys waar die put was nie, want dit is oor groei deur 'n populierbos.

Hoewel Gerhard se dood veel hartseer veroorsaak het, is daar een stukkie blye nuus. Ná die oorlog is Richter met Chrissie getroud en hulle het vir Gerhard grootgemaak totdat hy oud genoeg was om op sy plaas te gaan boer. Hy is ongelukkig op 34 jaar oorlede.
Van Chrissie is in die Oorlog museum 'n mooi korset wat sy in die oorlog van skaapvel vir haar gemaak het. .

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte